Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
Krismisroos
(Hydrangeaceae)
As daar oorgewig is wat selfs aantreklik kan wees, dan vind 'n mens dit by die vrou in die krismisroos. Wanneer dit by vroulikheid en mensekennis kom, kan min ander haar oortref. Die soet en die suur van die lewe laat haar op verskillende verruklike wyses blom.
As deel van die klipbrekerfamilie {Saxifragaceae) groei meer as tagtig spesies van die krismisroos versprei in Noord- en Suid-Amerika en Asië. Dit is 'n geliefde kruid by die Cherokee Indiane. Hulle glo dit help vir rumatiek en klierprobleme en vir urologiese kwale. Die kleur van die blomme word bepaal deur die grond waarin hulle groei. Suur grond lewer blou blomme en soeter grond pienkes. Hulle hou nie van alkaliese grond nie.
Die krismisroos groei maklik van steggies en geniet water en grond wat goed dreineer. Sonlig stimuleer die blom-proses, maar te veel son beskadig die blomme. Die bekende outydse soorte {Hydrangea macrophylla en Hydrangea hortensis) het een tot twee meter groeiplek nodig. Die nuwe soorte maak kleiner bosse. Hydrangeas blom lank en aard goed in houers. Die blomkoppe bestaan uit 'n massa klein blommetjies omring deur sirkelvormige skutblare. Wanneer swaar blomkoppe gepluk word, moet die klein blommetjies oop wees, anders verlep hulle maklik. Dit is die moeitewerd om die blomstele 'n minuut of wat in kookwater te doop en daarna in diep koue water te dompel om die blomme langer te laat hou.
Daar is vele kultivars met welluidende name: Altona, Amethyst, Blue Prince, Carousel, Flambeau, Sensation, Emotion, Gloria en nog meer. Die Lacecap-tipe van Hydrangea macrophylla dra fyn trossies pienk, blou en wit blomme tussen die groter gewone blomme. Die Japannese Hydrangea petiolaris is !n ranker met geurige wit blomme. Hydrangea paniculata grandiflora dra langwerpige, keelvormige wit blomme wat tot dertig sentimeter lank kan word. Die Hydrangea quercifolia met sy eikevormige blare is bestand teen sonlig en dra oop trosse roomwit blomme wat later pers verkleur, In gunstige omstandighede maak min blomme op aarde so 'n sterk, asemrowende vertoning as die krismisroos.
Die vrou in die krismisroos dra altyd rokerige pastelkleure wat die kleur van haar oë laat wissel. Die manne kan met die beste bedoelings nie hulle oë van haar afhou nie. Sy besit die gawe om mense belangrik te laat voel, om 'n selfbeeld te verbeter. Haar kleedtafel staan vol porselein-figuurtjies en geblomde houers met geurige poeier en rome en snuisterye. Sy dra graag halssnoere en groot, swaaiende oorbelle. Haar Iang hare is foutloos gekap.
Die krismisroos is in haar element tussen haar vriendinne en vriende van wie sy baie het. Hulle sit graag onder die koel bome en gesels en teedrink en handwerk doen. Sy is 'n toegewyde en tevrede huisvrou wat selde buitenshuis werk. Haar huis is haar hele koninkryk, en liefdadigheid en boeke is haar stokperdjies. Haar heel beste vriende is diegene wat haar liefde vir boeke deel. Die leesgewoonte maak haar visie op die lewe wyer en maak van haar 'n goeie geselser. Die vreugde van "a house full of books and a garden full of flowers1' deel sy met Andrew Lang (1844-1912).
Sy het 'n groot hart en het deernis met al wat swaarkry of sukkel - sy dit weens dieremishandeling of armoede of siekte, hartseer of werkloosheid. Sy is gereed om by te staan en te help.
Die hydrangea trou nie jonk nie. Indien sy wel trou, is sy meermale kinderloos en wy sy haar toe aan ander se kinders. Sy is bekend vir haar liefde vir en slag met hulle. Kinders en jongmense kuier graag by haar vanweë die spesiale behandeling en belangstelling waarmee sy hulle tuis laat voel. Na liggaam en siel is sy 'n gesonde mens wat nie gepla is met komplekse en kwale, ipekonders en depressie nie. Moontlik is die geheim dat sy weet: uit boeke versamel 'n mens kennis, maar harde werk en geloof bring wysheid. En deur te snoei kom daar nuwe groei.
Met loof en blom rangskik die krismisroos haarself. Sy pas nie maklik aan in 'n gemengde rangskikking nie. Sy aard die beste tussen haar eie troetelgoeters. Haar boekery groei deur die jare heen sodat pakplek 'n probleem word. Van Africana tot ontspanningslektuur en letterkunde, van teologie tot medisyne en tuinbou, van die voël- en diereryk tot bome, die seelewe en sielkunde en geskiedenis, van ensiklopedieë tot woordeboeke groei die rye steeds aan. Op 'n dag besluit sy om beslis minder te maak. Een na die ander band word deurgeblaai en geëvalueer - en weer teruggesit "vir later". Sy kan haar nie losmaak van die stille vriendekring nie, al weet sy oor en oor: die letters kom uit die hand, maar iemand lei die verstand.
Dan lees sy uit die Boek van alle boeke, onthou sy haar klipbreker-voorgeslag... "Dink aan die rots waaruit julle gekap is, aan die klipgroef waaruit julle gegrawe is..." (Jesaja 51:1)