Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
Asalea
(Fam. Ericaceae)
As daar 'n blom is wat 'n mens helder oordag drome in kleur laat droom, is dit die asalea. Of dit in Oos-Transvaal of Pietermaritzburg of Pretoria is, asaleas in bloeityd laat 'n mens na die naaste kwekery toe haas om van die wonder-plante te koop... Om sukses met hulle te hê, is 'n ander storie.
'n Paar soorte asaleas groei wild in die bergagtige streke van Asië en die VSA. Die Noord-Amerikaanse spesies is bladwisselend terwyl die Indiese soorte {Azolea indica) immergroen is. Hulle hou van ryk veengrond wat sanderig is en floreer in streke met 'n hoë humiditeit, maar moet wegbly van vlak boomwortels wat hulle letterlik kan doodwurg en al hulle kos opneem.
Uit die Kurume-asaleas van Japan stam honderde soorte van die mooiste geharde struike. Hulle het 'n kleiner groeivorm en dra massas blomme in skakerings van pienk, pers, oranje en karmosynrooi. Die Kurume se voorsate het natuurlik gegroei in die vulkaniese grond van die Nishipiek van die berg Kirishima in Kurume. Heelwat van die godsdienstige Japannese se heilige plekke was in die berge geleë. Pelgrims het meermale 'n asaleawortel as aandenking uit die berge saamgebring. Op dié wyse is die Kurume-asaleas oor die hele Japan versprei. 'n Japannese kweker, Akashi, het sowat 'n dosyn plante versamel en name gegee, waarvoor hy 'n goue medalje ontvang het.
Asaleas hou van gefiltreerde skaduwee, het 'n vlak wotelstelsel en is meestal vry van insekteplae. Hulle word gewoonlik geënt en is ongeëwenaard as potplante. Waar die grond en die klimaat geskik is, blom hulle lank in klein tuine, op patio's en selfs binnenshuis. Die Mollis-asaleas, waaronder die Roster's Brilliant, blom verruklik in geel, oranje en nartjierooi.
Teenoor die klein soorte is daar die bladwisselende Azalea calendulacea wat tot bykans twee meter hoog kan word en vlammend rooi, oranje en koperkleurig blom. Ro-dodendrons en asaleas is byna dieselfde, behalwe dat ro-dodendrons veel groter plante is. Die naam kom van die Griekse rhodos wat "roos" beteken.
Iemand wat die asaleamens verstaan, is gelukkig. Die man wat haar kry, besit 'n skat waarvan die waarde in die Spreuke-digter se woorde "meer as korale/edelstene" is. Sy kan alles en nog meer wees as wat in Spreuke 31 staan. "Verstaan" beteken dat sy reg geplaas moet wees, aan die sy van 'n man in wie se koelte sy kan gedy. Is sy persoonlikheid te oorweldigend, kan sy ook wegkwyn, kan hy haar versmoor en oorgroei. Sy kan klein en petite wees, of van gemiddelde proporsies, of groot en geil kan sy selfs die son trotseer. Soms kan haar voornemens en stuwende geesdrif verskrompel wanneer sy teenkanting kry. Verstrooid moet sy dan twee, drie keer gaan kyk of 'n deur gesluit of 'n stoofplaat afgeskakel is.
Maar blom kan sy blom, aanhoudend blom. Almal wie se lewens sy in haar blomtyd aanraak, word vir haar lief. Sy sien klein en groot, ryk en arm raak. Sy is tuis in hoë geselskap en kniel by die kleinste kind, besoek 'n oue van dae wie se hele tuin uit 'n enkele plantjie op 'n vensterbank bestaan, vir wie 'n enkele besoeker 'n hele wêreld is.
Na maande van blomtyd in 'n buitenshuise betrekking kan sy met verlof onttrek by die besef dat haar eie persoon en huis 'n bietjie agtergeraak het. Die eerste paar dae vat sy paniekerig net hier en daar grond. Daarna begin sy doelgerig en sistematies werk: pak eers kaste reg. Vind dit op sigself 'n kuur teen dreigende depressie. Verwerk materiaal en bêregoed wat lank opgehoop het, verskuif meubels, keer deurmekaar laaie papier om, lê wat belangrik is in leers weg en vernietig die res.
Die spens, die ys- en vrieskas word reggepak en die deurmekaar resepteboeke word georden na 'n bak- en kook-sessie. Sy laat haar hare kort en netjies knip en voel kilo's ligter. Maak afsprake by die tandarts, die ginekoloog, die velarts en die oogarts. Net om seker te maak dat die tand van die tyd betyds besweer of dan behandel word.
Die patio en die tuin word uitgekyk en onder hande geneem: stowwerige plante word uitgeskuif - daar moet vereenvoudig word en 'n watertjie wat val word geïnstalleer. Die geluid laat haar ontspanne by 'n stoeptafel sit en lees of studeer, naaldwerk doen of sommer net droom tussen die palms en boomvarings en broodbome. Die tuin-hulp moet die hoop kompos omkeer en sif. Sy help eenkant om die humusgeur wat groei en lewe adem, te ervaar.
Met huis en haard en hart en siel georden en kalm, gaan sy opnuut op in haar "werk" wat nie by die huis "sit" is nie.
'n Asalea wat kwyn is 'n droewige gesig. Die blare verbleek in grond en water wat te alkalies is. Sy het die suur in die lewe nodig om te kan blom. Daar is asaleas wat nooit
blom nie, wat alleen deur die lewe gaan, wat nie trou of kinders het nie, wat nie blom- en aftye ken nie, wat gewoon nie groei nie en staties die enerse dae deur bestaan en verstok. Dit kan veel erger wees as om jonk in die hoog-bloeityd deur die hael platgeslaan te word.
Of sy blom en gedy en of sy verpot en blomloos bestaan, die asalea is taai en klou aan die lewe. Hoewel haar naam matigheid en soberheid beteken, kan sy 'n komplekse wese met 'n mistieke Oosterse streep wees. Sy kan sprankelend of neerdrukkend ervaar word - dit hang net af van waar die vulkaan van die lewe haar laat beland.