Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
Frangipani
(Plumeria - Fam. Apocynaceae)
'n Frangipani hoort naby die huis, knus teen 'n muur of by 'n stoep van waar die blomme se geur deur 'n oop venster kan sweef. Hulle vra ook om geskilder te word terwyl Mozart-musiek die lug vul - oorbekend, maar nie onbemind nie.
Die subtropiese Amerikaanse struik of klein boom met die geurige blomme, melkerige, giftige sap en eenvoudige gladde blare, is vernoem na 'n Italiaanse edelman, die markies Muzio Frangipani van Rome, wat in die sestiende eeu 'n parfuum uitgevind het om handskoene te geur! 'n Lekkerny wat bestaan uit ronde stukke tertdeeg wat gevul is met 'n vlavulsel wat amandels bevat, word ook 'n frangipani genoem.
Die plant aard goed in 'n warm klimaat en die bekendste een is acutifolia met die ryk geel wat diep uit die kelk die wit kroonblare invloei. Die apricot is appelkooskleurig, die lutea geel tot rooskleurig, die rosea helderpienk en die tricolor wit en geel met pienk randjies. Die plant is ook bekend as die Indiese jasmyn of die tempelboom. In gunstige omstandighede is die boom oortrek met reëlmatige, vyfpuntige blomme wat in trosse gedra word. Die Australiese frangipani [Hymenosphorurn flauum) is immergroen met roomgeel, geurige blomme en groei aan die kus of in warmer klimaatstreke.
Die frangipani groei maklik vier tot nege meter hoog maar vervuil nooit. Af en toe vorm langwerpige saadhouers, maar 'n mens breek eenvoudig 'n lit van die boom af, druk dit in die grond en na 'n seisoen of twee blom hy. Die boom is bladwisselend en die kaal stamme gooi in die winter groteske skaduweepatrone teen 'n muur of oor plaveisel.
Die vrou in die frangipani is 'n tuisteskepper wat lief is om haar huis netjies en geurig te hou. In die koelte van die middag sit sy op die stoep en naaldwerk doen of brei terwyl haar span seuns naby haar tuiswerk doen. Die kleuters speel die blomme van die frangipani wat op die stoep val, is hulle helikopters.
Juis omdat sy self nie dogters het nie, is haar besondere liefhebbery die maak van porseleinpoppe en die inrig van pophuise met miniatuurtoebehore: van 'n klavier tot 'n horlosie tot 'n muis. Van kop tot tone rus sy die poppe met die fynste klere uit: van kappies tot kousies. In al die groottes van lewensgroot tot duimpieklein lê en sit hulle grootmensharte vol. Hulle is net te duur om deur kinderhandjies rondgesleep te word; hulle is duursame erfstukke. En algaande herinner die vrou se gelaat 'n mens aan een van haar poppe.:
Die frangipanimens kan uithou. Sy kan nagdeur by 'n sieke waak en aan die einde van 48 uur nog vars lyk en helder dink. En praat van goedhartig! Vra van haar net een klein guns en jy word oorweldig met arms vol van die beste wat sy kan bied. Maar hoe gevoelig is sy vir atmosfeer! In koue en kilte aard sy glad nie. Maar haar bruin oë met die goue harte glim vyfpuntig wanneer sy gelukkig is en bring die beste in ander na vore. Haar vel is ivoorwit en sy hou van 'n kenmerkende, fyn parfuum.
Wanneer daar 'n trouery in die lug is, floreer sy. Sy ontwerp en maak romantiese bruidsgewade en wasige sluiers. Haar droomoë laat die bruide gesigte sien van Suidsee-eilande en meisies met ritse frangipani om hulle nekke, heupswaaiend op die maat van die Hawaise kitare.
Sy geniet die drukte en doenigheid voor, tydens en na die plegtigheid. Sy neem "haar bruid" onder haar vleuels vanaf die eerste onderhoud oor die uitrusting, gee raad en sorg dat die bruid vooraf genoeg rus inkry, sorg vir die diëet, die glimmende hare, die grimering en die fynere afronding tot by die etiket rondom 'n huweliksbevestiging. En sy glo in massas blomme, vars blomme wat lank hou en hulle geur wyd versprei - in die huis, deur die kerkgebou, by die onthaal en in die herinneringe. En wanneer die troumars die stil oomblik jubelend breek, oorhandig sy met vietse fyntrap die bruid aan haar vader, kyk haar met onpeilbare oë agterna wanneer sy die laaste tree as juffrou So-en-so na haar bruidegom toe loop.
Sonder die suiwer siel van die frangipani sou die wêreld van die vrou (en die man) veel armer gewees het. In haar bedrieglike eenvoud skuil 'n diepte wat nie altyd gepeil kan word nie. Wanneer sy 'n mens aanraak, ervaar jy die terapeutiese waarde van die nie-erotiese drukkie. Haar opregte meelewing maak die mense om haar gelukkig en bied 'n skuilte aan 'n onsekere siel deur die storms gejaag. Sy is oop en vriendelik sonder om familiêr aan te doen. Haar vriendskap is durend en verwelk nie maklik nie, want sy wil nooit alleen wees nie en floreer tussen mense. Sy weet: om vriende te hê, moet 'n mens ook een wees.
Sy skiet maklik wortel. Glo in die Skepper van die aarde wat haar dra, in sy son en wind en water. Haar seuns kom gou reg wanneer hulle elders ingeplant word, hoewel sy met die wegbreek vele trane huil. Sy weet onwrikbaar dat hulle gaan oorleef, gaan groei en bloei en 'n aangename geur gaan versprei - die geur van lewe en van diens.