Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
Bougainvillea
(Fam. Nyctaginaceae)
As blomme 'n waterval in kleur kon voorstel, sou dit die bougainvillea wees wat oor rotse, mure, pergolas, boë en heinings in al die sonkleure stort. Reis 'n mens deur die Laeveld, weet jy: hier regeer die bougainvillea, wat vuurkleurig teen die bome die hoogtes inklim. Wanneer 'n paar kleure saam in dieselfde boom rank, is dit 'n baken in die omgewing.
Die plant dra die naam van die interessante Louis Antoine de Bougainville (1729-1811), 'n Franse seevaarder, ontdekker en militaris in Napoleon I se tyd. In 1764 stig hy 'n kortstondige Franse kolonie op die Falkland-eilande. Van 1766 tot 1769 vaar hy per skip om die wêreld met 'n bemanning wat sterrekundiges (as navigators?) en natuurkundiges insluit. Die grootste van die Solomon-eilande, Bougainville, is ook na hom vernoem.
Die bougainvillea groei van steggies uit harde hout. Die klein blommetjies word omvou deur drie helderkleurige skutblare. In trosse by die massa vertoon die blomme oftewel skutblare onvergelyklik oordadig in skakerings van rooi, pers, roes, salm, oranje en wit. Die plant is rypgevoelig, maar blom lank in 'n subtropiese klimaat. Eintlik moet 'n mens hulle 'n bietjie verwaarloos deur nie te veel kos en water te gee nie, anders is daar meer blaargroei as blomme. Maar met warm son en droogte laat die blomritse 'n mens stilstaan voor die wonder.
Daar is ongeveer agt spesies, maar talle kruisings en bastersoorte. Die oorbekende pers Bougainvitlea glabra-spesie is seker die gehardste van alle bougainvilleas. 'n Ander geliefde bekende is die koper persrooi Killie Campbell. Crimson jewel is nie 'n ranker nie, maar 'n kompakte, ronde struikie met rooi blomme. Die blomritse van die bougainvillea kan met groot sukses gedroog word vir gebruik in droë rangskikkings en in skilderye van geparste blomme. Dit is ook bekend as die papierblom.
Die bougainvillea laat 'n mens aan 'n stralerjakker dink en die vrou daarin is bo alles 'n wêreldreisiger. Sy lewe van die een reis na die ander. Bly net lank genoeg tuis om geld te spaar vir nog 'n toer of reis na waar daar somer en son is. Die gesuis van die groot Boeings op die lughawens stuur telkens 'n tinteling deur haar are. Die geloei van skeepsfluite is vir haar onweerstaanbaar opwindend. Sy skud maklik alle verantwoordelikhede van haar af, pak net die nodigste in en weg is sy na ver of naby bestemmings. Sy reis lig, beplan elke reis deeglik en hou getrou dagboek. In die maande tuis teer sy op die reisjoernale.
Haar blomdae is vol kleur en sy ken min dowwe dae. Op 'n volgende reis wag daar 'n nuwe ervaring... Waar die lug skoon en onbesoedel is, kan sy snags ure lank na die sterrehemel kyk. As sy kon, sou sy klim of reis tot by die sterre.
Een ding leer sy deur die seisoene: 'n mens moet elke dag papiere weggooi, anders neem hulle jou in en oor. Sy sluit graag 'n jaar ordelik af. Haar lewe is vol: soveel om te lees, te geniet, te organiseer, by uit te kom, voor te beplan. Vir haar is daar 'n tyd om te snoei en om gesnoei te word, 'n tyd om in die wolke te leef en 'n tyd om terug te kom aarde toe. Anders kan 'n lewe slordig, deurmekaar en oorgroei raak. Ordening en besluitneming oor wat belangrik is en wat nie, is deel van haar lewe.
Alles wat sy doen, doen sy met 'n aansteeklike oorgawe. Haar lewe is borrelvol kleur, vuur en selfs hartstog op sy tyd. Soms kom sy 'n bietjie gekunsteld voor, so asof sy 'n plastiekmens kan wees. Maar mettertyd dring die waarheid en haar opregtheid tog deur. Net so impulsief en bedrywig as wat sy in haar blomtyd kan wees, net so stil kan sy in die agtergrond wegraak. Daar is twee definitiewe pole in haar lewe.
Sou sy trou, weet haar man gou hy kan haar nie vashou of in 'n blik druk nie. Periodiek vat sy die pad oor alle grense heen. Maar om haar in die somer naby te hê, is passie in veelvoud. In die winter onttrek sy graag na 'n wildplaas waar sy ure lank skommelend in 'n jeep met die veldpaadjies kan rondomtalie om die diere en voels dop te hou en te fotografeer. Die son en stof laat haar gloei en van vreugde blom. Om boervrou op 'n wildplaas te wees, tem haar rustelose gees. Op die plaaswerf en in die huis hou sy mak diere aan wat kleintyd hans grootgemaak is.
Bo alles weet die bougainvillea: sy kan nie die hoogtes bereik sonder 'n stut nie. Sy het 'n sterk voet-op-die-aarde-mens nodig om haar die hoogtes in te help, om haar na die son en die sterre te laat klim. Om hom draai haar hele lewe.