Lees reeks by BLOMVROUE
Orgidee
(Fam. Orchidaceae)
Eintlik is dit onregverdig om die orgideevrou met enige ander vrou te laat paradeer, want sy beskik oor 'n ongelooflike diversiteit. Sy word gevind van die hoogste stand en styl tot by die nederigste, onopvallendste mensie. Sy kan skugter wegskram van die kalklig, of sy kan glinster op 'n troon ver bo die alledaagse. Sy kan eenvoudig en beskeie geklee wees of sy kan gloei in die koninklikste karmosyn, diep pers of in die suiwerste wit.
Die orgidee is eintlik 'n blommeryk op sy eie met 600 tot 800 genera en meer as 30 000 spesies. Beslis die grootste en fassinerendste groep in die planteryk is die koninklike familie, anders as enige ander plant, misterieus en tog bereikbaar. Hulle word oral in die wereld aangetref en blom in haas elke kleur onder die son.
Die orgidee se naam is afgelei van die antieke Grieke se woord orchis (testikel). Pedanius Dioscorides het geglo dat orgidee wat deur die vader of moeder geëet word, die geslag van 'n ongebore baba kan bepaal. Hierdie Griekse medikus uit die Hellenistiese tydperk se De Materia Media was vir sestien eeue die toonaangewende teks in die farmakologie. Hy verskaf detail oor sowat 600 medisinale plante. Die wortelknolle van Orchis maculata ("Early purple") is algemeen deur die Turke en Arabiere as voedsel en medisyne vir baie kwale gebruik.
Meer as 400 orgidee-spesies is inheems in Suid-Afrika. Die beroemdste is die "Trots van Tafelberg", die rooi disa {Disa uniflora), wat van die bergwater oor sy wortels hou. Teen die hange en in die klipskeure van Tafelberg, van Du-toitskloof tot by Bettysbaai en Hermanus groei die wonder-orgidee. Daar is inderdaad sowat tagtig soorte disas in die land. Langs die waterstrome in Suidwes-Kaapland pronk die helderpienk Disa cardinalis in die klam grond. Daar is die heldergeel Disa patens en die blou Disa longicornu. Nog een met mooi blou blomme is Hershelia graminifolia.
In die Transvaalse Bosveld, die Laeveld en die Drakensberge groei talle boomorgidee. Treffend is die fraiïng-blomme wat na katgesiggies lyk, Huttonaea orcophila en Huttonaea grandiflora. Suid-Afrika is eintlik 'n wêreld in die kleine met sy hoogtes en dieptes, klimaatsverskille, berge en valleie, grondsoorte, woestyne, moerasse, see-strande, riviere, tropiese woude en grasvelde. En oral bloei die groot verskeidenheid orgidee, die woestyn uitgesonder.
In 1978 word die genus Dracula voorgestel. Die blomme het komieklike gesiggies en lang spykerpunte. Daar is blaarlose orgidee wat goed blom, feetjiepantoffels (Calypsos) wat van skaduwee hou en wat ook in die "red-wood"-bosse van Amerika gedy. Die bekoorlike en geliefde mot-orgidee, die Pha/aenopsis-hibriede, dra tot honderd blomme per volwasse plant. Die welbekende Cymbidiums blom in lang ritse en groei maklik in potte waar hulle nie gesteur wil wees nie en hulle hou van 'n beknopte ruimte. Die dansende dametjies {Oucidiums) en die Filippynse Vanda bekoor al wat vrou is. Vir baie mense is Vanda sanderana die mooiste orgidee in die wêreld. Die koningin van die wye orgideewêreld is sekerlik die eksotiese Cattelya wat bekend is as die sjokoladedoosorgidee. Hulle het son, humiditeit en goeie lugsirkulasie deur die jaar nodig en insekte by hulle is raar.
Die aanskoulike harlekyn- of tierorgidee word tot vyftien sentimeter in deursnit en dra geel en bruin blomme in die somer. In Java en Bali blom die pragtige wasagtige en geurige Vanda suavis, wit gevlek met rooi of pers. Die kurktrekkerorgidee (Trichopilia tortilis) het 'n interessante vorm en die talle Dendrobum-soorte blom oorvloedig. In 1979 is 'n blouswart orgidee (Hersechelia lugens sub-spesie nigrescens) naby Humansdorp ontdek.
Die opwindende orgideefamilie is al genoem "die blom van die gode" en kleur al vier seisoene van die jaar met hulle weelde. Hulle groei oor die wêreld heen wild - van Alaska tot by die Himalajas. Die Pleione-orgidee kan selfs deur die sneeu breek om te blom. Sommige spesies word reuse in die stomende woude van Oos-Afrika. Die epifiete het lugwortels en is geanker aan die bas van sekere bome. Hulle vang voëlmis en plantmateriaal op wat in die reën oplos. Hulle kan weke lank sonder water oorleef en stoor water in hul verdikte stamme.
Die wêreld van blomme is oorweldigend, maar alleen in die orgideefamilie vind mens die skoonheid en drama, die kleur en vorm wat hierdie groep so uniek maak. Hulle blom in alle kleure en kombinasies van kleur op aarde. Die blomme bly ongelooflik lank vars - tot meer as 'n maand nadat hulle gepluk is. Wêreldwyd is daar orgideeverenigings, kwekerye en liefhebbers met groot en klein planthuise waar waaiers en verwarmers en sproeiers die gewenste toestande vir die eksotiese blomme naboots.
Een universele kenmerk van die orgideevrou is haar uithou, aanhou- en houvermoë. Sy verouder nie maklik nie en dis moeilik om haar ouderdom te skat. Sy lyk selde moeg of verlep. En al vertoon sy ook broos, breekbaar en eteries skoon, besit sy 'n innerlike taaiheid en krag wat kan oorleef. Wanneer ander voor 'n krisis verkrummel, staan sy fier en sterk en hanteer elke situasie soos dit kom.
Sy is die perfeksionis onder die blomme en die vroue. In die kunste, die politiek, die ekonomie, die samelewing en in elke professie onder die son styg sy met ongelooflike selfdissipline die hoogtes in. As student is sy wakker, metodies, doelgerig. Haar lewenstyl is nooit halfhartig of onseker nie.
Vreemde verhale, legendes en bygelowe word aan die orgidee gekoppel. 'n Bygeloof wat groot skade aan Afrika se grootste epifiete, die Ansetias, berokken het, is die geloof dat 'n aftreksel van die orgidee jong seuns in volwasse mans laat ontwikkel.
In die werklike lewe huiwer 'n medemens meermale om die orgideevrou te nader en te vertrou. Tog wag daar by haar versterking en vertroosting soos by min mense aangetref word. Sy dink en doen. Praat nie baie nie, maar haar dade, persoonlikheid en nabyheid dwing respek en bewondering af. Vind jy haar, weet jy: sy het styl, sy is standvastig, betroubaar en lojaal. 'n Deurmekaar wêreld maak haar nie deurmekaar nie: sy bewoon elke uithoek van die aarde in al sy verskeidenheid, oor kleur en grense heen. Aan haar heerskappy op elke gebied twyfel 'n mens nie.
Sy het 'n groot en hegte gesin en wydlopende familiebande. Haar huis is oop met familie wat kuier en kom en gaan. In die winter vul die hitte van gloeiende kaggelvure die vertrekke. Sy hou van kleur en geur en vars lug in en om die huis. Tog pas sy maklik aan in 'n klein ruimte as dit moet - ook daar kan sy blom sonder om aan engtevrees te ly.
Die orgideevrou kan lenig, sag en asemrowend skoon wees; sy kan klein en beskeie wees; sy kan gemiddeld en selfs effe kleurloos aandoen. 'n Mens kan soms by 'n eerste indruk ietsie van 'n draak, 'n spinnekop, 'n luiperd, 'n kat of 'n vlinder in haar opmerk, maar sy behoort tot 'n besondere bloedlyn. Sy is die universele VROU - mistiek en onpeilbaar.