Lees reeks by Dierestories van lankgelede
KROKODIL BLAAS DIE AFTOG
Die wild op die oewer en op die vlakte het ook gevind dat die kom van mense die bedreiginge van hulle bestaan vermeerder het. Die swart inboorlinge laat geen doodmaak-kans verbygaan nie. Dikwels, soos hulle voortstryk, gaan hulle staan wanneer hulle klein bokkies in die oog gekry het, sprei geruisloos in ’n diep halfsirkel uit, trek nader deur die gras, omsingel ’n afgekeerde bokkie en maak hom dood. Skaars ’n dag gaan verby sonder dat die gewig van lasdraers se bondels vermeerder word deur vleis vir die pot, buitgemaak deur die gewapende voorlopers.
Op ’n dag het ’n trop waterbokke, wat al verskeie van sy maats verloor het, getrek na ’n klompie bome, ’n halfmyl verderweg van die brug af.
Digby skiet nog ’n sandbank af na die stroom toe, en daar het hulle met groter veiligheid gaan drink. Binne ’n paar dae het eers ’n trop gaselle, en toe sebras en hartbeeste by hulle aangesluit: die tyding van veiligheid het vinnig versprei. Weinig later was die streek by die brug rond verlate, afgesien van apies, dassies, voëls en likkewane —diertjies wat veiligheid kon vind in bome, of in vestings onder die grond.Toe die reuskrokodil, tot sy verbystering, besef dat by die sandbank waar hy so baie jare tol geeis het, geen diere meer kom drink nie, het hy op en af in die stroom na prooi gaan soek, en eindelik die nuwe drinkplek ontdek. Maar daar loop die rivier vlakker en sneller, en daar was min oorhangende lower om beskermende skaduwees oor die water te werp. Driemaal aaneen, terwyl die krokodil na die sandbank toe swem, geruisloos en steeds met instinkmatige behoedsaamheid, het ’n waaksame bobbejaan geskree, of ’n wantrouige sebra na aan die waterkant skielik omgespring en weggevlug; en dan het bokke, gaselle en almal inwilde geskarrel weggestorm na die oop veld toe en die rivier gelaat aan die eensame duister en ’n hongerige krokodil.
Kos het toe dringend noodsaaklik geword. Selfs die twee kleiner krokodille het begaan geraak oor voedsel, toe hulle die bokke en gaselle mis wat hulle gewoond was om by geleentheid te vang. Wat die reus betref — vir hom het ’n toestand, baie na aan hongersnood, spoedig gedreig. Wanneer, soos maar baie selde gebeur, die liggaam van ’n dooie seekoei stroom-af dryf, kon dit spoedig onder die oppervlakte ingetrek word om ’n fees te verskaf. Maar die lewendige, uitgegroeide seekoei was nie aan te durf nie. En nadat die diere opgehou het om in die rivier te kom drink op plekke wat maklik toeganklik is vir wagtende krokodille, het daar niks meer oorgebly nie as die seldsame kans op seekoeivleis, en daardie ontoereikende vis. Niks — behalwe dat dit tog nog moontlik mag blyk om te gryp onder daardie donker, gladde bene van die skepsels by die brug.
Namate die hitte van die dag aangroei, lig die reus hom geleidelik uit die water aan die oorkant van die sandbank, en kom tot rus ’n paar hale van die waterkant af. Daar, langs ’n omgevalle boomstam, gaan hy stillê; op ’n afstand is hy byna nie van die stomp te onderskei nie. Maar hy is wakker, op sy hoede, wagtend.
Anders as sy twee maats, wat in die water lê, die neusgate op die waterlyn, die oëso wakker soos sy eie, verkies hy om van die land af aan te val, want die ervaring het hom geleer dat hy daar op sy gevaarlikste is. Dikwels in die verlede, wanneer die diere skrikkeriger as gewoonlik geblyk het, het hy hulle geflous deur stil en roerloos te lê, totdat hulle tot binne ’n paar tree genader het; en dan het hy met ’n skielike beweging sy magtige stert geswaai, wat selfs ’n wildebees onderstebo kon slaan, en binne ’n paar oomblikke was hy besig om die liggaam van sy slagoffer onder die water in te sleep.
Gedurende die hittigste ure droog die water op sy vel weg, en sy kleur verwissel tot ’n grys wat amper presies lyk soos die van die modderige grond waarop hy rus. Om so buite die water te talm, het hom minder en minder aangestaan na gelang die hitte afneem; hy was nie gewoond om op land te vertoef nie, behalwe gedurende die heel warmste gedeelte van die dag. Tog beweeg hy nie. Hy weet te goed dat, as hy sy begeerte wil verwesenlik, hy omsigtig en beweegloos moet wees.
Skielik gewaar sy ore ’n geluid wat stadigaan harder word, ’n Lang stoet swartes— baie van hulle belaai met kalbasse, of erdepotte, of bale tabak — nader die brug. Twee vegsmanne, voor die ander uit, kom tot halfpad oor die stroom, gaan staan, en tuur na benede. Daar word fluisterend beraadslaag, en dan ’n teken gegee. Die naderende stoet kom tot stilstand. Die twee manne gaan langs dieselfde pad terug, en ’n hele ruk heers daar stilte.
Met toenemende ongeduld versit die krokodil daar teen die oorkantse wal sy stert onrustig. Hy kan nie langer die donker gedaantes by die brughoof raaksien nie, maar anderkant die stroom is nou ’n wit iets wat die sandbank nader. Dit is ’n volstruis - nie een wat na grasblaartjies pik, soos hy dit sou verwag het nie — maar een met nek en kop styf regop. ’n Volstruis is vrotsige voedsel, maar tog beter as niks. As die breedte van die stroom hulle nie geskei het nie, sou hy darem wou probeer het om daardie een nader te lok.
Maar hierdie moeilikheid staan nie in die weg van die twee krokodille laeraf in die stroom nie. Hulle ook het die volstruis gesien, hulle reken ook dat, hoe onvoldoende so ’n volstruis ook mag wees, dit tog darem beter is as om ’n hele dag te verkwis en niks te kry nie. Suutjies swem hulle wal-toe, wag nog 'n oomblik en storm uit die water daarop af met ’n verrassende vaart vir sulke groot diere.
Toe die twee krokodille so naby is dat hulle tande die volgende oomblik om die volstruis se bene sou sluit, lyk dit of die voël plotseling in die lug opspring. Toe buig sy nek eenkant-toe, die swart vere op sy bors skei en, met ’n verbasende gedaanteverwisseling, verskyn uit die liggaam van die voël ’n man, wat lyf en vere in ’n deurmekaar bondel langs hom afsmyt.
Asgaai in die hand, spring die man agteruit, en gelyktydig spring vyf ander na vore onder die beskutting van die bome uit. Op die oomblik toe die krokodille, besef dat hulle gekul is deur ’n volstruis wat geen volstruis was nie, maar ’n slim streek om hulle die water uit te lok, reën die asgaaie op hulle neer. Onmiddellik is die toneel een en al verwarring. Twee asgaaie is mis en trek onskadelik oorheen, maar ander tref; een dring ’n keel binne, maar word op die daad afgebreek; nog ’n goedgemikte deurboor die oog van die tweede krokodil en bring hom ’n dodelike wond toe; hy het egter nog genoeg krag oor om, voor die dood sy spiere verlam, met sy geweldige stert heen en weer te veeg en die bene te breek van ’n aanvaller wat dit te naby gewaag het in sy ywer om die doodsteek te gee. Die ander krokodil, met die afgebreekte punt van ’n asgaai nog in sy kakebeen vas, ruk om en vlug met wildslaande stert na die water toe. Maar die aanvallers agtervolg hom, raap gevalle asgaaie op en stuur dit van digby in sy lyf in. Van een wat dit in sy opgewondenheid ook gevaarlik naby waag, word die bene onder hom uitgeslaan deur die sweepslag van die stert wat met onweerstaanbare geweld links en regs moker. Maar die ander, digby aan altwee kante, stoot keer op keer hulle asgaaie in die kwesbare dele van sy lyf, totdat hy beswyk,op ’n haar na binne die betreklike veiligheid van die rivier — ’n draakgedierte, deur ’n oormag vernietig, dog vreeswekkend en gevaarlik tot selfs in die laaste oomblikke van sy worsteling.
Soos ’n stomp dryf die reus stroom-af. Toe die wild padgegee het van die drinkplek af waar hy so lank gewoond was om sy kos te kry, toe die poging om hulle te vervang deur die nuwe soort vleis waarvan hy gedroom het, misluk, en eindelik, toe die ander twee krokodille gedood is, het die ou strook rivier vir hom onbewoonbaar geword. Waar alles eenmaal vredig was, ’n maklike jagveld, word hy nou bedreig deur hongersnood, of iets baie na verwant daaraan. Die holtes waarin hy gewoond was om sy kos te bêre, die diep poele waar hy altyd saam met die ander krokodille gele en bak het, is nou verlate. Die tyd het aangebreek om 'n nuwe boerplek te soek.
Hy het nog geen vermoede waar die nuwe tuiste sal wees nie. Sy trekpad is die rivier; en met die water af, soos die stroom hom voer, gaan hy, om te vertoef alleen waar die kanse op goeie en oorvloedige kos gaaf lyk. Hier en daar, waar die water vlak spoel, was hy verplig om voet te slaan, met die lomp gang van ’n lyf wat net bokant die water uit, langsaam en swaar van kant na kant waggel. Eenmaal moes hy, om die stroomversnellings te vermy, ’n kort afstand oorland sy pad soek. Dog meestal dryf hy maar so met die stroom saam, somtyds al sluimerend, somtyds genoegsaam wakker om te hap na visse wie se lywe sy oog met die verbyskiet trek.
Waar die strook bome anderkant ophou, vloei die rivier ’n tydjie tussen lae, bruinerige groen walle, wat aan beide kante bo uitloop op kaal gelyktes. Voorheen was hy teen die oë van wild of die oewers deur twee boomgordyne beskut, en sy bewegings het geen aandag getrek nie: geen dier het hom sien kom en verskrik weggevlug nie. Maar hier, waar geen skerm is nie, en oop lappe bruinerige gras met verdrag na die waterkant toe skuinsloop, waar slegs vereensaamde bome op die walle groei, en sandbanke hier en daar die spore toon van die wild wat hulle as drinkplekke gebruik. word die krokodil raakgesien, en sy nadering gevrees. Waterbokke, rooibokke, sebras en baie van die kleiner diertjies lig die kop onderwyl hulle drink en laat plotseling spat tot op veiliger afstand. Apies, babbelend en spelend onder klompies bome, gaan regop staan om na hom te staar, verdwyn dan halsoorkop in die boomtoppe in en daar — gerus nou in die oortuiging van groter veiligheid — bly hulle, om tussen die blare deur te loer, swygend en met verskrikte oë. ’n Klompie wildebeeste, aan drink op ’n sandbank by ’n ander strepie bome, spring skielik die laaste een om en jaag deur ’n smal opening wat hulle self en ander diere al deur die digte ruigte getrap het. Tot die gespikkelde visvanger wat neerpyl om onder die warm oppervlakte van die water sy vis uit te gryp, is met ’n wip daar weg toe die krokodil verbytrek.
Maar hy skenk geen aandag aan hierdie diere van die oewer nie. Onder ander omstandighede sou hy miskien vertoef het om kos by een van die sandbanke in te oes, maar nou is hy vasbeslote om hom te gaan vestig in ’n nuwe verblyf, waar hy sonder buitensporige moeite sal kan lewe, waar voedsel volop sal wees, en waar daar geen verdere stoornis of gevaar soos die waaraan hy ontsnap het, sal wees nie. Hierdie sandbanke is maar klein, en dit is onwaarskynlik dat hulle ’n gereelde voorraad kos sal oplewer vir so ’n yslike dier soos hy; ook het hy nog nie ’n plek gevind waar skaduwee en die waarskynlikheid van sloepies in die walle, dit laat lyk of hy daar met gemak sal kan lewe nie.
Sonder om te rus swem en dryf hy deur die hitte van die dag stroom-af. Toe, so teen die aand, kom hy by ’n plek waar die rivier hom verbreed tot ’n diep, ovaal kuil, en hy weet dadelik dat sy soektog beeïndig is.
Hier ook is ’n sandbank, groot en wyd, met talle paadjies wat uit die ruigte en bome op die oewer na die water toe lei. Laeraf langs die stroom, in die verste hoek van die sandbank, skiet ’n smal kanaaltjie in, soos ’n strokie stilwater, wat sand en vaste aarde skei. In daar die kanaaltjie sal hy kan lê, bedek deur die water en beskadu deur die bome op die wal; daarvandaan sal hy onverwags kan pyl, om op te styg tussen diere by die drinkplek en die land, waarheen hulle sal probeer ontvlug. Deur daardie paniekerige aftog te onderskep, sal hy sommer maklik sy slag kan slaan.
Die oorkantse wal van die kuil is dig behang met swaar bome, waar hy sonder twyfel ’n sloep sal vind, met ’n ingang deeglik verskuil in die skaduwee, en moontlik nog so toegehang dat geen dier buiten hy self dit sal vind nie.
Aan die boonste ent van die kuil lê eilandjies, party waarvan kaal uitsteek ’n paar voet bokant die water, terwyl ander dig begroei is met papirus en reusepalms waarvan die blare skaduwees op die water werp.
Vir hom is die plek ideaal. Daar sou volop kos wees, en danksy daardie kanaal aan die agterkant van die sandbank, sou die wild geen agterdog hê omtrent sy aanwesigheid nie en dus maklik kan gevang word. Daar was skaduwee, of hy nou by drukkende hitte dryf onder die bome wat die suidelike wal afstreep, of na aan ’n boombegroeide eiland hou, waar die luggie oor die kuil sou trek. Onder die bome op die wal sou hy holtes kry om sy voedsel in te bewaar, tussen gestrengelde wortels wat sou verhinder dat dit wegspoel. Daar sou wel ergens ’n veilige sloep wees waarin hy kon slaap, beskut sodat vyande hom nie kon nader nie, lekker beskadu en wyd, of anders kaal aan die kante, sodat selfs hy met sy enorme lengte hom binne die grense van sy tuiste sou kan omdraai.
En nog mooier, daar was, soos hy by sy eerste ondersoek van die kuil al ontdek het, ander krokodille aanwesig, dog nie te veel nie; daar was drie, ’n mannetjie en twee wyfies van normale grootte, veel kleiner as hy self, sodat hy geselskap sou hê en die eensaamheid gebreek sal wees; tog — aan die oorvloedige voorrade wat die sandbank in die vooruitsig stel, sou daar geen tekort wees nie; en hy, met sy groter snelheid, sou geen mededinger hê by die bemagtiging van die beste wat die kuil mag oplewer nie.
Vervolg...