DIERESTORIES VAN LANKGELEDE (3)

Lees reeks by Dierestories van lankgelede

KRODODIL EN LUIPERD

Teen die rand van die eilandjie naby die bo-punt van die kuil, het die krokodil die nag deurgebring, kake en voorlyf gestut teen die hellende kant, terwyl die stert op die water dryf. Aan die oorkant van die eiland lê ’n gesin seekoeie —- pappa, mamma en kalfie; af en toe kruip ’n waterskilpad so sukkel-sukkel uit die water, steek die eilandjie oor en gly anderkant terug in die kuil in. Maar die krokodil steur hom aan niks; hy slaap.

Namate die duister dieper word, ontwaak die lewe en geluide van die nag. Uit die verte, waar die vlakte anderkant die bome geleidelik opskiet na die voet van die berge, kom nou en dan die kort, diep gegrom van ’n leeu wat sy prooi soek. Daarvandaan ook kom die gekug van ’n luiperd, die gebrom van volstruise, die geskreeu van jakkalse, en die smartvolle gehuil waarmee hiënas die nag verskeur. In die bome aan die waterkant roep ’n uil, en — verskrik deur een of ander geluid in die donker — babbel die ape. En eenkeer, digby, nog eer die more aangebreek het, kom daar die dreunende gebrul van ’n leeu wat sy dors geles het na sy maal op vannag se slagoffer.

Maar die krokodil roer nie, selfs nie by daardie laaste magtige geluid nie, totdat die morelig begin aanbreek en ’n skaduweebeeld van die naaste koppie teen ’n see van roos- kleurige vlieswolkies werp; toe maak hy eindelik sy oe oop, rek luilekker sy kake en gly agteruit die water in.

Hy swem ’n slag langsaam om die eiland, kyk belangstellend na die seekoeie, wat terug is na die nag se wei, en laat vat op ’n tweede ontdekkingstog. Aan die kant van die sandbank staan ’n klompie rooibokke, slank en sierlik, hulle dors en les. Toe hy hulle sien, swem die krokodil geruisloos nader, met sy oë onder die water. Hy het nie so spoedig reeds so ’n geluk verwag nie, maar hierdie kans kan hy nie laat verbygaan nie. As die voorkant van die sandbank, wat hy nog nie ondersoek het nie, skerp skuinsloop onder die water in, mag hy miskien tot naby genoeg kan swem om te gryp; so nie, wel, hy sou niks verloor deur ten minste te probeer nie, en later kon hy dan stilletjies die kanaal inswem en sy prooi met sluheid bemagtig.

Maar nog lank eer hy dig genoeg is vir ’n aanval, weet hy reeds dat dit onuitvoerbaar gaan wees— ten minste in die daglig, want op die deel wat hy nader, is die helling so gering dat sy lyf skoon uit die water sal wees nog etlike tree van die suipende diere af; en skaars het hy ook hierdie ontdekking gemaak, of een van die rooibokke lig plotseling die kop, staar skielik verskrik oor die water, vlieg om en vlug met lang spronge, gevolg deur al die ander.

Sy teleurstelling duur egter maar ’n paar minute. Hy het mos nou ten laaste iets geleer omtrent die manier waarop daardie sandbank genader moet word. Eer die dag verby is, sal hy met sy ondersoek klaar wees en gereed om in die nag te jag, of deur hom in die kanaal te versteek, of deur ’n dier van die sandbank af weg te raap.

’n Uur lank swem hy lui-lui om en om in die kuil en wonder op watter van die eilandjies, of in watter van die lopies, die krokodilgesin hou. Toe, terwyl die son begin warmer word, en sy spyt oor die rooibokke wat so maklik ontsnap het, aangroei, sien hy ’n groot vormlose massa aandryf uit die stroom waarmee hy die vorige aand afgekom het.

Hy weet sommer dadelik dat dit die liggaam is van ’n dooie seekoei, opgeblaas — ’n smaaklike gereg wat onmiddellik kan geëet word, sonder die vervelige oponthoud wat nodig is om pasgevange vis ’n behoorlike geur te laat kry. Maar nouliks begin hy nader te roer, of ’n rimpeltjie, onmiddellik gevolg deur ’n tweede, plooi die water links: ander krokodille, gewese besitters en base van die kuil, haas hulle ook na die feesmaal toe.

Met die ekstra snelheid waaroor hy vanwee sy krag en grootte beskik, kom die reus eerste by die vleis; hy sluit sy tande op ’n stuk van die vel en skeur dit uit met ’n woeste gepluk. Onderwyl die gewebde pote met langsame haaltjies beweeg om hom teen die stroom in posisie te hou, probeer hy ’n groter bekvol uitruk; dog teen hierdie tyd is drie ander paar kragtige kake besig om te soek na vatplek op die glibberige ronding van die vleisklomp. Twee van die krokodille skeur ook sommer gou deeglike stukke uit, swem weg en laat die jongste nog onbevredig, en die reus nog vasbeslote dat van so ’n buit alles — of ten minste soveel as wat nog oorbly — syne gaan wees.

Die stroom spoel die vleis tot digby die wal, op ’n plek waar ’n boom aan die rand van die water groei, met een laaghangende tak tot binne ’n paar voet bokant die oppervlakte. Teen ’n uitskietende wortel van hierdie boom haak die aas vas, en die krokodille juig reeds oor die groter gemak waarmee hulle dit nou sal kan verskeur.

Maar pas het die reus sy kake tot volle wydte oopgesper, of hy word gesteur deur ’n sagte geluid van bo-af. Agteruit dus, om in die boom te kan opkyk. Daar, in sy volle lengte uitgerek op die oorhangende tak, lê ’n luiperd; en die luiperd se uitgestrekte poot raak so byna-byna bo-aan die drywende vleis.

Sulke inmenging was nie uit te staan nie. Hy sou sy maal, as dit dan moes, met ander krokodille deel, ofskoon hy vasberade was dat sy eie deel veel groter as hulle s’n sou wees; maar hy gaan sowaar nie toelaat dat ’n luiperd, of watter ander landdier ook, hom help aan krokodilkos nie. Hy is woedend en hap na daardie afhangende poot.

Hy hap net ’n paar duim mis, en sy opgehewe snuit val terug teen die blad van die seekoei. Die luiperd, fluks om voordeel te trek uit sy geluk, druk sy lang lyf nog platter op die tak, die naels van een voorpoot vasgeklem in die bas, onderwyl die ander probeer om die vleis by te kom.

Maar op daardie oomblik rig die reus hom uit die water op, hap nogeens, en sy tande slaan toe op die punt van die luiperd se poot, dwarsdeur vel en vleis en been. ’n Oomblik kantel die luiperd op sy tak, asof hy in die water in gaan afgeruk word; toe val die krokodil terug met ’n stukkie geel vel, rooigevlek, tussen sy tande vasgebyt.

■ ’n Geweldige brul van pyn skeur die stilte van die oggend. En onderwyl twee krokodille die vleis van die uitskietende wortel af wegvroetel, en dan volg as die stroom dit afvoer na een of ander holte waarin hulle dit vir later gebruik kan bêre, lê die luiperd nog op sy tak, en sy tong lek en lek sy pynlike wond.

Hy verlaat die oorhangende tak en loop in die skaduwee onder die bome in, om daar sy wond onafgebroke te gaan lê en lek, totdat die hitte van die dag verby is en dit koel genoeg sal wees vir hom om pynlik huistoe te begin sukkel. Deur ’n smal strokie bosse gaan hy. Daar spat die bobejane weg, party in die boomtoppe in, waar hulle bly sit, wakker en klaar om van tak tot tak te wip as hy dalk in ’n boom opspring; ander, oortuig dat alleen afstand veiligheid bied, sommer meteens na die verste skuilhoekies van die bos. Bokkies, wat ook die dag in die skaduwee aan deurbring was, spring op toe hy naderkom en pyl weg, die veiligheid in.

Gewoonlik sou die luiperd op daardie uur aan roof alleen gedink het; nou weet hy dat hy niks kan bespring of bekruip nie — inderdaad niks kan aanrig nie, behalwe om voetjie- vir-voetjie, en dan ook nog in groot pyn, deur die bos en oor die vlakte te sukkel na die rotskoppie waarin hy woon. Eenmaal het so ’n opgeskote bobbejaan wat gedrentel en van sy trop afgeskei geraak het, die versoeking onweerstaanbaar gemaak, maar net toe die luiperd hom ineenkrimp om te spring en sy naels in die grond indring, herinner die pyn hom — nog meer, dit verplig hom om, voordat hy verder kan gaan, eers weer ’n slag te rus.

Toe hy eers deur die bosstreek was, het sake darem ’n bietjie verbeter, want die gras waarop hy trap, is hier sonder die stokke en kippies wat hom tevore so gemartel het. Dog hy vorder maar langsaam, en die nag het reeds toegesak voordat hy die kop bereik waarin sy tuiste is. Aan die voet gaan hy ’n oomblik staan om die gemaklikste uit te kies van die twee paadjies tussen die rotsblokke deur boontoe, en naby die bo-punt van die hang gee hy ’n langgerekte knor, ’n noodberig aan sy wyfie.

Waar sy in volle lengte in ’n nou grot uitgestrek lê, met haar twee welpies naas haar, spring sy onmiddellik op en antwoord. Toe gaan sy na die opening van die grot en kyk angstig afwagtend teen die hang af.

Vervolg...