Lees reeks by Dierestories van lankgelede
DIE ROOIBOKKIE
Namate die dag ouer word, soek troppe antelope en gasèlle stadigaan hulle pad na die skaduwee van die bome toe. Wei-wei kom ’n trop van veertig sebras oor die vlaktetjie, en ’n twaalftal rooibokke met ’n bejaarde ram vooraan, volg dig opmekaar kort agter hulle. Met die neus na die grond gerig, stap die sebras ongeërg aan, met die uitsondering van twee wat op ’n klein afstand tred hou met die tropwagte, altyd op die uitkyk na gevaar. Maar die rooibokke neem self geen voorsorgmaatreëls nie; hulle maak staat op die groter trop om hulle te waarsku. En hoewel hulle ywerig wei, is hulle opgeruimd en vrolik, speel onder mekaar en kom spring- spring, vooruit en agteruit, aan.
Die jongste lid van die trop is nog maar ’n paar weke oud en sy is uitermate sierlik, met haar slank bene en nekkie, ligte kleur, dun, breë ore en fyngespitste koppie. So jonk is sy nog dat sy maar gister vir die eerste maal met gevaar kennis gemaak het toe sy, saam met ander van haar trop, op die sandbank vertoef het om water te drink en, skielik haar kop opgelig en oor die kuil gekyk het. Uit die water was ’n vreemde dier aan die opstyg. Dit het meedoënloos nader gekom met klein, glurende ogies wat boosaardig en afskuwelik gelyk het. Benoud van angs, het sy weggespring, die ander rooibokke kort op haar hakke.
Sy het nie geweet wat die gevaar eintlik was nie, maar sy was heeltemal seker dat sy dit nooit sou waag om alleen by daardie kuil te vertoef nie, en selfs met die ander rondom haar, sou sy telkens oor die water moes kyk of skrikwekkende goeters nie dalk skielik daaruit opkom nie. Dit is jammer, want daar is min dinge so aangenaam as om aan die einde van ’n warm dag haar neus net so op die water te laat rus, met ’n gevoel asof die water ’n verruklike koelheid deur haar hele lyf stuur.
Die lewe is darem gaaf. Dit is gaaf om te peusel aan die kort grassies, om onverwags ’n koutjie te vind wat sappiger is as die ander, om te speel met haar boeties en sussies, om gedurende die hitte van die dag onder die bome te lê en rus. Dit is net in die kuil dat die aaklige goeters hou, maar die herinnering van daardie afskuwelike neus en klein ogies is ook so sterk dat dit haar somtyds by vroliker geleenthede nog daaraan herinner en haar met ’n gril laat opkyk uit die gras, of haar selfs uit die slaap verskrik laat opspring, wanneer sy droom dat sy nie weggehardloop het nie, maar bly staan het totdat die aaklige ding op haar was.
Na ’n tydjie draai die sebras opsy en beweeg in die rigting van ’n groot lap bome wat na aan die rivier groei, terwyl die rooibokke aanstap na ’n klompie doringbome waar hulle al dikwels tevore in die geselskap van ’n troppie gasèlle gerus het. Die skaduwee is groen daar, en dit lyk of die afgesonderde posisie dit teen skielike aanval beveilig. Die ou ram wat die trop lei, sien dat dit onbeset is, hoewel die gaselle dit nie lank gelede verlaat het nie. Die gras is merendeels kort afgevreet, maar dit maak min saak, aangesien hulle die doringplaat nodig het meer vir koelte en rus as vir weiding. Hy stap vooruit onder die bome in en gaan lê, terwyl die ander hulle rondom hom neervly.
Sowat drie uur later word die rooibokkie wakker, met ’n eienaardige bewustheid van dreigende gevaar. Gou op die been, kyk sy rond en sien die res van die trop vas aan die slaap, of ongesteurd aan rus. Een jong ram lig die kop toe sy beweeg, staan op en draf na haar toe, om ’n rukkie met sy kop teen hare te staan en dan weg te draf na die rantjie van die lap bome toe. Sy volg hom, nog bekommerd, hoewel sy geen vermoede het wat dit is wat haar laat wakker skrik het, of wat haar hierdie snaakse gevoel van vrees laat gewaar het nie. Dit is so half dieselfde soos die gevoel by die aanskou van die krokodil wat uit die water verskyn het; ’n soort van drang dat sy myle en myle behoort te hardloop en nie ’n tree kan roer nie. Nuuskierigheid hou haar terug, onderwyl vrees aandring dat sy moet laat vat. Maar sy is ten minste nie alleen nie. Die jong ram hier neffens haar is haar vriend, en uit hom put sy ’n soort veiligheidsgevoel.
’n Entjie van die lappie bome af groei een groter boom met wydgespreide takke. Daarheen stap die jong ram nou, ’n paar tree voor haar uit. Hy het geen gewaarwording van vrees nie, alleen ’n gevoel van ongedurigheid en ’n begeerte om voor te loop met die jong ooitjie agter hom aan. Dit is warm ook, en die skaduwee is beter onder die groot boom; daar kan hulle gaan rus.
Hy stap in die koelte in. Sy jeugdige maatjie gaan ’n oomblik staan om ’n graspolletjie af te knabbel. Vinnig kyk sy op toe sy skielik ’n angskreet hoor, en toe, in die oomblik voordat sy wegspring, sien sy ’n groot geel gedaante op die rug van die rammetjie land; reusekloue skeur sy vel en ontblote tande dring in sy nek in.
Radelose angs verteer haar. Sy laat spat soos sy nog nooit tevore nie, sonder om te weet waarheen, sonder om op te let dat die res van die trop saam wegvlug in die teenoorgestelde rigting. Sy het geen ander gedagte nie as om weg te kom van daardie verskriklike gesig af, die gespikkelde vel, daardie tande, en die sterwende kreetjies van haar maatjie.
Dit het lank geduur voordat sy ophou met hardloop, en omkyk. Geen dier was sigbaar nie. Daar was niks te sien nie behalwe die oop vlakte, die berge in die verte, en die streep bome wat die rivier afbaken. Toe eers dink sy aan die res van die trop, verlangend en beangs omdat sy nou alleen is. Dit is ’n ou wêreld hierdie waarin verskriklike goeters uit die water opkom, of uit bome afspring, dinge wat sy nie begryp nie, maar waarvan sy nou weet dat hulle die dood beteken. En sy het geen vriende aan haar sy om haar te beskerm, of haar te leer wanneer sy veilig is en wanneer in gevaar nie.
So staan sy ’n paar minute lank, beklem deur daardie gevoel van eensaamheid. Toe word sy die hitte van die son op haar rug gewaar en draai in die rigting van die bome, die naaste koelte. Dalk kry sy nog haar maters daar; hulle sal mos tog ook maar na die bome toe gevlug het, en sy sal hulle daar kry, dig bymekaar, om veiligheid in mekaar se geselskap te soek.
Hulle is egter nie daar nie. Sonder om op te hou met wei, dool sy rond onder die bome en oor kolle sonlig, op soek na haar maters. Diere was daar in oorvloed, maar nie van haar soort nie. In die karige skaduwee van drie yl doringbome skuil ’n trop wildebeeste; digby, waar die skaduwee dieper is was ’n stuk of vyftig sebras, ’n paar hartbeeste en ’n paar gaselle; half bedek agter doringbome, peusel vier girafs aan die hoogste blare; en onder een boom staan 'n ou renoster, alleenbesitter van die voorreg.
Onder die baie diere wat daar in die klein ruimte opeengedring is, voel die rooibokkie eensaam. Paniekerige gevoelens roer maar nog in haar, sodat sy skrik by die minste geruis. Sy het geen rede om vir enigeen van hierdie diere bang te wees nie, want hulle slaan geen ag op haar en stel ook geen belang in haar nie; maar as ’n wildebees blaas, spring sy reg om te hardloop, en toe ’n gassèl skielik opstaan, meen sy dat iets nou op haar gaan spring. Maar meestal wonder sy hoe om weer by haar trop uit te kom. Eenkeer kom sy af op onmiskenbare tekens dat ’n klomp rooibokke so pas daar verby is, en sy vat dadelik die spoor. Sy was so bly toe sy hulle raakloop, rustig aan die wei onder die bome, maar toe vind sy dat dit vreemdelinge is hierdie — haar eie soort, weliswaar, maar nie die maters na wie sy soek nie. ’n Rukkie vertoef sy by hulle, in die hoop om as een van hulle erken te word, maar hoewel twee van hulle haar kom besnuffel, heet hulle haar nie welkom nie en lyk inderdaad net so sonder belangstelling soos die sebras en die wildebeeste was. Hier onder hulle is sy ook ’n vreemdeling wat hulle maar sal verdra solank soos sy nie peuter op die keurigste graskolletjies en die beste skaduweeplekkies nie, maar in die trop self gaan hulle haar nie verwelkom nie.
Na ’n rukkie verlaat sy hulle maar en dwaal verder, met die oë en neus gedurig in die gras aan die soek na tekens wat haar die verlangde tyding sal gee. Aanstons word sy baie dors. Sy sien ’n paadjie wat riviertoe lei, volg dit en kom af op ’n trop wildebeeste met wie sy meng, steeds nog ’n vreemdeling onder ’n twintigtal diere wat gewoond is om saam te lewe. Ander paadjies loop tussen bome en bosse deur in dieselfde rigting, en met hulle af kom volstruise, hartbeeste, gasèlle en waterbokke. ’n Entjie verder loop die paadjies inmekaar tot ’n enkele breë pad waar ’n trop olifante wat baie stadig voortbeweeg en, soos hulle loop, alles met die slurpe betas, die weg versper. ’n Groot bul loop voor, koeie en kalwers volg, en agter dam die ander wild vinnig op, begerig om by die water te kom, maar bang om vorentoe te dring solank soos die olifante daar is.
Waar die pad aan die kant van die bosse uitkom en vertak in tallose kleiner paadjies oor die sandbank af na die rivier toe, stuit die olifante om eers sand in die slurpe op te trek en oor hulle rue te blaas; en die kleiner diere wag ongeduldig dat hulle moet klaarkry. Die rooibokkie gaan links van die olifante verby, sommige waarvan nou besig was om hulleself met water te spuit, en sy slaan alleen koers in na die ander kant van die sandbank; maar toe sy ’n helder uitsig oor die water kry, kom die herinnering aan ’n vorige geleentheid toe sy gaan water drink het, by haar op, en sy kyk benoud of sy nie dalk weer daardie grimmige neus en daardie klein, glurende ogies sien nie.
Maar, afgesien van die rimpeltjies veroorsaak deur die suipende olifante, was die watervlak glad, en dit stel haar gerus, sodat sy amper begin glo dat sy nooit regtig die verskrikking gesien het wat sy so helder onthou nie. Fyntjies laat sy die neusie na die water sak, en drink.
Toe sy wegdraai, voel sy heerlik verkwik en baie bemoedig as gevolg van die feit dat niks aakligs gebeur het nie. Elke oomblik het sy verwag om daardie felle oë aan die oppervlakte te sien. Maar alles het rustig gebly. Sy het kans gekry om haar lekker vol te drink en stap nou rustig deur die soom van bossies na die naaste bome toe.
Tog, ofskoon sy nou kalmer voel en minder bevrees, besef sy dat sy nog heeltemal alleen is. Sy gaan van die een trop na die ander, ongehinderd maar ook sonder verwelkoming. Sy is feitlik uitgeworpe en sonder verblyfplek; en die gedagte aan die nag, met sy groter gevare, laat haar meer as ooit verlang na die gerusstellende aanwesigheid van haar eie trop.
In ’n opening deur ’n beboste strook, kom sy ’n bietjie tot stilstand om te wei. Bobbejane rus onder die bome, die kleinspan aan speel, die wyfies as toeskouers, en ’n ou mannetjie, die leier, as brandwag, wakker op sy pos in ’n hoë boom. Tussen die bosse aan die rantjie van die woud beweeg iets skelmpies; maar die rooibokkie se agterlyf is daarheen gekeer, en sy hou maar aan met wei, geheel en al onbewus van die luiperd wat daar ineengekrimp begin nadersluip, die oë strak op haar gerig. Toe, plotseling, sien die waaksame ou mannetjie ’n glimp bruingeel beweeg agter ’n bossie, vyftig tree weg, en hy breek los — die kortaf geblaf waarmee bobbejane dreigende gevaar aankondig. Die kleintjies snater van die skrik, maak dat hulle by die wyfies kom, spring op en klou onder die bors vas ; die leier en die ander mannetjies gaan regstaan met ontblote tande. En die rooibokkie spring vorentoe, uit die gevaar uit.
Instinkmatig hardloop sy tussen die bobbejane in en steek vas, net agter ’n bos, met rittelende ledemate, klaar om verder te vlug as dit nodig mag blyk. Die luiperd kom ’n paar tree nader en gaan staan, weifelend by die aanblik van ses groot bobbejane wat — dit weet hy — roekeloos op hom sal afstorm as hy binne bereik kom. Toe, aangesien hy die rooibokkie nie meer kan sien nie, en daar hy voel dat sy in elk geval tog nie soveel moeite werd is waar makliker prooi elders ongetwyfeld te kry is nie, draai hy om en gaan terug onder die bosse in.
Die lawaai van die skreeuende bobbejane hou ’n hele paar minute aan. Toe gee die ou leier die kreet wat aankondig dat die veld weer skoon is, die wyfies sit hulle kleintjies neer, die jongspan begin weer speel, en die mannetjies, in ’n groep aan die voet van ’n boom versamel, begin babbel asof daar ’n stryery aan die gang kan wees.
Die rooibokkie gaan nie weg nie. Sy weet dat sy in groot gevaar verkeer het, en dat die luiperd haar ongetwyfeld sou gevang het as die ou bobbejaan nie die waarskuwing laat hoor het nie. Daardie waarskuwing was die eerste teken van belangstelling wat enige dier nog in haar getoon het sedert sy van haar eie trop af weggeraak het, en sy voel sommer die bobbejane is haar vriende. Hulle gaan haar nie net toelaat om by hulle te bly nie, maar is selfs bereid om vir haar te veg. Sy kan by hulle bly, eindelik in veiligheid, en nie langer met daardie gevoel van eensaamheid nie.
In die middel van die trop staan sy en wei. Die twis onder die mannetjies het ontwikkel totdat dit dreig om op ’n bakleiery uit te loop; maar toe die eerste botsing kom, klouter die ou leier af uit sy boom om die rusie te kom besleg. Toe hulle hom sien kom, spat die ander op in die bome in, om kort daarna, toe hy terugdraai, af te kom en saam te begin baljaar, die twis geheel en al vergete.
Skielik gee die leier, wat weer op wag is, ’n kortaf blaf, anders as die waarmee hy die trop tevore gewaarsku het, maar tog ’n sein dat alles nie pluis is nie. Die bobbejane, onseker wat die moeilikheid sou wees, staan ’n rukkie in gespanne afwagting; toe kondig die leier aan dat die gevaar verby is. Wyfies tel hulle kleintjies op, groteres onder die jongspan klim agter op hulle moeders om geabba te word; dan trek almal in die bosopening af, om hier en daar op hulle pad te versuim, as hulle uintjies en worteltjies uit die grond grawe, of klippe omkeer met die hoop om goggas of skerpioene daaronder te kry.
Met ’n gevoel van veiligheid wat sy die hele dag nie geken het nie, gaan die rooibokkie met hulle saam. Sy het haar dors geles en haar honger gestil, en nou het sy veiligheid gevind. So lank soos sy by die bobbejane bly, sal alles in die haak wees.
Op ’n kort afstand van die opening af staan ’n hoë rotskop wat aan die eenkant met ’n reeks loodregte kranse opstyg, maar geleideliker afloop aan die ander kant, waar die rotslaag gedeeltelik met grond en gras bedek is. Daar, in ’n klompie skeure in die rotswand, is die bobbejane se tuiste. Toe hulle daar aanland, klouter hulle die helling uit, spring- spring van krans tot krans; en die rooibokkie, alleen aan die voet, is weer verlate, want sy kan nie spring soos hulle nie. Maar sy gaan haar darem nie sommer laat beroof van hierdie pasgevonde geselskap nie en loop om die voet van die rotskop, opsoek na ’n plek om boontoe te kan klim. Toe sy aan die ander kant kom klim sy teen die hang uit en kom oplaas sover dat sy kan uitstap op ’n plat lys, ’n paar voet van bo af. Daar gaan sy lê, verheug om te weet dat vier van die bobbejaanvolk naby haar is, terwyl sy die ander kan hoor babbel in ’n skeur digby.
Die nag daal, en sy slaap. Plotseling skrik sy wakker toe ’n bobbejaan uitskree, en op die daad is daar ‘n onaardse lawaai op die kop — die hele trop aan skree, blaf en gil. Sy weet nie wat gebeur het nie, maar sy voel bang en krimp plat teen die rotslys waarop sy lê. En toe gewaar sy opeens in die maanlig oor die gelykte aan die voet van die kop, die gevreesde geel gestalte van ’n luiperd, met die liggaam van ’n opgeskote bobbejaan in sy bek.
Vervolg...