DIERESTORIES VAN LANKGELEDE (6)

Lees reeks by Dierestories van lankgelede

DIE VELDBRAND

Die nag was bitter koud. Toe die môre kom, pak die bobbejane op die lyste teen die rotsmuur saam om die warmte van die son te vang. Half verkluim sit hulle eers doodstil, maar na ’n rukkie, toe die warmte van die son toeneem, begin party van die jonger outjies ’n speletjie waarby hulle mekaar van ’n kleiner rotsblok afstamp, om terug te klouter en elkeen op sy beurt nogeens te stamp of afgestamp te word; die ou leier het reeds weer sy pos as brandwag ingeneem, en nou het twee ander mannetjies ook op rotspunte stelling ingeneem om die vallei onder en die grashang agterom dop te hou.

Sedert die nagtelike besoek van die luiperd heers daar ’n gees van onrus op die kop. Die wyfies babbel en steun meer as wat hulle onder gewone omstandighede doen en pas hulle kleintjies beter op. Wanneer een miskien van die laagste lysie afgestoot word en veldvrugte begin soek instede van dadelik terug te klouter, spring ’n wyfie verbouereerd agterna om hom te gaan haal; en die voorlopige gevaarsein word so herhaaldelik gegee dat dit duidelik is dat die brandwagte se senuwees op loop is.

Die rooibokkie was ook koud toe sy wakkerskrik, en ook sy onthou met afgryse daardie kreet in die nag, en waardeur dit veroorsaak is. Soos sy daar op haar rotslysie lê, besef sy dat die jong bobbejaantjie weggegryp is uit ’n skeur digby haar. Sy moeder sit nou, met slap neerhangende arms, op die buitenste rantjie van die rots, haar houding so star dat, selfs toe die gevaarsein weerklink, sy nie roer nie. En toe die bevel eindelik van die ou leier uitgaan dat die trop die rotse moet verlaat en uittrek op ’n strooptog, wat hulle verder af by die rivier sal bring, is sy die laaste om te beweeg.

Toe die bobbejane die kranse afklouter en al met die voet langs hou, om dan verder koers in te slaan deur die bosse, verstrooide rotsklippe en enkele bome waartussen hulle hulle kos gaan soek, verlaat die rooibokkie ook haar rotslys met die paadjie waarlangs sy gekom het, haal spoedig die bobbejane in en gaan aan wei tussen hulle.

Die ou leier toon nog steeds selfs groter besorgdheid as gewoonlik. Op ’n kort afstand voor die ander uit, klim hy keer op keer in ’n boom om die veld vorentoe te bespied, kom dan af, stap ’n entjie voort, en klim nogeens in ’n boom, onderwyl aan beide kante van die trop die ander wagte dieselfde doen. En toe die trop teen die middag na die rivier aftou en gaan waterdrink, hou hy nog wag, want selfs nie die rooibokkie wat verbouereerd hier langs hom drink, het vir die krokodille ’n groter vrees as die bobbejane nie.

Dog daardie dag gebeur daar niks. Tweemaal onderwyl die bobbejane drink, word die skerp, dringende waarskuwing gegee, met die gevolg dat kleintjies na hulle moeders gryp en in rasende angs ’n doringboom opstorm, terwyl die rooibokkie versteen staan van angs. Maar gelukkig het die water beide kere verrimpel agter wykende krokodille aan.

Gedurende die hitte van die volgende middag was die rooibokkie aan rus, onderwyl sebras, hartbeeste, wildebeeste en gaselle — die wagte ’n entjie weg op die uitkyk — digby onder die bome staan of lê. Die bobbejane rus in die droe blare; selfs die kleintjies vind dit te warm om te speel. Opeens ruk die wildebeeste se brandwag sy kop omhoog en staan die lug en opsnuif. Die diere naaste aan hom ontstel dadelik, lig die koppe op en staan in gespanne houding. Ander troppe verneem die tyding; sommige van die bobbejane klim af uit die bome en gaan weifelend staan; die rooibokkie kom haastig op die been; alle oë is in een rigting gevestig toe daar agter die rantjie van ’n heuweltjie uit ’n klein krulletjie rook verskyn.

Daarna versuim geeneen langer nie. Sebras, hartbeeste, gaselle en wildebeeste spring om en laat vat op ’n dreunende galop, weg van die vuur af; die bobbejane slaan koers na hulle tuiste in, en die rooibokkie, baie beangs om nie alleen gelaat te word nie voor ’n geheimsinnige gevaar wat in haar lewe onbekend is, gaan met hulle saam.

Maar terwyl die bobbejane kon opklouter en in hulle skeure gaan sit, steek die volle middaghitte nou neer op die lys waar die rooibokkie die vorige nag deurgebring het en na een blik draai sy om en draf weer af na die voet van die rotskop. Daar lyk dit of ’n geweldige blok, wat vanmelewe van die kranse afgetuimel het, veiligheid bied; sy gaan dus daaragter lê en druk haar plat op die aarde neer met die gedagte dat sy haar slegs só kan vrywaar teen ontdekking deur hierdie nuwe vyand wat haar nou bedreig; want vir die rooibokkie, wat beangs agter die rots uitloer, is die vuur ’n lewende ding, en baie skrikwekkend.

Nog nooit het sy iets teëgekom wat hierna lyk nie. Teen hierdie tyd het dit alreeds versprei en woed nou voort oor ’n lap veld, byna ’n myl wyd, dat die droë gras knetter in die vlamme wat hier en daar tot ’n hoogte van twaalf voet oplaai. Rook, voortgedryf deur ’n fris windjie, rol bo soos ’n digte wolkgordyn nader. Die vuur kom meedoënloos aan en verteer die twee-voet-hoë gras dat niks anders as verkoolde stoppeltjies oorbly nie.

Noudat sy besef hoe onkeerbaar dit naderkom en hoe gou dit die rotse waartussen sy lê, moet bereik, wens sy dat sy nie by die bobbejane gebly het nie, maar liewer met die sebras en wildebeeste saamgevlug het. Maar toe sy besluit om selfs nou nog haar lewe met hardloop te probeer red, en so half opstaan, gewaar sy dat ’n bree baan vuur links van haar verbygestoot het en reeds lek-lek aan die kant van die rotse, terwyl dieselfde regs ook gebeur het. Slegs reg voor haar uit, waar die grond klipperig is en bedek met kleiner afgevalle rotsstukke, is die vlamme gestuit.

Terwyl sy staan en aarsel, onseker of sy sal probeer om by die vuurrand teenaan die rotse verby te hardloop, of bly waar sy is, spring ’n cheetah so ’n entjie weg van die rotse af. Instinkmatig deins sy terug en krimp tussen die rotsblokke in weg, sodat die cheetah, in sy haas om aan die vuur en rook te ontsnap, haar nie raaksien nie. Met geweldige hale galop hy dwarsoor die naaste vuurtonge en pyl na die rivier toe. Dan gly ’n luislang met ’n vaart verby en verdwyn in ’n diep skeur tussen twee kranse. Twee dikdikkies, die gras uitgeja, kom op die klipperige strook, kyk op na die hoë rotslyn waarheen hulle nie kan klouter nie, hol terug, weer teen die aanwoedende vlamme vas, en hardloop dan vertwyfeld in die rondte, te verskrik om die een klein gangetjie dig teen die rotse, waarlangs hulle selfs nou nog kan ontsnap, raak te sien.

Tot op die klipbesaaide strook voor die rooibokkie se skuiling, vloei twee vuurstrome voort om klein polletjies gras te verteer en eerlank ineen te vloei tot ’n nuwe stroom lewende woede. Toe vang die vlamme ’n klompie hoër bome, laai tot ’n yslike hoogte op en brand selfs die rotse swart. Doodbenoud krys die bobbejane; kleintjies klou aan hulle moeders vas, die mannetjies, met halfontblote tande, staan gekeer na ’n gevaar waarteen geen tand of nael kan veg nie. Die rooibokkie beur terug agter die beskermende rotsblok in, totdat sy nie dieper kan nie, en gaan lê, snakkend na asem, die oë wild starend, die bekkie wyd oop, en die hart onstuimig bonsend.

Uit die vallei onder kom keer op keer die hoefgedonder van diere in volle vlug. Die vertwyfelde geskreeu van die bobbejane meng met die geknetter van die vlamme, en een keer dreun die diep, verwoede gebrul van ’n leeu.

Maar gaandeweg brand die vlamme uit. Hier en daar lê boomvormige strepe grys en wit, waar gevalle bome uitgebrand en hulle beeld in die as nagelaat het; en, aangeblaas deur die windjie, vlam telkens een hiervan weer helder op. Maar sulke los vuurtjies het gou weer doodgegaan. Die gevaar was hier verby, hoewel anderkant die kop die vlamme nog onstuimig voorwaarts woed en agter hulle net ’n verkoolde pad laat.

Toe die lug koeler begin word, stap die rooibokkie huiwerend vorentoe totdat sy kan uitkyk oor die oop veld anderkant die kliprots. Sy sien die swart kringe tussen die klippe, waar die vuur amper oor die kaal strook geskiet en die voet van die kop bereik het, en daargunter ’n yslike, swartgebrande plaat van ’n myl wyd, met kort, bruin gras aan elke kant langs om die pad van verwoesting af te streep. Sy sien hoe die twee dikdikkies, wat besef dat die gevaar nou verby is, skielik ophou met heen en weer rondhol en oor die verbrande veld na die veraf berge pyl; en sy weet dat ook sy nou veilig is.

Dog sy maak geen aanstalte om te beweeg nie, en onderwyl sy wag, verskyn ’n gesin leeus uit ’n koppie regs van haar. Selfs hulle, wat die heersers oor die bosveld is en weinig te vrees het van enige ander dier, was verskrik deur daardie verwoestende vyand wat maar voortstorm, hier en daar gekeer deur klippe, maar tog steeds weer vorentoe —- ’n vyand vir wie selfs ’n leeu nie kan aanval nie. Eenkeer, lank gelede, het die mannetjie wat toe nog maar ’n welpie was, bygespring om met tande en kloue die vlamme in ’n brandende graskolletjie te takel; hy het niks gekry wat hy met die kloue kon pak nie, maar hy het vreeslik seer gekry. Daardie herinnering was blywend. Toe hy groter geword het, het hy dit nooit weer gewaag om voortsnellende vuur aan te durf nie, maar weggehol die veiligheid in, met verskrikking vervul by die aanblik en hoor van krakende, springende vlamme. Toe hy dus hierdie keer, onderwyl hy tussen lang gras sluip en sommer so half speel-speel ’n bok betrek, die vuur bokant ’n heuwelrant sien uitslaan, het hy sonder ’n oomblik versuim sy wyfie gaan haal en haar en die kleintjies na die beskutting van die kranse gelei. Daar het hulle neergehurk totdat hy hulle nou kon weglei, die swartgebrande kop verby en oor die vlakte na die lêplek toe.

Toe die leier van die bobbejaantrop hulle sien uitkom, kreet hy sy dringende gevaarsein uit, en die waansinnige lawaai begin opnuut. Maar die leeus slaan geen ag daarop nie. Op enige ander tydstip sal hulle bobbejane doodmaak, net soos hulle ook rooibokke sal doodmaak; maar nou is hulle haastig om by die lêplek te kom, weg van die vuur wat nog oor die oop veld anderkant die kop voortskiet.

’n Uur na hulle vertrek lê die rooibokkie nog in haar skuiling, angstig wagtend op ’n nuwe gevaarsein. Maar niks gebeur nie. Die vuur woed verder en brand uit toe die wind teen die skemeraand gaan lê. Die verhitte grond koel af. Slangetjies kom uit gate waar hulle ingekruip het, diere verskyn uit menige klein opening of skeure en begin, soos die twee dikdikkies reeds gedoen het, koersvat terug na die oorgeblewe gras toe. Die bobbejane bedaar. En toe, eindelik, kom die rooibokkie agter haar rotsskuilte uit en staan ’n rukkie en heenkyk oor die vreemde, swartgebrande veld.

Vervolg...