Lees reeks by Dierestories van lankgelede
DIE LEEUTJIES
Vir die klein leeutjies het alles skielik anders gelyk, en hulle kon nog nie so reg begryp wat dan eintlik gebeur nie. Hulle was digby die wyfie aan speel op die gras, ’n entjie van die lêplek af, toe die mannetjie plotseling opdaag en met sy opgewonde geknor die wyfie dadelik op die been bring. Toe is hulle daar weg, baie vinnigeras wat hulle met gemak kon draf, na ’n groot stapel kliprotse toe. Die wyfie het hulle met die neus ’n rotsopeninkie ingehelp en hulle verplig om te bly in die heel agterste hoek daarvan, waar dit so laag was dat hulle skaars regop kon staan. Sy het voor hulle gaan lê, en toe hulle van nuuskierigheid om die beurt op mekaar se rug klouter, kon hulle by die ingang die mannetjie in gebulte houding sien, sy rugspiere trillend van opgewondenheid.
Toe het nog vreemder dinge gebeur. Die lug het opeens smorend warm geword, sodat hulle gehoes en gestik het; en van buite af het ’n knetterende, krakende rumoer gekom. Toe hulle begin stik, was hulle eerste instink om uit te hardloop in die ope lug in en weg te kom uit die rook wat die skuilplek vul. Maar toe die kleinste van die twee probeer om oor die wyfie se pote te spring, het sy hom toegesnou op ’n manier wat hy geken het as ’n aanduiding dat hy nie nog ’n maal moes probeer om dit te doen nie; en toe hy ’n bietjie later, omdat dit vir hom gevoel het of hy die verstikking en gehoes en hitte nie langer kon uithou nie, regtig probeer het om by haar verby te spring en uit die grot uit te kom, het sy hom met die poot ’n gevoelige veeg toegedien.
Daarna het die twee kleintjies hulle neusies maar teen die wyfie gaan indruk en al banger en benouder geword toe hulle die mannetjie se kwaai, gedempte gegrom hoor en hulle skuilplek warmer en warmer voel word. Eenmaal het ’n vlagie verhitte lug die grot skielik binnegewaai en die rook uitgedryf; toe kon die kleinste outjie, ’n oomblik regop staande met die voorpootjies op die wyfie se rug, die buitewêreld oor die mannetjie se kop heen sien — en dit was verbasend rooi en geel, springend en lekkend, met hier en daar hangende wolke digte rook daaroor. Toe het die wind nogmaals gekom, die rook weer in die grot gewaai, en hy het haastig en koes-koes afgespring en sy neusie in ’n veilige hoekie tussen sy boetie se lyf en die wyfie se rug ingedring.
Hulle het ’n hele ruk daar bly lê voordat hulle besef het dat die lug eindelik koeler begin word; en weldra staan die wyfie op, loop na die ingang van die grot en gaan net agter die mannetjie lê. ’n Paar minute later kom hy op die been, en die kleintjies weet dat dit tyd is om te laat vat.
Kort op die wyfie se hakke kom hulle by die ingang. Wat hulle sien, is vreemd. Die grond is nie meer bruin en sag onder hoog-wuiwende gras nie, maar swart en bedek met stoppels. So ver as hulle oë kan sien, is dit die ene swart; selfs die rotse is vol swart hale. Trouens, eer hulle baie ver gevorder het, kleef baie van die swart aan hulle eie pote en gesigte vas. Maar hulle kry geen tyd om hieraan te dink, of te wonder wat dan kon gebeur het nie. Die mannetjie is reeds ’n entjie vooruit, en die wyfie, nou kort agter hulle, stoot hulle aanhoudend met die neus vooruit. Partykeer draai sy opsy om eers na die lug te ruik en haas haar dan verder, by die kleintjies verby; dan weer, asof sy hulle skielik onthou, kom sy terug en jaag hulle voor haar uit. Die kleinste outjie vind dit onmoontlik om so vinnig aan te druk, en naderhand pak die wyfie hom maar aan die nekvel, tel hom op en dra hom in haar bek. Maar hierdie soort behandeling geval hom darem nie; hy is reeds ’n hele paar weke oud en hoewel nie so sterk en fris soos sy boetie nie, het hy in die laaste tyd baie vinnig gegroei. ’n Paar tree verder sit die wyfie hom dus maar neer en begin hom aanpor om te draf; dog weldra, nadat sy weer ’n slag angstig omgekyk het, pak sy hom weer en dra hom nog ’n dertig tree.
Hy was baie bly toe hulle eindelik en ten laaste terugkom in die boskloof waar hulle lêplek is. Waar die struikgewasse die digste aaneengroei, was die bossies en takke platgetrap en opsygedruk tot ’n tonnel wat na agter toe breër word. Bo-oor groei die bome, met takke wat ekstra beskutting teen son en reën verskaf. Die naaste muur van die kloof maak een kant van hulle tuiste uit, terwyl die ineengevlegte bosse en rankgoed aan die ander kant as muur en dak tegelyk dien.
Veilig in hulle eie gebied, gaan die leeus in die gras net bokant die kloof rus. Die kleintjies lê en hyg van vermoeienis; die wyfie hou wag digby hulle; en telkens rig die mannetjie hom op, om oor die pad waarlangs hullo gekom het, te staan en terugkyk na die rotskop, wat nog in die verte aan die gesigseinder te sien is.
Die kleintjies was moeg. Ure aaneen het hulle vas aan die slaap gelê, maar teen die oggend was die moegheid oor en die jeugdige lewenslus terug. Op die gelykte aan die kant van die kloof is die kleinste van die twee nou besig om sy boetie te jaag in ’n sirkel waarvan die wyfie die middelpunt is. Hulle swenk en koes, spring val-val rond, steek vas, gaan regstaan, dien mekaar speel-speel ’n paar pootveë toe, en daar trek hulle weer, beurtelings die een agter die ander aan. As die opwinding van die spel hulle verder met die kloof langs voer, sodat hulle van die lêplek af uit die gesig raak, gaan die wyfie hulle dadelik opsoek, jaag hulle voor haar uit tot by die ingang van die tonnel en gaan dan statig lê, terwyl hulle aanhou kringe loop om haar heen.
Die mannetjie, wat in die vroeë môre uitgegaan het, keer nou terug. ’n Uur lank het hy 'n trop hartebeeste bekruip, nie baie ernstig nie — want die dag is nie die tyd vir ernstige jag nie — maar darem gedurig met die oog op die moontlikheid dat wat as pure vermaak begin het, op besigheid mag uitloop; en hierdie slag het dit ook gebeur, want toe die buitenste wagte hom sien waar hy deur die lang gras voortsluip, het een ou wat ’n entjie van die ander af gewei het, te lank gesloer om by die wegdreunende trop aan te sluit, met die gevolg dat die mannetjie ’n kans gekry het om hom te bespring en plat te trek. Dit gebeur nie dikwels dat hy helder oordag so ’n geluk kry nie, maar sulke buitekanse is nie te versmaai nie; en nadat hy soveel van sy buit gevreet het as wat hy kon inkry, sleep hy die oorblywende gedeelte terug na sy wyfie en kleintjies toe.
Hulle val weg aan hierdie verrassend onverwagte maal, so gulsig asof kos ’n groot seldsaamheid is; die wyfie, gehurk by die buit, skeur ’n stuk vleis uit, druk dit met die voorpote vas en lek eers met haar growwe tong ’n goeie ruk daaraan voordat sy behoorlik begin inwurg. Weldra staan sy op en stap om die karkas, op soek nog 'n lekker stuk; intussen help die kleintjies hulle aan kleiner brokkies, dra dit so ’n tree of wat opsy en gaan dan lê om daarmee te maak presies soos die wyfie met hare doen.
Hoog in die lug swewe die aasvoëls, in afwagting om netnou die oorskiet te laat verdwyn. Keer op keer skiet 'n oormoedige ruisend na benede, vee rakelings oor die aas en seil met ’n boog die lug in, om oor ’n rukkie nogeens die toertjie te herhaal. Toe die leeus se maal verby is, en die wyfie slaap, word die aasvoëls vrypostiger, hang laer in die lug en stryk herhaaldeliker omlaag, maar geeneen waag dit om te gaan sit solank die leeus nog tuis is nie.
Die mannetjie, voldaan met sy werk en buitengewoon volgevreet, staan nader na die kleintjies toe en begin met hulle speel. Met die kleinste in sy kloue vasgegryp rol hy om op sy rug; dan laat by die outjie saggies eenkant val, rol terug, pak die ander een en wikkel gou weer terug om af te reken met die eerste outjie wat teen hierdie tyd reeds oor sy blaaie klouter. Hy skermspeel met sy kleintjies, klap hulle speel-speel en kry ligte pootslaggies terug. Ondertussen word die wyfie wakker, lê ’n rukkie die mannetjie met die kleingoed te betrag en dan rol sy om en slaan die aasvoëls gade. Haar oë volg hulle vlug soos hulle draal en drywend na benede seil, in die hoogte opstryk en nogeens na benede sweef. Luierig wens sy, soos sy al dikwels tevore gewens het, dat een nog laer wil kom, sodat sy hom kan gryp as hy oor haar seil; maar dit het nooit gebeur nie; dit was sommer ’n ydel, hoewel prettige gedagte.
Gedurende die hitte van die dag lê hulle almal in die skaduwee van ’n boom en slaap. Weldra nader die nag. Die mannetjie kom rusteloos op die been en staan oor die vlakte en kyk, maar die wyfie roer nie. Daar is vanaand, na daardie versadigende maal op hartbeesvleis, geen noodsaaklikheid om te gaan jag nie, en dit is aangenaam om luilekker, so half dromerig, te bly lê, terwyl die kleintjies rustig voortslaap. Maar toe die nag dieper word, staan sy eindelik op, wek die kleintjies en keer hulle aan na die lêplek toe, waar hulle veilig kan voortslaap.
Toe vertrek sy en die nog rustelose mannetjie af na die rivier toe. As daar nog ’n roofkans kom, sal hulle dit sekerlik gebruik, ofskoon hulle geen honger het nie. Maar water drink moet hulle. Onderweg bekruip hulle ’n trop elande, totdat die brandwagte agterdogtig word en waarsku. Dit maak egter geen saak nie; hulle het tog die genot van die bekruipery gehad, en 'n ander aand sal hulle beter slaag.
Hulle bereik die rivier, drink klaar en keer na die lêplek terug.
Die mannetjie se half speelse jagtog die volgende dag was vrugteloos, daar brandwagte tweemaal kon waarsku voordat hy naby genoeg was om te spring. Toe het hy darem erg teleurgesteld gevoel, want eenkeer was hy seker dat sy aanwesigheid onopgemerk gebly het. Maar hierdie pogings om oordag te bekruip, is onbelangrik; in die nag sal hy en die wyfie nog ’n slag gaan jag en dan sal hulle sonder enige twyfel iets plattrek.
Namate die aand nader, keer sy rusteloosheid terug, en nou deel ook die wyfie daarin. Vleis moet hulle vannag bemagtig, vir die kleintjies sowel as vir haarself. Sodra die duisternis toesak, keer hulle dus die kleintjies nog ’n maal na die lêplek toe en laat hulle daar om, lekker warm teen mekaar ingevroetel, te slaap.
Nadat hulle die kleintjies in die skuilplek versorg het, laat die mannetjie en wyfie vat oor die vlakte. Eers gaan hulle na ’n kuiltjie waarin altyd reënwater opgevang word; dit was nie baie ver van hulle tuiste af nie en, hoewel dit in hierdie tyd van die jaar al byna opgedroog sou wees — sodat daar onwaarskynlik wild aangetref sou word — was dit vir die leeus ’n eenvoudige plan om eers daar ’n slagoffer te gaan soek en dan, indien nodig, verder na die rivier se kant toe te gaan. Toe hulle tweehonderd tree van die kuil af is, sak hulle plat in die gras en beweeg voetjie-vir-voetjie vorentoe sonder om die lyf op te lig, sodat die gras hulle rûe heeltemal bedek.
Met die uiterste omsigtigheid sluip hulle vorentoe, die mannetjie ’n paar tree vooruit maar nooit heeltemal reëlreg voor die wyfie nie. Hulle beweeg so stadig en behoedsaam dat die grassate net effentjies roer, weinig meer as deur die luggie kon veroorsaak gewees het. Toe, met slegs nog ’n vyftig tree om af te lê, sak die mannetjie beweegloos plat, en die wyfie kruip nader tot neffens hom.
Die kuil was nagenoeg sonder water, en die grond was deur die pote van talle van diere tot modder vertrap. By die bietjie water wat daar nog was, staan ’n eland en drink — ’n fraai dier, byna ses voet hoog, met pragtige, gedraaide horings. Hy is baie senuweeagtig. Telkens hou hy op met drink om sy kop te lig en die duister na alle kante in te tuur, en met kort tussenpose draai hy heeltemal om, om hom te vergewis dat geen vyand hom onopgemerk van agter kan nader nie. Opeens, onderwyl hy met kop omlaag drink, ruk sy lyf; en op dieselfde oomblik begin die twee leeus met die uiterste behoedsaamheid nogeens vorentoe kruip, tot hulle naby genoeg sal wees om te spring.
Maar dit was nie hulle wat die eland se agterdog gewek het nie. Sy fyn gehoor het uit die verte ’n geluid verneem wat langsaam die kuiltjie nader. Hy wag nie om vas te stel wat dit is nie, maar met een groot sprong en ’n klits van die stert, skeur hy die wêreld en laat die kuiltjie tussen hom en die leeus.
Toe hy wegspring, sak die leeus weer neer in die gras en hou wag. Hulle ook, het nou die naderende geluid gehoor, en ’n minuut of twee later kom ’n renosterpaar te voorskyn. Die rigting van die wind maak dat hulle die leeureuk nie kry nie, en hulle stap aan met ’n ongegronde gevoel van veiligheid. Hulle is vreedsame diere met min belange buiten lekker weiding, drinkwater in kuil of rivier, en ’n verfrissende bad in koel modder.
Dit is om die genot van ’n bad dat hulle na hierdie halfleë kuil toe afkom; daarvoor en om te drink. Eers drink hulle en toe gaan hulle in die modder aan die kant van die water lê en rondrol, tot die grootste gedeelte van hulle lywe met ’n rooierige modderlaag oortrek is. Toe staan hulle op en begin eensklaps speel. Lomp en swaar, blasend en skreeuend van opgewondenheid, jaag hulle mekaar om en om die kuil. Hulle geniet dit geweldig, so sonder vrees en sonder kommer.
Ná die koms van die renosters vertoef die leeus nie langer nie. Aangesien hulle geen begeerte het om die twee renosters aan te val nie, en dit onwaarskynlik is dat gasèle of sebras vannag die kuil sal besoek, is daardie plek vir hulle van geen verdere belang nie. Hulle staan dus maar op en stap weg in die rigting van die rivier.
Oor ’n kaalte gaan hulle, onder verskeie doringbome deur waarin ape skuilhou, jaag ’n klompie girafs op loop en bereik die rantjie van die digte bos en ruigte op die oewer van die rivier. ’n Kwartmyl daarvandaan, weet hulle, is die eerste van die paadjies wat na die sandbank voer, en daarheen draai hulle nou. Die wyfie hou reguit deuskant die bosse langs; die mannetjie draai opsy, tussen die digte struikgewas in, en hou dan, al met die wyfie saam, op die rivierwal langs. ’n Honderd tree van die paadjie af sak die wyfie plat en kruip dan verder.
Aanstons kom ’n troppie sebras oor die vlakte aan. Die donker het toegeneem, en dit is vir hulle onmoontlik om te raai dat ’n leeuwyfie tagtig tree vorentoe in die lang gras lê en wag. Hulle kom haastig aan, die spioen, met waaksame oë en neus, vooruit. Waar die bosse digter begin word, gaan die voorloper staan en dan, gerusgestel dat alles pluis is, stryk hy weer voort, die ander in ’n digte groep agter hom aan.
Toe hulle met die paadjie langs tussen die bosse in verdwyn, kruip die wyfie suutjies en omsigtig vorentoe, totdat sy naby genoeg aan die paadjie lê om enige dier wat verbykom, te bespring. As daar dalk nog ’n trop kom water drink, sal sy hulle nou afkeer van die rivier af, maar daaraan steur sy haar nie. Een van die sebras wat reeds hier verby is, sal haar prooi word; netnou sal hulle verwilderd met hierdie paadjie langs terughol, en dan sal sy een bevlie.
Die sebras gaan voort, onbewus dat hulle terugtog afgesny is, en weldra sien hulle tussen die bome wat die rivier afbaken, lig en water deurskemer; nog ’n paar tree sal hulle op die rivierwal bring. En toe word plotseling die nagstilte geskeur deur die skrikaanjaende gebrul van die mannetjie. Sy kop was gelyk met die grond, en die geluid trek eienaardig, nou skynbaar uit een rigting, dan weer uit ’n ander.
Die sebras, wat nog ’n oomblik staan en aarsel, kon nie vasstel of dit regs, links, of van voor kom nie. Maar dit vul hulle met ontsetting, en eenparig vlie hulle om en jaag met die paadjie terug. En toe een van hulle die oop veld bereik het, lyk dit of ’n geel straal deur die lug blits soos die wyfie uit die hinderlaag skiet. Sy land op ’n sebra se rug, een stel naels in sy skouer, die ander aan sy neus geklem, en beur sy kop na bo en agteroor, onderwyl haar tande diep in sy nek indring. En solank as wat sy byt, knor sy diep en dreunend.
Die sebra se voorbene swik opeens, en hy sak dood in die paadjie neer. Die res van die trop deins opsy, swenk links en kletter in wilde angs verby.
’n Rukkie later voeg die mannetjie hom by sy wyfie langs die slagoffer en laat ’n sagte, strelende geknor hoor onderwyl hy eers die warm bloed oplek en dan aan die vleis begin te pluk. In haar opwinding snou die wyfie na hom as hy na haar sin te naby kom.
’n Uur lank lê hulle daar en vreet aan die sebra. Uit die duisternis agter hulle kruip jakkalse en hiënas, om op kort afstand hulle beurt af te wag; en toe die fees eindelik afgeloop is, en die leeus wegstap na die rivier toe, gly die hiënas vorentoe om die oorskiet op te ruim, terwyl die jakkalse nog rondom sirkel, bevrees om nader te kom, maar steeds hoopvol op ’n kans om brokkies weg te raap.
Die leeus, nou lekker versadig, stap riviertoe om hulle dors te gaan les. Op die rand van die sandbank gaan die mannetjie eers staan en stoot sy geweldige, seëvierende gebrul, stygend en langsaam in omvang dalend, herhaaldelik uit, dat al die diere wat dit hoor, kan weet dat die leeu nog ’n keer geslag het. En daardie geluid laat diere by die drinkplek vreesbevange omvlie.
Tog word die twee leeus, nieteenstaande al hulle triomf, opeens behoedsaam toe hulle die water nader. Op land is hulle oppermagtig, en elke dier gee vir hulle pad; maar in die rivier — dit weet hulle — is diere wat vir hulle geen vrees het nie en wat, as hulle wil, selfs leeus by die drinkplek kan pak en onder die water insleep. Tevore reeds het hulle die donker, bose gedaantes uit die rivier sien opkom, en teruggedraai. bang om te drink. Daarom staan hulle nou huiwerend waar die water teen die sand stoot, nie meer seevierend en onaantasbaar nie, maar vervul met ’n vreemde angs vir wat uit die duisternis mag verskyn. Skrikkerig en wantrouig laat hulle eindelik die koppe sak, en drink. En toe, met hulle dors geles, draai hulle weg van die water af, om nogeens die astrante, vreesaanjaende heersers van die wildernis te word; en nogeens klink die woeste brul van oorwinning uitdagend op.
Vervolg...