KORT VERTELLINGE - JAN SPIES (3)

Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies

Voëls van eenderse vere

Vroeër was dit vir studente heelwat moeiliker as vandag om met ’n middag- of ’n naweek- of ’n vakansiewerk ’n ekstra sakgeldjie los te slaan, want werkgeleentheid was min en die vergoeding maar effentjies.

En so was daar dan drie Pukke wat dit nie te breed gehad het nie: Bok Fourie, Klein-Frans de Bruin en nog een, sê maar Koos. Hulle het in wat genoem is ’n “buitehuis” redelik billike losies bekom. (Daar was glo destyds heelwat sulke buitehuise omdat nie naastenby al die studente in die een of twee universiteitskoshuise blyplek kon kry nie, en van die dorp se huiseienaars het hierdie “woningnood” toe omgesit in ’n byverdienste vir hulleself. Sommiges het selfs net hieruit ’n bestaan gemaak gekry.)

In elk geval, teen die middel van die jaar se kant, is die driestuks toe nie net meer arm nie; hulle is toe op boedel oorgee na, bankrot. En hulle begin beraam planne oor hoe om ’n ekstra sikspensie uit te woeker. En een ding word vir hulle duidelik: as hulle iets behoorliks wil aanvang, sal dit ’n langtermynprojek moet wees - met intussen eenvoudig net vasbyt, al is die swaarkry ook hoe swaar.

En hulle besluit hulle gaan met ’n unieke onderneming in die geskiedenis van studente- finansiële selfbehoud begin. Hulle gaan kuikens grootmaak vir Kersfees, en die opbrengs uit die slaghoenders gaan hulle behoorlik op hulle voete help vir die volgende jaar. En die volgende jaar het buitendien sy eie Kersfees waarop die volgende fase van die besigheid gerig kan word.

En hulle bestel elkeen honderd dagoud kuikens.

Net na die Julievakansie word die kuikens afgelewer, en met manlike moederlikheid versorg hulle die kuikens daar in hulle drie se kamers. Aanvanklik gaan dit goed: die kuikens is klein en hulle word in die kartondose gehou waarin hulle daar aangekom het.

En om dit so maklik gaan, het die manne ruim tyd om aan die geld en die vreugde en die voordele te dink. Maar toe begin die praktyk toon dat die droom en die werklikheid baie ver uit mekaar lê, want die kuikens word te groot vir die dose - die een sê omtrent vir die ander: staan suintoe.

Kom die dose oop, spring die kuikens eenvoudig self uit. Groter en dieper dose help ook nie. En so loop die driehonderd kuikens die drie kamers vol, net waar hulle wil. Alles lyk later of daar permanent ’n hoenderstellasie êrens bokant is.

Toe boender hulle die spulletjie die kamers uit. En toe steek ’n volgende moeilikheid sy kop uit — daar moet gekeer word vir die ou tannie aan wie die kamers behoort, se tuintjie.

Maar probleme is daar om opgelos te word. Hulle maak ’n hoenderkamp in die agterplaas en steek al die kuikens daarin.

Kort hierop besluit hulle om die boerdery planmatiger te probeer voortsit, want hulle kom agter dat dit onnodig tydrowend is deurdat aldrie elke dag aandag aan die kuikens moet skenk.

So word dan besluit dat Bok Fourie die een dag verantwoordelik sou wees vir die kos en water gee, die volgende dag Klein-Frans, en die dag daarna Koos. En dan begin hulle weer voor.

Vir ’n week of so gaan dit eersteklas. Maar toe dink Bok: more gee Klein-Frans tog kos en water.

En die volgende dag dink Klein-Frans dieselfde van Koos: Koos gee tog more . . .

En die volgende dag gee Koos wel die kuikens kos en water, maar toe dit weer sy beurt is, dink hy dieselfde mooi dinge van Bok. En so hou dit aan tussen die drie, en die gevolg van hierdie wedersydse vertroues in mekaar, is ’n toenemende sterftesyfer onder die kuikens.

Na’n ruk sien hulle toe in dat as hulle iets wil wen, elkeen na sy eie kuikens sou moes kyk. En hulle sny die hoenderkampie in drie en verdeel die oorblywende kuikens in drie gelyke groepe.

Maar teen dié tyd is hulle al so platsak dat elkeen in sy enigheid weer ’n plan maak. Bok gooi ’n klompie van sy kuikens oor na Klein-Frans en Koos toe sodat hyself minder hoenders het om kos te gee. Maar Koos en Klein-Frans kom onafhanklik van mekaar op dieselfde idee.

En so maak die drie van mekaar pleegouers vir hulle kuikens.

En die gevolg is dat die sterfte nog meer toeneem.

En skielik sien elkeen dat sy kanse op uitboer ’n redelik sekere feit word. En pleks van kuikens na mekaar toe oorgooi, begin steel hulle hulle verliese van mekaar af terug.

So gaan dit voort tot hulle tot ’n konferensie oor die saak gedwing word. Daarop besluit hulle om die lewendes weer in drie gelyke groepe te verdeel, en dan merk elkeen sy kuikens. Bok s’n bly soos hulle is, Klein-Frans s’n word ’n rooi kol agter die kop geverf en Koos s’n ’n blou kol.

Maar toe gebeur die eienaardige (en eintlik ook verwagte!) ding dat net die ongemerkte groep minder word — Klein-Frans en Koos steel met elke sterfgeval ’n skoon hoender en verf hom ’n blou of ’n rooi kol agter die kop. En later selfs blou oor rooi en rooi oor blou soos hulle van mekaar steel om Bok darem nie heeltemal uit te roei nie.

Naby die einde van die jaar hou hulle weer konferensie. En hulle besluit hulle deel die oorlewendes weer in drie gelyke getalle.

En elkeen het weer sy klompie.

Maar toe is die kuikens al so min dat selfs die bemarking nie meer ’n probleem kon lewer nie.

Twee van die hoenderboere besluit om na die eksamen ’n paar strate te pak en bestellings te neem en dan sommer die hoenertjies self te slag. Die ander een besluit om syne in ’n krat te sit en huis toe te neem as kersgeskenk vir sy pa en ma — dan spaar hy darem op die manier.

Toevallig is hy eerste klaar met eksamen, en hy het sy klompie hoenders in ’n krat en agter in ’n geleende motortjie (’n motor was buitendien destyds ’n verbode artikel op Puk!), en hy begeef hom stasie toe.

Maar die ou karretjie het omtrent al so vyftig-vyftig op petrol en olie geloop en die uitlaatstelsel was meer gat as pyp.

Op die stasie gewaar hy met die aflaai van die krat dat so goed as die laaste ramp die hoenders getref het: wat nie bewusteloos was nie, was dood.

Hy het die krat weer daar in die tjorrie en jaag terug buitehuis toe. Vir die meeste van die bedwelmdes was die terugrit natuurlik die genadeslag.

Maar in elk geval, daar aangekom, gooi hy die spulletjie so plus-minus om die derde in die drie kampies, en van die ander twee groepe gooi hy so ongeveer ’n derde in sy kampie, sodat elke boer lewendiges, bedwelmdes en dooies het.

En hy gryp die tuinslang en spuit die hele spul nat om die moontlik redbares te lawe.

Toe sy twee vriende daar aankom, beduie hy dat hy op die punt was om te begin laai toe hy die floutes bemerk. Hy glo die hitte het iets daarmee te make, en daarom het hy hulle natgespuit.

Was dit nie daarvoor nie, so meen hy, kon die skade nog groter gewees het.

Hulle pluk toe maar die dooies en smous daarmee.

Hieruit kry hulle net-net genoeg bymekaar vir ’n uit-eet en ’n dop.

Die res verkoop hulle lewendig en deel die opbrengs.

Elkeen het uit al sy moeite toe nog nie ’n neseier waaruit hy, as hy sou wou, weer ’n bestelling kuikens kon koop nie.

Maar so ’n gedagte was natuurlik redelik ver van enigeen van hulle drie af.

Toe hulle die volgende jaar weer by hulle losiesplek aankom, se die tannie: “Nee, net nie julle drie weer hier nie. Die hoenderluise het in die vakansie amper al wat leef verteer en ons nie kon gaan vakansie hou nie.”

Want, so vertel sy, die luise het onderdak begin soek en sy het ’n verlore stryd gevoer. Al raad wat oorbly, is dat sy deur die loop van die jaar na vervolgens seker by ’n duisend loseerders sal moet inneem en laat loop om al die luise  elders heen oorgeplaas te kry.