Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies
’n Mis-gissing
Vroeër dae het dit baie gebeur dat ’n motorkar vir sy baas weghol.
Die rede vir hierdie skielike op die vlug slaan is te vind in die wyse waarop die meeste van die ou karre gewerk het. Party het byvoorbeeld net twee ratte vir vorentoe gehad: as jy die koppelaar intrap, is hy in eerste rat en as jy die koppelaar los, wikkel die tjorrie in hoogste versnelling. Vir tru het hy ’n aparte hefboompie gehad. Brandstoftoevoer is met die hand gestel. Aan die stuurwiel was twee armpies, een aan die linker- en een aan die regterkant, en die het jy met jou middelvingers verstel vir vonktyd en petrol. Jy kon nie sommer meer brandstof gee sonder om ook die tyd aan te stoot nie, want dan het jy die kar gesmoor. En gee jy “te veel” vonk, dan “backfire” die spulletjie — of soos ons behoort te sê: dan plof hy terug. (Ek wens ons kon ’n lekkerder woord vir “backfire” kry . . . ) So kon ’n mens dan as jy op ’n swaar plek bly staan, ’n mikstok tussen die koppelaar en die voorkussing insteek, die vonk en die petrol stel, en afspring en help stoot. Jy moes net oppas wanneer die wiele dan ’n gelykte kry of vaste grond uit die sand of modder. Dan moes jy eenvoudig die motor inhol en in die hol opspring as jy verder wou saamry.
En dan was daardie dae se karbatterye selde sterk en dikwels dood. Gewoonlik moes jy slinger draai. En dit het pure draai gevra. Dit was sulke tyd dat die vonk en brandstof baie noukeurig op mekaar ingestel moes gewees het, want was die vonk te vinnig, en die masjien slaan terug, dan pluk hy die slinger uit jou hand en stryk jou oor die kneukels omdat jou hand gewooniik in die pad is soos jy nog aan die draai was. So kon die baas ’n gruwelike pak slae oor die rugkant van sy hand gekry het voor daardie kar eers aan die gang is. En die ou masjientjies het nie maklik (ek bedoel: lig) gedraai nie. Jy moes vastrap en pit in jou vurke hê.
Daarom was dit makliker om die een agterwiel op te dongkrag, die kar aan te sluit, al die stelwerkies te doen en te sorg dat die masjien goed hardloop as jy horn dalk aan die brand gedraai kry. En dan gaan pak jy die slinger.
Met die agterwiel opgedongkrag (“domkrag” het ’n mooi betekenis, maar hy sê nie lekker nie) . . . met die agterwiel opgedongkrag en die kar in eerste rat (hiervoor moes jy die mikstok hê!), het jy natuurlik nie net die masjien gedraai nie, maar alles van voor tot agter: die masjien, die ratkas, ewenaar en agterwiel. Dan werk die besigheid omtrent soos ’n roomafskeier as sy hele ingewande eers op spoed gekom het. Jy draai nie so swaar nie, want al die draaiende goed help jou om die masjien te laat aanhou tot die brandstof deurkom of tot die ontwikkelaar genoeg stroom opwek.
Omdat die ou karre nie baie swaar was nie, het baie mense ook nie eens met ’n domkrag gesukkel nie. As daar hulp was, pak een die ou karretjie aan twee van die agterwiel se speke en lig hom op en die bystander stoot ’n blok of ’n kas onder die agteras in.
En so het ’n sekere ou kêrel weer eenkeer onhebbelik gesukkel. Hy wou laatnamiddag gou die kar raakvat vir die volgende dag se ry. Maar dis later donkeraand en hy kry hom nie op die gewone manier aan die gang nie. Toe word die beproefde metode gevolg, maar om hy bang is die kar val van die dongkrag af, stoot hy ’n petrolkas langs die domkrag in en laat sak die as tot op die kas.
Destyds het ’n mens nog petrol in ’n kas gekoop - twee vier- of vyfgellingblikke petrol in ’n kas.
En die oubaas draai weer. En daar vat die tjorrie.
Die ou oom sê, pleks hy in die kar klim en daar sit solank die ou karretjie ’n bietjie staan en werk, is sy gô so uit van die draai dat hy eers ’n bietjie staan en asem skep, en met die een hand teen die bak leun. En met die leunery voel hy dat die ou karretjie allervreesliks rittel en beef. En hy dag nog iets is nie heel reg gestel nie en dat dit die oorsaak van die swaar vat was, toe twansie die kas. Toe’s dit al die tyd die lendelamheid van die kas wat vir die onvastheid verantwoordelik was.
Die ou sê: “Maar jong, toe darie Ford grondvat, toe kyk hy nie eens om nie. Daar trek hy sonner ligte die nag in.” En hy wou nog agterna hol, sê die oom, maar hy hoor net bosse kraak, en weg is die Ford.
En hy loop huis toe en hy sê vir die ou tante sy moet ’n kers opsteek solat hy kan die lantern kry; hy wil die Ford loop soek.
Sy vra: “Nou waar’t jy hom dan gelos?”
Hy se: “Ek het hom nie gelos nie; hy’t my gelos. Toe hy vat, toe breek die kas. En nou’s die Ford weg. Want ek het die petrol gestel lat hy tog asseblief nie moet vrek as ek hom dalk aan die brand gedraai kry nie.”
Die ou sê vir my: “Jong, en ek is daar weg op sy spoor. Dan kry ek die spoor en dan verloor ek hom weer, maar ek vorder darem. En later hoor ek ’n lawaai by die beeskraal. En dis toe al dêm ver van die huis af. En ek dink: ‘Tatta, as jy innie kraal loop inhol het, sal ek jou vang,’ want ek ken my kraal en hy nie.
“Want die kraal het uit twee dele bestaan. Eers het ek ’n klipkraal gemaak, en soos die boerdery uitgebrei het, moes ek nog gerief bykry. En toe maak ek aan die huis se kant van die klipkraal ’n takkraal.
“En dié het toevallig darie aand ’n klomp gus-bees ingehad.
“En die Ford storm toe natuurlik op die takkraal af. En hy’s duskant deur die klomp takke, en deur die mis vorentoe (dit wys jou net hoe sterk ek hom petrol gegee het!), en teen die klipmuur, daar gat loop hy hom vas.”
Die ou oom sê: “En toe ek met die lamp daar deur die poort stryk waar hy deur die takke gebars het, en ek kyk of daar nog iets in die kraal agtergebly het, want ek is toe bang die beeste is oppie selle manier deur die ander twee kante van die takkraal, toe sien ek net blink oë en bak ore soos die beeste doer teen die kante laans staan en kyk wat aangaan — skoon verskrik. Hulle het toe seker gewonner wat vir nuwe soort bees so befoeterd en boos daar deurie kraal kom hol het om teen die klipmuur te loop staan en brul en mis skop.
“En ek kom daar en ek bekyk die spulletjie. Toe’t darie Ford vir hom nou al in darie mis ingegrou lat dit vir my lyk hy wil daar broei.
“Toe sê ek: ‘Nee verdomp - van jou soort is jy die eerste en die laaste wat ek wil hê.’ En toe sluit ek hom daar af, en daar staan hy vandag nog.”