Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies
In die koelte van die rose
Die verhaal is destyds vertel van die student wat reeds al sy eksamens agter die rug gehad het, behalwe sy mondeling in Hebreeus. En dié het onder andere ’n vreeslike stuk geskiedenis oor die oudheid en ’n breë algemene kennis van Palestina ingesluit.
Teen die tyd dat die mondeling sou plaasvind, moes die student al baie moeg gewees het, en waarskynlik moedeloos ook. Want as een ding nou waar is, dan is dit dat so ’n mondeling op die stert van ’n eksamen ’n beproewing is waaraan net die sterkes en die baie moediges onderwerp word. Want die ander het dan al lankal tou opgegooi.
Maar die kêrel — wat ook lankal nie meer daar moes gewees het nie, en ook nie sou gewees het as dit nie was dat sy vrees vir sy pa hom tot in ’n leeuhok sou laat spring het nie - het geen keuse gehad nie. Hy moes dit gevolglik maar waag met die mondeling, en verder op ’n wonderwerk hoop.
Maar hoe meer hy leer, hoe meer kom hy agter dat sy kans effentjies is, en hoe meer raak sy senuwees op hol. En die môre van die eksamen toe knak hy; toe raak die bitterte hom oor. En hy besluit hy gaan hom netjies aantrek en dan gaat hy kroeg toe en dan loop slaan hy ’n paar stywe doppe om van die mistroostigheid ontslae te raak en dan kom pak hy in en begeef hom op die trein en dan gaan verras hy sy ou-kêrel - wat, nou-ja!
En die een dop trek ’n volgende, en na nog ’n stuk of twee of drie begint die wêreld vir hom vriendeliker word, en hy begin kry sommer moed vir die eksamen ook. En hy dag maar waarom sal hy nie sy “luck” gaan “try” nie. En hy kyk op sy oorlosie en hy sien daar is nog tyd indien hy die mondeling sou wou haal. En hy sê vir die kelner: “Bring vir my nog een vannie selle soort.” En hy sluk die regmakertjie weg en hy sit af kampus toe tot voor die eksamenlokaal se deur.
Daar staan en wag hy toe tot die student wat voor hom was, uit is en die dosente die se punt bepaal het. Toe word hy ingeroep en hulle wys hom ’n stoel. En daar sit hy voor die geleerdes van die Departement Hebreeus, met reg voor hom die professor.
Nou moet ek net eers sê dat die dosente se taktiek in ’n mondelinge eksamen nie altyd werk nie. Want om die student op sy gemak te probeer laat wees - soos hulle dink hulle doen - val hulle met ’n klompie baie maklike vragies weg, en as die knaap daarmee kan hond haar-af maak, dan glo hulle hy het moed geskep en hulle het in hom soveel selfvertroue ingebluf gekry dat hy gereed is vir die eintlike skermutseling. Maar die taktiek werk nie op die lange duur nie, want uit die studente-oorleweringe weet elkeen hierdie maklike vragies is die ligte briesie voor die orkaan. En jy weet nie net dit nie; jy weet ook dat as dit in hierdie kalmerende fase al foeter, die storm dan maar liewer vroegtydig met “Geseende Kersfees vir Professor-hulle” vermy moes kon word. Maar, dis te laat vir uitkomkans. En pleks van kalmerend is die aanlopie ontstellend.
En so het die student van wie ek vertel, ook niks meer nodig gehad as net hierdie aanlopie nie. Dit het min of meer so geskied:
“Kan u ons iets oor Palestina vertel?” vra die professor vriendelik, maar met ’n stemtoon wat die vraag na ’n bielie laat klink.
Die student dink. En dit val hom by dat Palestina halfwoestyngebied is.
“Ja, Professor,” se hy. En hy dink eers nog ’n rukkie of sy antwoord nie iewers ’n vaalkol in het nie.
“Dis warm daar. En droog ook. As dit nie reen nie.”
“Kan u ons nog iets vertel?”
Die professor klink nog steeds die ene minsaamheid.
“Ja, Professor,” se die student na ’n wyle - eintlik net om die gesprek aan die gang te hou solank hy dinktyd probeer wen.
En dan skiet iets moois hom te binne: die roos van Saron. “Daar’s baie roosbome, Professor.”
Die professor se volgende vraag was stomp, en ’n effe surigheid het deurgeklink: “Nog iets?”
“Ja, Professor.”
En dit val die student by dat Saul sy vader se esels gaan soek het - en die Here het ook op ’n donkie gery. “Daar’s vreeslik baie donkies, Professor.”
“Wat nog?”
Die student het diekant toe gedink en doerie kant toe gefrons, maar verder as die drie feite oor Palestina kon hy nie kom nie. En toe besluit hy om maar te werk met dit wat hy het: “Professor ... as dit so warm is, dan lê die donkies onner die roosbome.”
Die professor het ’n punt-of-iets neergeskryf en sommer terselfdertyd die oordeel gevel.
Die ander dosente het met oorgawe daarna geluister.
En die student was ver van alles en almal af. Miskien het hulle gedink hy was verslae, maar hy was kalm — onversteurbaar kalm.
“U kom maar volgende jaar in November weer terug, hoor,” het die professor gegroet en deur se kant toe gekyk as teken dat die weg om te gaan, oop was.
Die student het teruggekom. Hy het predikant geword en die studie in die teologie later nog verder as B.D. voortgesit.
- Dit lyk my daar’s altyd hoop vir die mens wat dit regkry om in die hitte van die stryd tussen die rose te sneuwel...