KORT VERTELLINGE - JAN SPIES (10)

Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies

Broers in die verdrukking

Ek ry eenkeer gedurende ’n vakansie daar in my wêreld dorp toe. En die pad loop nie ver nie van ’n ou oom na wie ek baie gek was, se huis verby. En ek het die dag tyd en ek dink: lat ek ’n slag hier aanry; ons sien mekaar juis so min, en as ek nou eers weer weg is om ’n broodjie te gaan verdien, neem dit dalk jare voor ons paaie weer kruis - as ons mekaar weer te sien kry.

En ek ry daar aan.

Maar sommer met die praat se wegspring sien ek lat die oom met wie ek altyd so goed stryk, die môre glad nie lekker is nie.

En na ’n ruk sê ek: “Maar, oom Daan, wat is dit dan lat Oom vandag al so stomp is?”

Hy sit toe eers of hy nie lus is om te antwoord nie voor hy toe tog die aap se neus by die mou laat uitsteek. Hy sê: “Man, nou ja, ek wou nie daaroor praat nie, maar nou lat jy vra - ek is vies. Dis die ding. Ek voel so annerster omlat ek die woorde nie het om jou te sê hoe nie.” En toe bly hy stil of hy die hele storie klaar vertel het.

“Nou wat dan?” waag ek dit.

Hy sê (en aan die manier hoor ek hy’s nog allietyd warm) . . . hy sê: “Man, ons behoort mos aan ’n ou bleddie geleentheidsvolkie.”

Ek sê toe ja, dit is seker so, maar wat hy nou daar sê kan darem baie dinge beteken: lat ons maar net vir ’n sekere klein doeltjie daar is, of lat ons net lewe vir okasies - van die een na die anner affêre waarvan ons ’n boehaai maak. Ek ek wou nog meer moontlikhede noem, toe laat hy die aap sy spring spring.

Hy sê: “Nee, man, as ons mense saam-saam goed aanvang, henner hulle niemand nie. Maak nie saak of dit sodanige waarde het wat hulle doen nie. Maar wat my so boos maak, is wat die een die anner aandoen. Dis waar ek van praat.

“As jy vandag alles kon hoor wat die mense van hierie distrik en oppie dorp praat, is daar een woord wat jy meer as allie anner woorde sal hoor. En dis die woord geleentheid. Die een soek geleentheid dorp toe, ennie anner geleentheid vannie dorp af. Of hulle bel. Die een die garage. En ’n anner die apteek. En ’n anner die winkel. En ’n anner die poskantoor.

“Ennie een wil hê daar moet gekyk word of daar tog nie geleentheid diekant toe is lat daar vir hom ’n waaierband saamgestuur kan word nie, en ’n anner vra geleentheid doeriekant toe vir ’n botteltjie wit-dulsies, en nog een geleentheid vir ’n skroewedraaier.

En so foeter dit aan: geleentheid vir ’n pakkie wortelsaad, geleentheid vir ’n inkomsteseël, geleentheid vir skoenveters . . .

“En so neuk elke ding wat in hierie land verkoop kan word, met geleentheid-   saam na sy bestemming toe.”

Ek sê: “Ja, Oom, die gewoonte kom seker uit ons arm jare. Toe moes ons van geleentheid gebruik maak. En ons moes mekaar help.

“En ek moet darem by sê, ’n mens spaar baie as jy op dié manier iets kan bekom.”

Hy sê: “Jaa, dit kan waar wees. Maar ek wil nie vandag daarvan hoor nie. Ek is nog te vies.

“Want hier’s mense wat nie geleentheid soek vir iets wat hulle nodig het nie - hulle is op so ’n stelsel lat as hulle hoor van geleentheid, dan dink hulle lat hulle bars of daar nie dalk iets is wat hulle kan laat saam kom nie.

“En darie arreme swernoot wat die goed moet saamkarwei, kan maar vergeet van sy eie besigheid.

“En dis wat laasweek met my ennie vrou-saam gebeur het. En dis waaroor ek nou nog so warm is.”

Hy sê: “Ons het hier goedjies begin nodig kry wat ’n mens sukkel om hier by ons winkels te bekom. En ons besluit toe ons ry Windhoek toe. En ek sê vir die vrou ons moet nou tydsaam soos die goed ons byval, elkeen ’n lys maak van alles wat ons nodig het. Ons moet sore lat ons niks vergeet nie, en dan gaan koop ons groot solat ons vir lank kan klaar gekoop hê.

“Want ek ry al so swaar tussen al die baie karre. Dis mos daar in Windhoek so -jy draai eenkant toe, en as jy klaar gedraai het, sien jy jy moes annerkant toe gedraai het.

“Dis die wat ek die ent pad hiervandaan af tot net duskant Windhoek afwurg. En daar hou ek stil lat die vrou eers vir my kan koffie gee solat my keel kan ooptrek voor ek ons lewens daar inwaag. En as ek my moed bymekaar geskraap het — en dan is dit ook nie veel wat ek bymekaar kon kry nie — dan sukkel ek tot by die naaste hotel. En daarvanda koop ons alles te voet bymekaar.”

“En so het ons dan nou klaargemaak en als agtermekaar gekry, en Donnerdag sal ons Windhoek toe ry. En als het reg geloop tot Dinsdag. Toe ry ek ennie vrou dorp toe vir ’n paar kleinigheidjies en lat ek kan petrol kry en die kar kan laat smeer.

“En dis daar in die garage waar die gemors my begin tref het.

“Want daar staan nog anner mense ook rond en wag. En een vra: ‘Oom Daan, ry Oom dan ’n lang pad laddie kar so danig nagesien moet word?’

“En heel niksvermoedend sê ek ja ek ry oormore Windhoek toe.

“En net daar bars die storm oor my los lat ek later moet sê: ‘Kêrels, lat ek eers ’n skryfding en ’n stuk pampier kry.’ Want toe bestel hulle of ek ’n handelsreisiger is. En ek skryf op. En na ek weet nie hoe lank nie, toe’s die kar eers klaar; toe kry ek die spulletjie ontloop. En ek ry winkel toe om die vrou op te laai. En daar is die arme ding so oorval lat sy skoon moedeloos lyk. Want toe’s die storie die heel dorp deur. Sy staan toe ook al met iets so lank soos ’n kollektelys. En sy skryf nog aan die een se bestelling, dan kom hol daar ’n anner een in: ‘Tan Lenie, ek hoor julle ry Windhoek toe . . . ’ En sy skryf nog aan die een se ding, dan lui die winkel se telefoon. Dan’s dit een wat wil weet of ons nie dalk daar is nie en of die winkelier nie een van ons suintoe kan roep nie — ons ry glo Windhoek toe.

“En ons moes al lankal by die huis gewees het toe’s ons nog besig met ’n inventaris oor wat die distrik uit Windhoek nodig het. Toe kan ek Windhoek, jy kan sê, omtrent leeg koop.

“Agterna moet ek net vir elkeen sê wat sy kleinigheidjie gekos het. Nou kan jy self dink — dis nie net vir koop nie; ek moet nog boek ook hou.”

“En ek ennie vrou kom huis toe en ons koel die vollene dag af en ons ry Donnerdag Windhoek toe en ons kom doodmoeg by die hotel aan en ons blaas so effe en ons pak Windhoek in verskillende koerse met darie lyste. Want ons dag toe: lat ons nou eers allie anner mense se goed koop en dan kan ons tyd vat vir ons eie goed.

“En ek koop toe nou soos ’n man: ek het my affêre mooi netjies uitgewerk en seker gemaak wat ek by elke winkel moet kry, en so vat ek vir Windhoek aan die een kant en ek werk hom deur na die anner kant toe. En kort-kort as my arms te vol goed is, loop laai ek eers af by die hotel.

“Maar die vrou koop toe nie soos ek nie; sy koop soos ’n vrou. En jy ken mos nou ’n vrou se koop. As sy garing soek, vergeet sy van die skoene; en as sy skoene soek, vergeet sy van die wol. Nou ja, so vat sy vir Windhoek van die een kant af na die anner kant toe vir ’n seker kleur wol. En as sy die dan nou eendag gekry het, sit sy daar om — trug na die winkel toe wat sy hoe ver trug gesien het waar sy skoene moet koop. En dan draai sy daar om tot by die wolwinkel verby vir garing. En dan draai sy daar om tot laans die skoenwinkel by ’n plek vir lap. En dan vat sy die straat van voor af want nou soek sy weer gordyngoed. En as sy dié gekry het, draai sy daar om want nou’t dit haar weer bygeval sy moet vir die gordynmakery garing hê. En so loop sy slag op slag die heel Windhoek deur vir net een ding.

“En die middag toe ek oor die toemaaktyd by die hotel aankom lat ons kan eet, toe lê sy daar op die bed — skoon moedeloos. En ek sê vir haar sy moet haar skoene aantrek lat ons kan gaan eet. En sy sê om die dood nie; sy’s te moeg. En vir kos het sy nie lus nie. En ek sê as sy net eers die kos sien en begin eet het, sal sy smaak kry vir iets. Maar sy sê: ‘Kyk hoe lyk my voete. Ek kan nie meer ’n skoen aanhou nie. Loop eet jy maar alleen. Lat ek tog net ’n rukkie rus.’

“En ek bekyk haar voete daar. Toe lyk hulle darem aardig. Hulle is gedruk en geskaaf lat dit lyk die bloed loop nou daaruit. En waar hulle nie gedruk en geskaaf is nie, is hulle geswel. En ek sê nee-o-mag, so kan dit nie aanhou nie. En ek sit ’n kussing onner hulle in lat hulle ’n bietjie hoër lê en ek maak die venster oop lat die luggie oor hulle kan stoot en ek sê ek gaan koop by die kafee vir ons iets en dan eet ons sommer in die kamer.

“En so rus sy dan nou ’n bietjie. En toe die winkels oopgaan, toe sê ek: ‘So, nou loop ek saam met jou lat jy vir jou kan twee loopskoene koop. Want met hierdie kisskoene kan jy nie eers gemaklik sit nie, wat staan dit nou nog loop en goed aandra.’

“Toe gaan dit vir haar bietjie maklikter. Maar wat, dit help nie veel nie, want Vrydagagtermiddag toe begin wen ons eers haar lys. Toe kan ons eers aan ons eie goed begin dink, en elkeen weer sy eie koers loop.

“Maar teen darie tyd toe voel my gemoed al soos die vrou se voete. Toe’s ek darem onsmaaklik vir myself: befoeterd, boos. En as ek tot by ’n winkel geloop het en die kêrel agter die toonbank sê hy het nie die ding wat ek soek nie, dan het ek lus en neuk hom - van skoon kwaadgeit.

“En toe ek en die vrou mekaar weer met ’n aflaaislag by die kamer raakloop, toe sê ek: ‘Jy moet nou pak. Ek wil huis toe ry.’ Want toe sien ek ons gaan nie halfpad klaarkry nie. En ’n Saterdagkopery is mos niks jong, niks. En die vrou sê maar sy het van haar eie goed dan nou, jy kan sê, nog niks gekoop nie. Ek sê: ‘Ja, ek het ok nog nie by veel van myne uitgekom nie.’

“En ons bepraat die ding daar, want toe het nie een van ons lus om die naweek daar ten duurste oor te lê nie. En ons besluit ons pak en ry huis toe en dan kom rus ons eers. Maandag gaan gee ek dan al die anner mense se goed op die dorp af, en ons sê vir niemand iets nie en as ons later in die week dalk die krag het, dan ry ons weer Windhoek toe en ons gaan koop net ons eie goed.

“En oormôre is nou die dag lat ons weer in die pad val. Maar ek het rein gesweer g’n siel sal daarvan weet nie. Jy’s die enigste man wat nou nog daarvan gehoor het.

“En dit kan ek jou sê: dit sal ’n pure nood moet wees wat vir my voor oormôre weer dorp toe jaag. Want netnou laat val ek dalk ’n verkeerde woord.”

Ek sê: “Ja Oom, so is dit: as ’n mens wil gaan besigheid doen, moet jy sorg lat jou tyd jou eie is.”

Hy sê: “Dis mos die lat ek jou sê dorp toe ry ek nie.

“Maar nou lat jy tog hierlaans ry en weer hierlaans moet trugkom, wonner ek of jy nie vir die wis en die onwis net vir my ’n bietjie ekstra petrol kan saambring nie. Kom jy by die garage?”

Ek sê ja ek kom daar.

Hy sê: “Nou man, kan jy nie dan sommer daar vir my ’n ekstra waaierband ook kry nie?”

Maar natuurlik sal ek dit graag vir hom kry.

En kom ek dalk altemits by die poskantoor?

Daar moet ek wees.

Nou, dan kan ek tog sommer hulle pos oor die toonbank vra. En sommer Klein-Gjiel Moolman s’n ook. Want oom Daan en hy maak beurte om te gaan pos haal. En dis vandag juis oom Daan se beurt. En dan kan ek sommer met die trugkom Klein-Gjiel se pos afgjee. Sy huis sit tog laans die pad.

En kom ek dalk by die winkel?

Dis waarheen ek om die waarheid te sê eintlik op pad is. “Ma,” skree hy van die stoep af in die gang in. “Jan sê hy kom by die winkel uit. Het jy iets nodig? Dan kan ons hoor of hy dit nie dalk kan saambring nie.”

Sy sal vreeslik bly wees. Dis net ’n paar kleinigheidjies - vir die wis en die onwis met hulle Windhoek-toe-se-ryery. En sy bring die lysie.

Toe ek na Klein-Gjiel se opstal toe aankom, sien staan ek iemand langs die pad - hand innie lug. En ek hou stil. Dis Klein-Gjiel. Oom Daan het nounet gebel en gesê hy is moeg en ry nie vandag in nie want hy het met my geleentheid vir hulle pos gekry. Ek sal sommer Klein-Gjiel s’n met die trugkom afgee. Maar nou wil hy wat Klein-Gjiel is tog net graag hoor of ek nie van die garage af vir hom iets sal saambring nie. Oom Daan sê ek sal daar aandoen.

Nou ja, ek kom tog by die garage. Waarom sou ek nou nie vir Klein-Gjiel die gunsie doen nie?

Die aand na my vrou die winkelgoedjies uitgepak het, is sy glad nie lekker nie. Net toe ek wou ry, het sy dan nog van die stoep af geskree van ’n sekere ding wat ek moes saambring. Ek moet tog nie vergeet nie, want sy het nie onthou om dit op die lysie te skryf nie.

En die ding is nie gekoop nie.

Ek verduidelik natuurlik so goed ek kon hoe onmoontlik dit was om alles te kon kry tussen al die ander bestellings deur. Maar dit help nie veel nie.

Eers die volgende dag kry ek dit reg om weer vrede oor die huis te bring.

Dit het so gekom: ons buurman se werfjong kom daar met ’n kar en donkies verby winkel toe. Ek vra of ek hom nie ’n briefie kan gee en dat hy dit net by die winkel afgee en dan tog die ietsie saambring nie.

“Goed so, Basie,” sê hy. “Ek moet juis van baas Willem ook ’n notisie afgjee en die goed kry. En ons anner werfmense het my ook ’n lys gegjee. Nog ’n ekstra pakkietjie sal nie die draaghout laat breek nie.”

Laat-namiddag kom hy trug en hou voor die agterdeur stil. Daar ontvang ek met dankbaarheid die belangrike ding. “Basie,” sê hy, en dis of hy huiwer om te sê wat dit is wat hom so skielik tref. Hy sê: “Basie, nou lat jy so lekker staan en pypsuie dink ek mos daaraan lat die groot ding waarvoor ek winkel toe gery het, met al die anner kope wat ek moes koop, skoon vergjeet gebly het. Ek rook nou al hoevil dae spaarsamig.”

Ek sê vir hom: “Maar Anneries, nou klink jy mos vir my na ’n baie bekende mens.”

Hy sê: “Maar hoe-dan, Basie? — Ons rook dan dieselfde twak.”