Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies
Tert na smaak
Ek ontvang ek ’n telegram van ’n ou vriend daar uit die Nossob se wêreld in die Kalhari. En die ou oom Ammeltjies Kok telegrafeer: “Vertel van die melktert”.
Die ding het so gebeur.
Hy en die ou tante kom ry een donker-aand hier by my in Johannesburg aan, en hy sê vir my: “Jong, jou pa het my vertel jy bly aan die duskant van Johannesburg, en toe vra ek jou adres. Nie vir hiernatoe ry nie, maar lat ek vir anner kan vra om my die pad tot hier by jou te beduie. En hier is ek nou. Nou moet jy my asseblief onnerdak gjee virrie nag. En dan moet jy my môre hier deur die gopse na ’n plek toe help wat hulle die ‘Oos-Rand’ noem. Ek sal jou die adres gee. Ons wil daar by familie gaan kuier.
“Maar voor ons daarheen versit, moet jy my eers help lat ek ’n pakkie hier iewers by ’n meisiekind afgjee.”
Ek vra: “En vir wie is die pakkie? Ken ek die mens?”
Hy sê: “Man, dis vir ou Annie Blomkamp se dogter, Tollie. Sy leer mos hier vir verpleegster.”Ek sê nee, maar dis als reg. Ons pak hulle goed af en dan slaap hulle die nag hier by my en ons kuier die annerdagmore en ons vind oor die telefoon uit wanneer die kind by haar losiesplek sou wees en dan ry ons en ons gee die pakkie af. En dan kom laai ons, en ek help hulle verder op hulle pad aan na die Oos-Rand.
En ons begin laai die goed af en dra dit in die huis in. En ons kom by die eerste van die goed wat binne in die kar is.
En ou oom Ammeltjies hou ’n ding by die deur uit. “Vat tog mooi aan,” sê hy. “En hou hom net so. Hierie kant bo. Hiers onner andere glo ’n melktert in. Ek kom die hele pad met hom in die posisie. Ou Annie het ook daar geskrywe ‘hierie kant bo’.”
Ek sê: “Wat? Wil Oom vir my sê Oom kom nou hier in Johannesburg aangery met ’n melktert uit die Nossob?” En die ou kom uit die kar orent, en toe sien ek hy kan nie langer sy leed verswyg nie.
Hy sê: “Ai man, ek ry al die heel ent pad van laasnag af met die bleddie ding of hy ’n klein babatjie is.
“Want so gaan dit mos: jy wil ’n anner mens help, en dan maak hy van jou misbruik. Ou Annie kom annerdag by my en sy vra of ek dan nie tog vir Tollie ’n pakkie sal saamneem nie. Dit sal net ’n kleinigheidjie wees.
“En ek sê: ‘Seker Annie, bring maar. Ons ry Woensdagnag, want ek wil deurry lat ons Donnerdagaand in Johannesburg is’.
“En gistermiddag kom ry sy toe daar aan met die pakkie. Daar is dan nou glo allerhanne eetgoedjies in, met bo-op ’n melktert.
“Want man, ou Annie het mos die naam lat sy kan melktert bak. En nou verbeel sy haar as sy nie melktert ook bak nie, dan het sy, jy kan maar sê, glad nie gebak nie.
“Maar haar storie is toe lat die kind geskryf het lat alles in Johannesburg in orde is, maar een ding waarsonner sy nie kan klaarkom nie, is sonner haar ma se melkterte. Want sy is so lief vir melktert, en die goed wat hulle daar ’n melktert noem, is net ’n kors met so ’n slympie oor. Dis die wat sy gister ’n lekker melktert gebak het en wil he ek moet die pad daarmee waag Johannesburg toe.”
En ons loop praat-praat die huis in.
Ek sê: “Oom, om te verwag dat ’n mens met ’n melktert die ent pad moet aanpak, is vir my darem die limiet.” Hy sê: “Jong, ja. Jy kan self dink die vrou moes die eerste ent pad orie duine die pakkie op haar skoot hou. Ons kon dit op die gelyk pad eers waag om die ding op die agterkussing neer te sit. Maar jy kan glo: van ons laasnag in die pad geval het, bly maal die ding in my kop. Dit was so goed ek ry met swak bande wat my aanmekaar onrustig hou.
“Maar hier is ons dan nou darem, en ek hoop die tert is nog heel.”
In die kombuis bekyk ek die pakkie in die helder lig, en daar staan toe geen “hierdie kant bo” op die bokant nie. En ek lig die doos tot bokant my kop. En daar sien ek toe teen die onderkant geskrywe: “Tert vir Tollie. Hierdie kant bo!”
Ek sê: “Oom Ammeltjies, hierie doos se bokant sit onner.”
En hy lees ook van onder af, en maak self seker van hoe die onderstebo bokant lyk.
“O hemeltjie, wanneer sal die ding dan nou so onnerstebo te lanne gekom het,” kla hy.
Toe kapittel hy die outannie, maar sy staan haar man. En toe’s hulle saam kwaad vir ou tan’ Annie Blomkamp oor die verleentheid waarin hulle toe nou sit om hulle voor my en my vrou met mekaar woorde moes gehad het oor die teleurstelling vir Tollie Blomkamp.
Na hulle tot verhaal gekom het, se oom Ammeltjies: “Ek het nou lus en word stout en maak die ding oop en kyk wat gaan binnekant aan.”
En ons maak so.
En toe is dit soos ons gevrees het, want darie melktert lyk toe of jy hom deur ’n hamermeul gehad het.
En ons beraadslaag oor die verdere lot van die tert, maar alle planne is groen.
Om die hele spulletjie net so toe te maak en dit vir Tollie Blomkamp te gee, het geen sin nie. Buitendien voel oom Ammeltjies dit sou ’n te vreeslike klad op sy naam wees. Die klonte en smeersels tert buite los, sou ook nie deug nie, want ou tan’ Annie het ’n briefie saamgegee, en daarin sou sy so seker as wat die Kalhari rooi is, geskryf het van die eetgoedjies en die tert.
Om te maak of oom Ammeltjies op sy beurt van hom af ook die tert per geleentheid na Tollie toe gestuur het, en dat dit haar toe nie bereik het nie, wil oom Ammeltjies se gewete weer nie toelaat nie. (Hy sou baie maklik vir ou tan’ Annie kon gaan vertel het dat hy my gevra het om die pakkie in haar hande te besorg, en ek sou weer kon sê dat ek dit vir een van haar maters gegee het omdat sy nie by die koshuis was toe ek na haar gaan soek het nie, en so sou die pakkie dan tussen bek en klou kon verdwyn het.)
En toe voel ek ook ek het lus en word stout, en ek doen ’n vars plan aan die hand: ons eet die verfonkfaaide tert daar en dan op, en die volgende more loop koop ek ’n vars tert by die bakkery, en ons maak die pakkie van voor af op en ons gaan gee hom vir Tollie, en ons kyk wat word.
Terwyl ek nog praat, begin oom Ammeltjies se oe al blink.
“Man, die Kalhari leef nog in jou,” was al wat die ou sê.
Ons maak toe so en die volgende more gaan koop ek die mooiste melktert wat die bakker in sy rak het, en ons maak die pakkie oor op, en gedurende die middag-uur begeef ons ons na Tollie se losiesplek en ek laat roep haar na die kar toe.
“Jong, hier’s ’n pakkie van die huis af, maar jy sal hom maar moet gou oopmaak, want binne is glo ’n melktert, en hy kom nou al ’n ver pad met my saam van jou ma se oond af.” So raak oom Ammeltjies van die turksvy ontslae.
Tollie sê: “Oom Ammeltjies, ek sal die pakkie nou gaan oopmaak, en dan nooi ek my maters lat hulle darem eenmaal in hulle lewe kan proe hoe melktert moet smaak.”
En ons is daar weg en huis toe, en ek het oom Ammeltjies-hulle oor die pad gehelp tot by hulle bestemming, en so vurk ons weë toe uiteen totdat ek hom ’n jaar of wat later gedurende ’n vakansie, in die Kalhari raakloop.
“Het oom Ammeltjies toe weer iets van my melktert gehoor?” vra ek hom.
Hy sê: “Jong, na ek en die vrou truggekom het, het ou Annie my, jy kan maar sê, kom toeval oor darie tert. Sy sê vir my: ‘Ammeltjies, die kind skryf die tert het daar aangekom soos ek hom hier uit die oond gehaal het, en hy het gesmaak of sy hom aan my eie stoeptafel eet. En haar maters kan nie genoeg oor my tertbak praat nie.’ ”
Ek vra: “En wat sê Oom toe?”
Hy sê: “Man, toe sê ek vir haar: ‘Ja, Annie, soos wat jy kan bak en soos wat Tollie kan proe, so kan ek ry.’ ”