Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies
Die wondergat
Die weg voer my nou eendag tot hier in die Noord-Vrystaat by ’n ou oom Hennerik en tan’ Fredericka van Wyk. En onse praat het wye draaie geloop, want as oom Hennerik eers anie gang gekom het, is hy soos ’n Duwisib-perd wat die stang vasgebyt het. En alliepad bly tan’ Fredericka in die bonnel, want dit lyk my sy verbeel haar as sy nie by is nie, kan oom Hennerik nie vertel nie; en hy, lyk my, dink weer ’n mens glo hom nie as hy haar gesag nie kan inroep nie.
En so beland ons drie-stuks later in Noord-Afrika.
En oom Hennerik se vir my: “Man, ek was mos innie laaste Wêreldoorlog die heel Noord-Afrika deur. Waar daar geveg is, was ek innie voorbonnel (as ek nie die aanvoerder was nie) - vra virrie vrou, daar sit sy.”
Maar op die oomblik moes tan’ Fredericka se gedagtes elders ’n draai gemaak het, want sy sê: “Dissie heilige waarheid. Daar’t my ou man die terroriste geskiet lat hulle dingese gons.”
Oom Hennerik sê: “Neeee vrou, nou dwaal jy. Dit wassie Duitsers wat ek so laat les opsê het.
“Vra virrie vrou - daar sit sy,” sê hy vir my.
“Dissie heilige waarheid, dit was die Duitsers,” slaan tan’ Fredericka haar ploegie se skaar om.
Hy sê vir my: “Jong, by Tobroek het ek heel voor op die voorpunt gelê en skiet vir dae — vra virrie vrou, daar sit sy.
“En was dit nie lat dit ek was wat daar lê en skiet het nie, het daar geen enkel een van ons manne uitgekom nie — vra virrie vrou, daar sit sy.
“Want jong, toe’t ons manne dit nie meer kon uithou nie, en opvlie en vlug, toe sien ek hier kom ’n groot gemors, want toe’s die Duitsers op volle vaart. En ek lê nog so ’n rukkie en wag lat hulle goed onner skoot kom en my sal moet sien as ek ook opspring. En toe vlie ek op lat ek plat op my twee voete staan - vra virrie vrou, daar sit sy. En ek skiet - al oppie voorpunte, al oppie voorpunte. En pirtykeers net voor hulle, net voor hulle — sulke blomme stof. So hou ek hulle teu —jy sien, lat ons manne kan kans kry om weg te kom. En ek skiet. En Rommel het hierie kant geprobeer verby en hy’t darie kant geprobeer verby. Maar ek bonnel vir hulle daar lat Rommel later met al wat hy het daar op my aanlê – vra virrie vrou, daar sit sy.”
Ek sê: “Tan’ Fredericka, kan dit waar wees?”
Sy sê: “By my siel.”
En ek wou nog keer lat oom Hennerik nie by my ook ’n oorwinning behaal nie, toe is hy al weer trug by Tobroek: “Jong, en soos ek sê, Rommel stel sy hele geskut teen my op, en hulle skiet vir my toe onnerie stof. En daar trek nie ’n luggie nie. En so lank as hulle wag lat darie bank stof moet loop lê, toe vat ek my goed en ek stap op ons mense se vlugspore agterna. Ennie tweede dag namiddag toe haal ek hulle eers in, sonner nat of dro oor my lippe - vra virrie vrou, daar sit sy. Maar toe’s ons almal uit. En toe loop skop ons onner Montgomery se bevel by El Alamein vas.
“Man, maar sukke dapperheid kan ’n mens mos nie vir jouself hou nie. Die mense praat daaroor en later weet almal. Montgomery het my laat roep - vra virrie vrou, daar sit sy. En ou Jannie het uit die Kaap gekabel. Maar dit was alles net voortekens van wat nog sou kom. Want Hitler het ook van my gehoor. En hy gee sy hele spioenasiediens opdrag om my innie hanne te probeer kry en voor hom te bring — vra virrie vrou, daar sit sy. En hoe hulle dit reggekry het, weet ek nie. Maar daar het ek gesien hoe fyn ’n Duitser kan werk. Hulle het als van my geweet voor ek nog self met ’n inkele een van hulle kon praat. En hulle kom ontvoer my een nag tussen al ons wagte deur uit my tent by El Alamein. En ons is daarvena by Rommel laans en dié ’t my in ’n vliegtuig reguit Berlyn toe - vra virrie vrou, daar sit sy.
“En daar’t hulle my tussen ’n klomp hoe kokkedore laat aantree, en hier kom Hitler. Maar man, hy kom nog daar aan, toe steek hy al sy hand uit, en hy sê vir my: ‘Vriend, lat dit my gegee en gegun was — die eer — om die hand te kan vat van ’n werklike dapper man, dit maak al die hele oorlog die moeite werd,’ vra virrie vrou, daar sit sy.”
Ek sê: “Tan’ Fredericka, kan dit waar wees?”
Sy sê: “Dis so goed Hitler het jou dit self vertel.”
Maar oom Hennerik hou by sy storie.
“Jong, en Hitler laat verdaag darie anner spul. Hy wil alleen met my praat, sê hy.
“En hy sê vir my: ‘Man, meneer Van Wyk, ek dink van jou te veel om te vra lat jy na ons toe moet oorloop. Want jou soort sal nooooit sy eie mense verraai nie.’
“Maar hy wil net vir my sê, sê hy, lat as hy net vyf van my soort kon gehad het — een aan elke front — dan wen hy die oorlog binne ’n week — vra virrie vrou, daar sit sy. En toe het ons ’n ruk lekker gesels tot ek later vir hom sê ek dink hulle moet my nou maar trugvat want netnou loop ek die slag van El Alamein mis. En dit wil ek nie graag nie, want ek voel ek is geroep om die groot ding van my lewe daar te doen.
“Toe wens hy my vreeslik sterkte toe met die slag wat voorlê, en hy sê hy kan eintlik nie meer wag om die verslae te lees oor alles wat ek daar sal doen nie, en hy sê al was die ou tydjie wat hy my te siene kon kry dan nou so kort, dan wil hy my verseker lat hy dit so waardeer lat hy dit nooit in sy hele lewe sal vergeet nie. En daarom wil hy dan nou uit dankbaarheid vir my ’n aandenking saamgee — vra virrie vrou, daar sit sy. En hy gee my toe ’n waterwyser. Man, ’n apparaat met duisende draadjies en wysertjies en goeters. En hy sê vir my met darie ding sal ek nooit ’n droë gat afsteek nie.
“En hulle het my daar weg tot by Rommel, en die’t my truggesmokkel tot binne in my tent met apparaat en al. En toe wen ons die Slag van El Alamein. Ek dink die Duitsers se moed het deur hulle stewels tot in die Sahara gesink toe hulle die nag sien die spioenasiepatrollie vat my trug na Montgomery toe — vra virrie vrou, daar sit sy.
“Maar nes dit met my dapperheid gegaan het, was dit ook na die oorlog met daardie apparaat wat Hitler my gegee het. Die mense lek my blink, maar ek wil maar nie wys nie en ek wil maar nie wys nie. Tot ’n man en vrou doer uit die Karoo eendag hier by my kom aanry en vir my sê hulle krepeer daar vannie dors. Ek moet dan tog kom help.
“En ek sien sommer die stomme mense het in hulle lewe al baie dors gely, en ek sê nou ja goed ek kom — vra virrie vrou, daar sit sy.”
En tan’ Fredericka sê: “Ja, en hy loop steek vir hulle die Oog van Kuruman af.”
Oom Hennerik sê: “Nee, vrou, nou dwaal jy al weer. Dis by Kuruman waar ek die apparaat loop toets het en waar ek vir die poelieste gesê het die oog sit glad nie op die sterkste plek van die aar nie.
“Man, dis doer onner in die Karoo waar ek vir die dors mense die water gaan aanwys het. Darie plaas was toe al soos ’n sif geboor — vra virrie vrou, daar sit sy.”
Tan’ Fredericka sê: “So geboor lat jy nie daar kan loop nie of jy trap in ’n gat.”
Oom Hennerik sê: “En tussen darie spul droë gate daar loop ruk darie mesjien van my skoon uitmekaar sosie water op hom trek. Jy sien net flenters waai — vra virrie vrou, daar sit sy.
“En net daar kap ek my hak innie grond, en ek sê: ‘Hier, net hier.’
“En die kêrel wil my nog betaal, maar ek is innie kar en toe hy met sy tjekboek by die voordeur uitkom, toe ry ek al doer — vra virrie vrou, daar sit sy.
“En dit was my geluk lat ek so gou weggekom het, want toe hulle ’n dag of wat daarna darie aar oopslaan, toe verdrink daar tien mense — vra virrie vrou, daar sit sy.”
Ek sê: “Tan’ Fredericka, kan dit waar wees?”
Sy sê: “Dis so goed jy het dit in die koerant gelees.”
Ek sê: “Oom Hennerik, maar kon hulle dan nou nie die gat na Oom of na tan’ Fredericka vernoem het nie?”
Hy sê: “Man, hulle het hom na die vrou vernoem, maar by ons staan hy bekend as die Fredericka van Wyk-bron - vra virrie vrou, daar sit sy."