Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies
Nasmaak van ’n lang draai
’n Kêrel wat op die spoorweë ’n swaarvragmotorbestuurder was, vertel my dat hy en ’n paar van sy makkers enkele jare gelede ’n stuk of twee klipmeule van ’n fabriek in Johannesburg af tot anderkant Silva Porto, dis glo ’n ent by Nova Lisboa verby, in Angola moes neem waar die vergruisers by ’n brugbouery benodig is.
En die firma wat die goed gelewer het en die Angolese paaiedepartement en alle ander instansies wat by die saak betrokke was, het glo alles gereël. En toe val die manne hier in die pad. Vier bestuurders, hulle assistent en ’n verkeersman met ’n begeleidingsvoertuig. By Upington om, deur Suidwes op boontoe.
Tsumeb is die laaste plek waar die voertuie gediens kon word en die manne kos vir die lang pad verder in die hande kon kry. En om hulle totaal onbekend was met die geriewe in Angola, het hulle heelwat proviand opgelaai en vir die wis en die onwis sommer nog ag dromme brandstof ook.
Op ’n Donderdag spring hulle toe daar weg en kom die namiddag laat by die grenspos op Osjikango aan die noordgrens van Owamboland aan. Dit was toe reeds te laat om oor die grens te kom en daarom slaap hulle toe maar die nag daar.
Die Vrydagmôre is hulle vroeg op en toe die pos aan die Suidweskant van die grens oopmaak, begint gaan hulle deur.
Alles vlot goed en nie lank nie of hulle beweeg oor die stukkie niemandsland van so 'n honderd tree tot by die Portugese pos aan die noordekant van die grens. En daar val hulle in ’n klomp onnodige besonderhede vas. Om in Angola te kan ingaan, het hulle visums nodig. En dit het hulle nie. Vir die ekstra brandstof het hulle permitte nodig, en ook dit het hulle nie. En nog ’n spul nonsens.
Toe is daar ’n oor-en-weer-gesukkel. Die Portugese pos praat per radio met Luanda, dié gesels met Windhoek. Windhoek soek raad by Pretoria; Pretoria wonder wat Lissabon aan die hand kan doen. Lissabon raadpleeg Luanda, weer die grenspos; die een grenspos na die ander grenspos.
Die ander grenspos kontak weer vir Pretoria; dis weer die Portugese konsul in Johannesburg; hy op sy beurt die fabriek; dié weer vir die spoorweë. Hulle slaan draad na Pretoria toe. En later gaan die son vir die konvooi tussen die twee grensposte onder. Hulle val uit die stukkie niemandsland terug tot weer duskant die Suidwes-grenspos, want daar was 'n paar lekker koeltebome vir die naweek se sit (Saterdae en Sondae sou ‘n man nog met die grenswagte ’n plan kon maak maar Luanda, Lissabon, Pretoria en Windhoek is dan buite aksie). Maandag sou die oorlegpleëry verder voortgesit word.
Die Saterdag maak die manne toe ’n voorraadopname.
Vir die naweek sou hulle genoeg kos hê, maar dit sou vorentoe kon lol. Die enigste uitweg sou wees om oor die naweek te spaar ten einde die week beter tegemoet te kon gaan. Daarom besluit hulle om hulle ingemaakte kosse te spaar en iewers in Owamboland ’n slagding te koop. So gesê so gedaan. En hulle maak 'n draai met die begeleidingsvoertuig. By ‘n Owambokraal koop hulle ’n lekker vet bokkapater en wy hom die Saterdagaand saam met ’n stywe pot pap in. Sondag pak hulle hom verder aan, want dis warm en die bok sou nie ’n trae etery verdra nie.
Maandag kuier Luanda, Lissabon, Pretoria en Windhoek verder, en die manne eet bok.
Dinsdagvoormiddag ook nog.
En Dinsdagnamiddag kom hulle uiteindelik deur die twee grensposte. By die eerste dorpie anderkant die grens maak hulle aand en eet die laaste van die bok, behalwe ’n stukkie blad wat oorskiet. Dié sit hulle in ’n pot sodat die deksel kan help teen die vlieë.
Die Woensdagmôre is hulle vroeg op die been en laai alles wat hulle vir die aand en die nag afgehad het. Wat uit die son gehou moes word, kom nou in die kajuite van die vragmotors want die begeleidingsvoertuig word hier agtergelaat - die Portugese voorsien hulle eie gidsmotor en -beampte. Maar behalwe die Portugese padwyser moet daar ook ’n veiligheidskêrel saam, en hy moet glo op een van die vragmotors ry. Hulle besluit toe dat twee van die bestuurders in die een vragmotor en die kêrel wat my die storie vertel het en die wag in die ander vragmotor sou ry, met die res van die span in die gidsvoertuig.
Volgens my segsman het dit die môre met die laaiery maar taamlik dol gegaan, maar hulle het darem na ’n rukkie alles op en daar gaan hulle. Maar hy sê al die voorsorg was toe onnodig, want kort-kort kom hulle op ’n gehuggie af en aan kafees en hotels is daar geen gebrek nie. Die etery is toe heel gemaklik.
En alles gaan voorspoedig, sê hy, maar die Woensdagmiddag toe kom hy agter hy sal met die Portugees wat saam met hom ry, by water moet uitkom. Want daar’s aan die kerel so ’n ligte klankie.
Maar hulle ry dan nou maar voort en die aand trek hulle van die pad af en slaap. En die Donderdag ry hulle verder. Hy sê en hy dink: “Ai dierbaarheid, Portugees.” En later kan hy die kraak nie meer uithou nie en hy hou stil en loop na van sy maters toe, toe hulle ook tot stilstand kom. En hy sê vir hulle: “Julle moet vir my help; ek kan dit nou nie meer by daardie Portugees uithou nie.” En hy is buitendien ook nie die enigste bestuurder vir daardie vragmotor nie.
Die ander vra wat dit dan is en of hy moeg is.
Hy sê: “Nee, moeg is ek nie; dis vir my lekker om te bestuur. Maar darie Porra se voete kom ’n lang pad sonner water; hulle het al ’n geskiedenis.”
Die ander sê nee, dan is dit die beste dat hy dit maar probeer uithou en die Portugees dit aan die verstand moet probeer bring dat hy ’n slag sy voete moet was — want hy en die goor mannetjie ken tog nou al mekaar.
En hulle ry weer. En hulle kom later by ’n stroompie water. En hy hou weer stil. Hy dink toe hy sal nou maar die Portugees in die goeie voorgaan en voete was. Miskien volg die Portugees hom daarin. Maar die het geen erg aan die wassery nie. En die man beduie vir hom hy moet sy voete ook was, maar die Portugees skud sy kop. Hy wys net na die son en die weste en dan na sy voete. Of dit toe beteken hy sal die aand ook voete was en of dit beteken dat hy die vorige aand sy voete gewas het en of dit beteken dat dit saans voetewastyd is, weet die kêrel toe nie.
En hulle ry weer. Maar toe kry die Portugees ook lewe, want dit lyk of iets hom ook pla. Hy wys na sy neus en dan na sy voetekant of na die boom van die kar toe, en dan trek hy ’n vies gesig. Wat dit beteken, was uit die aard van die saak nie duidelik nie - sy voete kon van nature ondraaglik wees, of hy kon bedoel dat dit nie sy voete is wat so praat nie, of hy kon beduie dat die fout dalk by een van hulle se neuse lê.
En die aand trek hulle weer van die pad af. Maar toe slaan daar al ’n walm uit die kajuit. En die kêrel sê hy stoot die trok se deure heel oop en hy laat staan hulle so. En die anderdagmôre, dis toe Vrydag, is hulle weer vroeg op en hulle skakel die voertuie aan en laat hulle ’n rukkie luier om werkverrigtingshitte te kry.
En die kêrel kom by die ander terwyl die karre so staan en werk. Hy sê vir hulle: “Mense, die hele nag se lug het darie Portugees se nagedagtenis nie uit darie trok gewaai gekry nie.”
En hulle ry. En hy sukkel die hele dag saam met die Portugees in darie galbittere kajuit deur. En hy’s vies, en die Portugees lyk trug vies - ent-ent sit hy eintlik met sy neus teen die wind deur die oop venster.
Maar hulle haal die aand. En toe is dit gelukkig ook by hulle bestemming, en die Saterdagmôre laai hulle af en draai om. Toe ruik die kajuit groen.
En hulle kom later by ’n plekkie waar hulle moet aandoen vir brandstof. En solank as hulle buite om die voertuie besig is met die brandstofintappery, tonnel die Portugees voor in die dik kajuit. Dit lyk amper soos ’n meerkat wat daar nesskrop. En skielik peul hy daar uit. En toe hy grondvat, toe hol hy - eers ’n ent met die straat langs en toe om ’n hoek, skoon weg.
Hulle wis toe nie wat aangaan nie, en wag so ’n rukkie. En daar kom die polisie.
Maar die Porra is nie by nie.
Gelukkig kon een van die poeliesmanne ’n bietjie Engels praat sodat alles nie op ’n beduiery hoef af te loop nie. En die verduidelik toe dat die veiligheidsbeampte nie verder hoef saam te ry nie omdat sy werk as toesighouer oor die vrag afgehandel is. Hulle sou net graag sy kooigoed wou hê.
“Met plesier,” se die arme man wat al die dae die stank moes verduur. En hy loop haal die Portugees se slaapbondel van die trok af. Hy sê en hy dra dit doer ver van sy lyf af en hy gaan goi dit agter op die poeliesjiep.
Maar terwyl hy daarmee besig was, vertel hy, was dit vir hom of die een poeliesman so op ’n distansie by die trok se deur wou inloer en of hy so onderkant die wind langs die lug opneem. En toe lyk dit of hy met sy maters ruggespraak hou.
En dit moes waarskynlik ook wees wat gebeur het, want die woordvoerder kom beduie toe dat hulle reken dat dit selfs nie meer nodig is dat die gidsvoertuig hulle verder hoef te vergesel nie.
En so loop die weë van die spoorwegmanne en die Portugese daar uitmekaar.
Voor in elke voertuig kom daar toe drie man te lande. Maar voor die wegtrek nog, toe klim die twee nuwelinge in die stink trok al uit. Nee, sê hulle, om die dooie dood,
Die kêrel sê en hyself het nog tot darie middag probeer; toe smaak dit die lug word loog.
En hy hou stil en wag dat die ander trok bykom.
“Kyk,” sê hy, “van darie Portugees is nou nog net die leë sitplek en moontlik die stof wat hy laans my ingetrap het, oor. Maar wragtag, as julle nie nou vir my ’n gasmasker kan uittoor nie, moet julle kom help skoonmaak.”
En dit was toe met die uitpak om die kajuit ’n slag heeltemal leeg te kry en te sien of hulle hom nie dan op ’n manier uitgevars kon kry nie, dat een van hulle op die potjie met die bok se stukkie oorskot afkom, en die deksel lig.
Na hulle tot verhaal gekom en die nodigste gedoen het, het die ongure gebeurtenis ’n ander smaak begin kry.
Die spoorwegman sê vir my hulle het daar gelag tot die kajuit al hoeka neutvars gewaai was. Want toe wonder hulle wat die Portugees alles moes gewonder het. En wat hy alles vir sy vriende by die polisiestasie vertel het.
En dié moes natuurlik ook oor hulle ander makkers in die konvooi begaan gewees het. Daarom was die begeleiding kwansuis skielik nie meer nodig nie - veral na die een van hulle self ’n draai onderkant die wind gemaak het.
Maar terug by die Potugesie self: die verdenking tussen hom en die bestuurder moes wedersyds gewees het, totdat hy die eerste was om agter te kom dat geen voete tot so iets in staat kon wees nie en dat die benoudheid ’n ander oorsaak moes hê.
Met sy rondvroetelry voor in die kajuit terwyl die ander manne by die vulstasie besig was, moes hy natuurlik ’n kyk in die pot gekry het. En toe moes hy geweet het dat die beproewing vorentoe tot by die grens vir sy weerstand te veel sou wees.
En sy grootste vrees was waarskynlik dat hulle hom dalk vir ete mog nooi ...