KORT VERTELLINGE - JAN SPIES (16)

Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies

Alias alias alias

My weg kruis nou annerdag met mense wat ek nie geken het nie s’n, en hulle nooi my uit om later by hulle te kom inloer, en die kansie doen hom toe voor en ek begeef my sountoe en ek klop. Maar dis stil, en ek klop weer, en toe kom daar sommer oormaat lewe binnekant.

“Lovie, jy speel weer met my,” skree die vrou. “Die deur is nie gesluit nie, my Ding.”

Ek stap toe maar in, en ek het kwalik my sit gekry, toe loer die vrou om die deur om te sien of dit rerig Lovie is wat ingekom het. En toe sy my sien, was dit of sy so ’n effense kleurtjie kry en sy slaan met haar hand op haar kastige gaap.

“Ek skaam my dood,” sê sy. “Ek dag dis Pieta; hy het net gou ’n brood gaan koop.”

Ek sê: “Nee, ek het aangeneem jy dink dis Piet, maar ek wou nie aanhou klop solat jy dalk dink dis hy en hy probeer tempteer jou nie. Toe kom sit ek maar.”

Sy wou nog iets sê, maar hier kom Piet met ’n koerant en nog alles behalwe ’n brood.

Ons groet mekaar en vra oor en weer die een en ander uit. En toe daar so ’n asemskepkansie kom, vra die vrou: “Engel, groet jy dan nie vir my ook nie?”

Hy sê: “Ag, askies tog, my Dier.”

En die engel sak die dier daar toe lat dit lyk of die eindgerig voltrek word.

En toe hy haar los, sê sy: “Lammie, nou maar gee net die brood lat ek vir ons iets te ete kan regkry.”

Hy sê: “Haai Skattie, maar jy het fishpaste en jem gevra.”

Sy sê: “Gogga, maar ek sê dan: ‘Lovie, gaan kry vir ons ’n brood en dan bring jy sommer smeergoed ook saam’, en toe vra jy nog: ‘Toeks, wit of bruin?’ en toe sê ek: ‘Oubaas, wit,’ en toe vra jy: ‘Ounooi, en watse smeergoed?’ en toe sê ek: ‘Fishpaste en jem, seblief my 'Kokkewiet’ en toe sê jy ‘O.k my Uiltjie’ toe jy my groet.

Hy sê: “Poppela, maar dit kan nie wees nie.”

Sy sê: “Hartlam, waarom sal ek dan nou vir jou jok?” Hy sê: “Maar sies, Tollie, skaam vir jou. Ek dink mos nie jy lieg vir my nie, my Liefling.”

Sy sê: “Pieta, gaan spoel uit jou mond. Hoe kan jy sê jy dink nie ek lieg vir jou nie?”

Hy sê: “Koekie, maar ek dink mos ook nie jy lieg vir my nie.”

Sy sê: “Maar my Pitoto, ek dink ook nie jy dink ek jok nie, maar jy sê lieg”.

Pitoto sien toe lig.

“Haai Sweat-hart, ekskuus tog,” sê hy. “Maar om ek nie dink jy jok vir my nie, sê ek toe ek dink nie jy ‘lieg’ nie. Maar ek is jammer, my Klossie.”

Klossie sê toe: “Sê mooi jy is jammer, my Pawpaw, en dan soen jy my, en dan vergeet ons dit.”

Pawpaw drup toe ’n sousie jammerte oor Klossie en hy soen haar of hy pas by haar kwytskelding van vyfjaar hardepad gekry het.

Sy sê: “My Gammat, dan moet jy nou maar eers op jou spoor trug en gou vir ons ’n brood gaan koop.”

“Nee, my Honey, dit doen ek nie voor ek nie eers ’n koppie koffie uit jou twee handjies gehad het nie,” stel hy sy eis.

“Sekerlik, my Deda; die water het net voor jy gekom het, al gekook,” sê sy, en woerts die vertrek uit.

Maar dit moes haar glo bygeval het dat ek ok dalk ’n knop in die keel sou wou wegsluk. En sy kom trug om te vra of ek ook ’n bietjie boeretroos wil hê.

Ek sê ja asseblief— swart en bitter.

En sy’s uit, en trug met die koffie.

“Hierso, Koekeloe,” sê sy.

“Dankie, my Donsie,” kom dit van hom af.

En toe Koekeloe die skinkbord by Donsie neem, buig hy oor die koppies lat ek bang word sy das hang in die koffie. En hulle tuit hulle lippe vir mekaar en hulle speel bekkie-bekkie lat hulle soos twee duiwe op ’n gewelmuur lyk.

Na die koffie was dit “tata, Sielietjie” en “tata, Engel” en ’n afskeid vir die brood se gaan koop om die straathoek, dat dit smaak of hulle verwag dat twee kontinente en ’n oseaan hulle sou skei.

En toe ons van die reis af terugkeer, groet Skapie vir Bokkie lat Sielietjie en Engel van netnou in elk geval sou lyk of hulle die gees gegee het.

Toetsie-kepoepsie het toe toebroodjies en tee vir ons voorgesit. En of dit was omdat die brood so ’n opvallende afwisseling tussen die stroopgoed deur was, weet ek nie, maar na ons geëet het, toe sak Skapie van flus, wat intussen Kerools geword het, vir Toetsie wat toe Dolladais was, uit dank vir die toebroodjies, daar by lat ’n mens sou sweer ons het ’n maaltyd uit ’n Amerikaanse prentjieboek gehad.

Ek is later weg, en of hulle mekaar al ingesluk het, weet ek nie.

Moontlik het hulle voor die tyd versuiker...