Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies
Baas bo baas met sê
Ek kom by ’n oom en ek sê vir hom: “Dag Oom, hoe gaan dit?”
Hy sê: “Nee jong, goed. Net warm en dro.”
Ek sê: “Ja Oom, vir die warmte kan ’n man lyf wegsteek; jy kan darem af en toe onder ’n boom inkom of bietjie innie huis gaan sit, maar wat die droogte betref, is daar niks te make nie.”
Hy sê: “Ja, dis mos wat ek ook sê, maar dis nie allie mense wat dit verstaan nie. Want baie van hulle dink nie eens oor droogte en reën na nie, jong. Wat sal hulle dan nou nog iets daarvan leer?”
En voor ek nog kan vra waarom hy nou juis so sê, val hy vanself met sy storie weg:
Dit het ek nou annerdag gesien. Hier kom ’n kêrel van die Landbou aan, maar toe hy daar by die hek inkom, toe lyk dit vir my hy kom veg verkiesing, want hy het daar ’n arm pampiere by hom wat jy nie aldag sal sien nie.
En hy sê vir my: Dag Oom, ek is vannie Landbou.
Ek sê: Dag jong. Kom sit.
Hy sê: Oom, ek en ’n paar van my maters, ons ry nou deur die hele land, want die regering het besluit lat ons moet vorms invul en by elke boer ’n lys maak van allie goed wat hy nodig het. Want die regering weet die boere kry swaar en hy wil nou vir die boer als gjee wat hy nodig het.
Ek sê: Jong, nee-dankie. Ek het niks nodig nie.
Hy sê: Oom, dit kan nie waar wees nie. Die boer sal altyd iets nodig hê. Oom moet net dink.
Ek sê: Man, ek het als. Maar daar’s een ding wat ek nie het nie. En ek het dit ook nie gekry nie. En dit kan die regering ook nie vir my gjee nie — al is dit nou ook my eie regering.
Hy sê vir my: Neeee Oom, Oom dink verkeerd.
Hy sê: Die regering kan vandag met als help. Daar’s niks meer wat die regering nie kan gjee nie.
Hy sê: maar hy weet waaraan ek dink. Dis die een ding waaraan al die boere sal dink.
Ek sê: Maar laat ek hoor.
Hy sê: Oom, dis kapitaal. Die boer moet kapitaal hê, want sonner kapitaal kan hy nie uitbrei nie, en kan hy nie verbeterings maak nie. En as hy nie kapitaal het nie, dan kan hy ook nie vooruit kom nie.
Ek sê vir hom: Dis waar, man, die boer moet kapitaal ook hê. Maar daarsonner kom hy darem verbrands ver as hy wil. Jy kan maar vir my vat, jong. Toe ek hier op hierie ou plaas kom intrek het, het ek nie een pennie kapitaal gehad nie. Ek het hier aangekom met net my twee hanne. Kapitaal is nie die ding wat ek nodig het nie, en dis ook nie die ding waarsonner die boer nie kan klaarkom nie.
Hy sit toe so ’n bietjie maar wragtag hy probeer weer: Oom, sê hy, as dit nie kapitaal is nie, dan weet ek wat dit is.
Ek sê: Maar laat ek hoor.
Hy sê: Oom, dis grond. Die boer moet grond hê.
Ek sê vir hom: Man, nou lat dink jy vir my aan oom Wolf en Jakkals.
Ek sê: Oom Wolf wou ’n boer gesien het, want hy’t vir Jakkals gesê hy’s nie bang vir ’n boer nie. En toe sê Jakkals hy sal vir hom ’n boer gaan wys, en toe loop hulle en toe kom hulle op ’n kind af. En toe wil oom Wolf die kind storm. Maar toe sê Jakkals: “Nee Oom, hy moet nog ’n boer word.” En toe kry hulle ’n ou man wat met ’n kierie loop, en toe wil oom Wolf hom ook sommer met die sien al storm loop. Toe sê Jakkals: “Nee, oom Wolf, dit help nie. Hy was ’n boer.” En toe loop hulle verder en toe kry hulle die boer met sy haelgeweer, en toe oom Wolf hom storm, toe skiet hy oom Wolf se hele agterwêreld vol haelkorrels. Toe sê oom Wolf: dis darem ’n gevaarlike ding, ’n boer. Want hy’t ’n donnerstok en as hy daarop blaas, dan brand ’n man se agterwêreld.
Ek sê vir hom: Man, ek wil jou nou net só om sê: Ek praat nie van die mense wat nog boere moet word, of die wat boere was nie. Ek praat van die boer, jong, wat boer is. Hy het genog grond om jou hele agterent in te begrawe as hy wil.
En ek sê: My liewe magtag, hier sit ek dan nou op my eie grond met jou en praat. Wat sal ek dan voor sê daar’s een ding waarsonner ek nie kan klaar kom nie?
Hy sê nee, maar nou weet hy.
Ek sê: Maar laat ek hoor.
Hy sê: Oom, dis gesondheid. Die boer moet gesond wees, want hy moet hard werk.
Ek sê vir hom: Man, moet nou nie vir my louter nonsens vertel nie. Gesondheid is ’n ding wat alle mense moet hê. Daar’s nie ’n mens wat sonner gesondheid iets kan uitrig nie.
Ek sê: Maar al het ’n boer ook nie altyd die gesondheid nie, jong, dan kan hy nog steeds aangaan. Want ek was darem al bitterlik siek op hierie ou plaas en dan laat sleep ek net my bed tussen twee vensters lat ek kan weerskant toe kyk, en dan gee ek my orders uit die kooi uit, en as ek die dag daar opstaan, dan sal jy sê ek was nooit siek gewees nie. Nee, man, jy kan ver kom as jy net jou kop gebruik.
Hy sê vir my nee, maar nou weet hy wat die ding is.
Ek sê: Maar laat ek hoor.
Hy sê: Oom, dis ’n veestapel, ’n kudde. Die boer moet vee hê.
Ek sê vir hom: Man, dis nes met die grond.
Ek sê: As ’n boer nie grond het nie, is hy nie ’n boer nie, en as hy ’n veeboer is, en hy het nie vee nie, wat is hy dan?
Hy sê vir my: Ja Oom, dit is so. Maar nou weet ek waaraan Oom dink.
Ek sê: Maar laat ek hoor.
Hy sê: Oom, dis ’n subsidie - ’n subsidie wat groot kan help. Hy sê en dis nou juis wat die regering wil gee.
Ek sê vir hom: Man, dis nie die ding wat ek nodig het nie, jong. Want ’n subsidie is nes ’n krismisboks wat jy vir jouself koop. Dis net belasting en belasting en nogmaals belasting, en dan kry jy dit trug.
Hy sê vir my: Ja Oom, maar ons anner betaal darem ok baie aan die belasting.
Ek sê vir hom: Hoevul het jy help betaal?
Hy sê: Nee, sê eers vir my wat Oom laaste jaar betaal het.
Ek sê: Jong, dit was op ’n sent of twee na, net mooi ’n duisend rand.
Toe lag hy. Hy sê: Oom, ek het tweeduisend rand betaal.
Ek sê: Nee man, wag. Los nou maar die belasting. Hoevul monde het jy kos gegee?
Hy sê ja, sy vrou en twee kinners en ’n bediende.
Ek sê: Kom tel bietjie hier op hierie ou plaas wat als hier sit.
Ek sê: Jong, dis onnerdane van die regering wat ek hier kos gjee. Dis sommer belasting wat ek self hef. Jy kan jou ou belastinkie maar vergjeet.
Maar net met dié kom die vrou hier met koeldrank aan. En hy sit toe daar in dieselle stoel waar jy nou sit.
En ek sê vir hom: Die klamte smaak darem lekker in ’n man se keel as dit so warm en dro is.
En ek sien sommer nou het ek hom darem ver gehelp na die antwoord toe.
Hy sê: Oom, nou weet ek aan wat se ding Oom dink.
Hy sê maar dis nie meer ’n probleem nie. Die regering maak lekker voorsiening vir pure hulp in die verband. Hy sê nou weet hy verseker.
Ek sê: Nou maar laat ek hoor.
Hy sê: Oom, dis water.
Ek sê vir hom: Ja, man, daarsonner is ’n plaas nie ’n plaas lat jy nou kan sê hy’s ’n plaas nie. En vir water moet ’n man dankbaar wees. Baie dankbaar ok, jong.
Ek sê: Maar doer staan my windpomp mos.
Ek sê vir hom: Man, en ek ken baie plase, en van hulle is daar darem min wat waterloos is.
Dis nou nog nie die ding waarsonder ek nie kan klaarkom nie — al is ek ook hoe dankbaar lat ek die water het wat ek het.
Ek sê: Dink nou net bietjie verder.
Hy sê vir my: Nee Oom, nou’s dit vir my duidlik, nou weet ek. Ek sien Oom dink in die geestelike rigting in.
Ek sê: Nou maar laat ek hoor.
Hy sê: Oom, darie ding waarsonner die boer nie kan klaarkom nie, en waarvoor hy so baie dankbaar moet wees, en wat die regering hom nie kan gjee nie . . .
Hy sê: Oom, dis seën.
Hy sê: Die boer moet seën hê op sy arbeid.
Ek sê vir hom: Man, dis baie waar. Maar seën eien jy nie aan homself nie; jy sien seën aan iets anners - aan jou kinners of jou gesondheid of jou voorspoed of so iets. Maar darie ding waarsonner jy nie kan klaarkom nie - ek bedoel nou die boer, man - ek sê darie ding, dis ’n milde seën, jong.
Ek sê: Jy’t nou eers grond toe gekyk en toe sien jy water, en nou kyk jy op, maar jy kyk te hoog boontoe. En nou sien jy weer nie die ding waarvan ek praat nie.
En die mannetjie kyk op in die kaal blou lug.
En ek sê vir hom: Man, jy moet nader kyk.
Hy sê: Nee Oom, ek sien niks.
Ek sê: Man, nou maar dit is die ding darie.
Hy sê vir my: Neeee, Oom, dan weet ek nie wat Oom nodig het nie.
Ek sê vir hom: Man, dis reent, jong. Reent, man, reent, reent, reent, reent, jong. Dis die ding wat ek nodig het. Ek sê vir hom: Man, jy kan vir die boer kapitaal gjee en jy kan vir hom ’n veestapel gjee, en gesondheid . . .
Ek sê: Maar dit help als niks as hy nie reent kry nie.
Ek weet mos, man, sê ek vir hom, as ek nie reent kry nie, dan is ek siek al makeer ek ok niks.
Ek sê vir hom: Jy moet jou skoolgeld gaan trugvra, man. Julle leer van als, maar van die een ding waarom alles draai, leer julle niks.
Dit help nie lat jy lyste en lyste name en goed uit jou kop uit ken, en jy weet nie eers van reent nie.
Ek sê vir hom: As die reent kom, is alle anner teespoed mos ’n plesier, man.
Ek sê: Jy moet hierie ding wat jy vandag hier kom leer het, loop vertel vir jou mense. En as jy weer kom, dan’s die eerste ding wat jy vir my vra: Oom, het Oom reent gekry? En as ek sê ja, dan sê jy: Oom, dan het Oom niks verder nodig nie; ek is bly dit gaan so goed met Oom-sam.
Toe sê hy vir my ja hy sal dit doen.
Hy sê: Ek sal dit doen Oom; ek sal vir almal loop vertel wat ek vandag hier geleer het, want Oom het vir my baie, baie diep anie dink gesit.
Ek sê: Ja, dit kan jy weer sê...