Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies
Desemberstorie
Dit is in ons tyd so dat ’n mens Desembermaand met gemengde gevoelens tegemoet gaan.
Aan die een kant is dit die maand van die grootdae: Geloftefees, Kersfees, Oujaarsdag . . . en behalwe die uitgaan uit die oujaar, ook die inloop in die nuwe. ’n Maand van dankbaarheid en vreugde. Maar dit het ook iets anders geword. Ons feesdae het ander-soort-dae geword: Geloftedag het blote vakansiedag geword, Kersfees ’n piekniekdag, oujaarsdag die aanloopjolyt vir die pure plesier van die eerste dag van Januarie.
Dit sou dalk nog kon gaan - al die soorte van anderswees. Nie al die inwoners van ons land is Geloftedagmense nie, almal is ook nie Christene nie, en 31 Desember is ook nie vir almal die einde van die jaar nie. Maar wat onhebbelik geword het, is dat Desember die maand van die boef en die stroper en die dief en die inbreker geword het. Dit is die maand waarin jy nie meer weet of jou suurverdiende goedjies in die nuwe jaar dalk nuwe base sal hê nie.
En sommer in die algemeen is Desember die maand van spandabelrigheid en losbandigheid.
Dit is om al hierdie redes dat ek die afgelope dae sit wonner het of ek dan nie dalk tog ’n storie in die hande sou kon kry oor hoe goed die mens tog kan wees nie.
En toe val iets my by. Ek het vroeër ’n storie of twee oorvertel uit ’n manuskrip wat wyle sersant Piet Marais nagelaat het en wat mevrou Marais vir my uit die Strand aangestuur het. En daarin was iets wat ek nog wou navertel, en dit smaak my die ding wil nou hier in November ’n Desemberstorie word.
Sersant Marais vertel dat hy in 1918 in die Kaap gestasioneer was. Op ’n dag kom daar toe in die hawe ’n boot aan met siek soldate, en die mense word dadelik na die Wynbergse hospitaal toe geneem. Oral is skertsend vertel dat hierdie soldate Spaanse piep het. Maar dit was nie lank nie toe begin hierdie einste Spaanse piep sommer baie mense plattrek. En die hospitale word vol. En party het nog so met die piep gespot, toe begin sterf die eerste siekes al.
En so het die griep-epidemie in 1918 begin.
Dit was natuurlik nie hoe lank nie, toe breek die griep onder die polisie in Kaapstad ook uit. Maar teen hierdie tyd was die hospitale al so vol dat daar nie vir hulle ook nog plek was nie. Daar is toe vir hulle ’n tydelike hospitaal in die polisie-depot ingerig. Tot op die biljarttafels is later kooi gemaak. Maar dit was nie lank nie, of daar begin plek te kom, want die dood het sy intrek ook daar kom neem. En so is van die siek kêrels die een na die ander daar in en die dooies die een na die ander daar uit.
Later toe gaan dit so erg dat al die normale polisiewerk in die Kaap tot stilstand gekom het. Die manne wat teen die tyd nog op die been was, het daagliks ’n harde program gehad, want hulle moes allerlei soorte van diens lewer. Sersant Marais (toe nog ’n jong konstabel) se roetine het so daar uitgesien:
By die polisiestasie was daar ’n lykshuis. En al die mense wat tot sterwe kom en niemand gehad het om hulle te begrawe nie, is daarheen gebring (en daar was baie, want die hele Kaap was teen dié tyd omtrent al met griep in die bed). Dan is daar lykskouing gehou, want dit sou kon gebeur dat mense ook aan ander oorsake dood is, en sommige sulke sterftes sou om nader-ondersoek vra.
Nou ja, soggens om sesuur gaan konstabel Marais met ’n klomp prisoniers na die lykshuis om ná die lykskouing die lyke te versorg en hulle in komberse toe te werk. Daarna laai hulle die liggame op vragmotors en neem hulle na die Woltemadekerkhof om daar begrawe te word. Voor hy en die prisoniers egter in die lykshuis ingaan, ontvang hulle elkeen ’n kleipyp en tabak sodat hulle kan rook solank hulle besig is. Die geloof was glo dat die rook beskerming teen die griep sou verleen. En dit was glo ook tydens die uitdeel van hierdie kleipype dat die ou grootkokkedoor, ’n ene luitenant Wallace, smors daar te perd opdaag met ’n bottel whisky in sy saalsak. Dan slaan hy en konstabel Marais elkeen ’n paar groot slukke daarvan weg - net so skoon. En dan is die luitenant dadelik weer op pad na die ander plekke waar daar nog poeliesmanne was. Sy hoop was dat hy op dié manier sy enigste paar oorblywende weerbare manne op die been sou kon hou. Elkeen moes eenvoudig net sluk, en saam met elkeen het hyself ook ’n paar doppe van die elikser geneem. Sersant Marais vermeld nie of die luitenant op die voete gebly het nie - ek bedoel nou: nie deur die griep platgetrek is nie.
Ewenwil, na die verpligtinge in die lykshuis is daar ’n kort eetkansie. Dan gaan konstabel Marais na die stadsaal toe, waar ook ’n tydelike hospitaal ingerig was. Daar moes medisyne uitgedeel word, sop aangedra word, siekes verpleeg en gehelp word. En dan moes daar ook nog kos en medisyne na huise toe geneem word waar die mense hulleself nie meer kon help nie.
So hou dit aan tot saans sesuur. Dan stap konstabel Marais terug polisiedepot toe. Stap moes hy, want daar was geen trems nie - alles het tot stilstand gekom.
Daar gaan help sien hy om na die siek poeliesmanne en siek prisoniers wat die hele dag daar en ook in die tronk sonder hulp van buite moes klaarkom.
Hoewel die siek geregsdienaars en prisoniers tot heel laaste moes wag voor hulle saans redelik professionele hulp kon ontvang, het dit nie beteken dat hulle gedurende die dag totaal onversorg was nie.
Die drie man wat voltyds hier aan die roer van sake gestaan het, was die tronkbewaarder, die hondemeester en ’n saalmaker. Die res van die personeel moes alreeds elders gaan help. En toe raak die drie man aldrie ook siek. En hulle kon nie na die depot of na hulle huise toe gaan nie, want dan’s daar niemand by die tronk oor nie. Hulle het toe as’t ware vir hulle in die tuig lêplek laat inrig, en die sleutels vir die prisoniers gegee.
En hulle het die tronk se alle deure en hekke oopgesluit en die hele affêre vir hulle ingerig soos ’n losieshuis. En toe het hulle met hulle liefdesdiens begin. Hulle eie siek makkers en die tronkbeamptes en ook die siek polisiemanne van die depot het hulle versorg. Wanneer een van hierdie mense sterf en die lykskouing verby is, het hulle hom met ’n stootkarretjie begraafplaas toe gestoot sodat sy mense hom kon begrawe, en as dié nie daar was nie, of nie kon nie, het hulle dit gedoen.
Na die griep ten langelaaste uitgewoed was, was al hierdie prisoniers (die wat natuurlik die griep oorleef het) nog in die tronk — nie een het weggeloop nie. Almal het getrou gebly en hulle werk goed gedoen. En toe is hulle almal op vrye voet gestel - ongeag hulle oortredings en sonder inagneming van hulle vonnisse.
Sersant Marais sê dit was vir hom so aandoenlik toe hulle kwaad hulle kwytgeskeld is, maar so naar dat dit die wrede epidemie gekos het om vir ’n kort rukkie die Kaap te forseer om iets so moois uit die mense van wie jy dit die minste verwag het, te haal.