KORT VERTELLINGE - JAN SPIES (21)

Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies

Oubaas en Mankoeran

Daar in Kimberley se wêreld het ’n oubaas gewoon wat ek hier in die storie dan ook maar Oubaas noem, want dit was die aanspreeknaam wat hy baie gehoor het.

Hy en die ounoi het hulle planne reg gehad vir hulle heel oudag, en toe was die ounoi op ’n sekere dag voor die planne nog werklikheid kon word, nie meer daar nie. Toe moes Oubaas dorp toe trek. En dit het in die ou kêrel se lewe groot verandering beteken. Sy ou maat was weg en sy kar en pêre se tyd was ook verby. Daarom moes hy op sy oudag leer motor dryf om oor die pad te kom.

Maar soos dit altyd in die lewe gaan, was daar by die ongeluk darem geluk ook, en dit was dat Oubaas saam met hom ’n weggoiklong gehad het — van so twaalf jaar oud. En die se naam was Mankoeran.

Wat Mankoeran geweet het, en waarop hy baie trots was, was dat hy ’n koningsnaam gehad het. Die oorspronklike Mankoeran was ’n opperhoof iewers verder noord, wel lank voor Mankoeran se tyd. Maar wat Mankoeran nie geweet het nie, was dat dit ’n ou Boere-bynaam was. Die opperhoof het mank geloop en ’n vierkantige kop gehad en so het hy dan geheet Mank Koeraan (want ’n koraan se kop lyk mos amper soos ’n vuurhoutjiedoos), en daarvandaan het dan gekom die naam Mankoeran, waarop klein Mankoeran so trots was. Nou, vir Oubaas was hierdie koningskind, Mankoeran, eers soos ’n peetkind en later omtrent soos ’n eie kind. Hy was Oubaas se handlanger, sy geheue, sy oë, sy beskermengel, en die meeste van alles: sy ore. Want die ouderdom het eerste by Oubaas se ore ingetrek.

En vir Mankoeran kon Oubaas baie dinge gewees het,  maar bo alles was Oubaas vir hom Oubaas.

Oubaas was ’n trots man, te trots om raad of hulp te vra. Net teenoor een mens was hy oop soos ’n boek. Vir die het hy geen geheime gehad nie en geen swakhede of skete om weg te steek nie. Daardie mens was Mankoeran.

Mankoeran is oral saam met Oubaas, want waarmee Mankoeran nie kon help nie, mog Oubaas ook nie die hand aan slaan nie. Want Mankoeran se hulp was oral nodig. So was hy by Oubaas se motorkar net so noodsaaklik soos die battery.

Van die eerste dag af.

Na Oubaas ’n hele klomp karre deurgekyk het, en elkeen se eienaardighede vir hom beduie is, toe vra hy: “Mankoeran, vir waffer een moet ek kans sien?”

“Virrie blou Bokshol, Oubaas.”

“Nou ja, dan vat ek hom.”

En Oubaas het betaal en gesê hy stuur later iemand om die kar te kom haal.

En toe moes Oubaas leer bestuur. En Mankoeran moes saam in die blou Bokshol sodat hy kon help onthou hoe met wat gemaak moes word. En wat die orde van al die make is.

Op ’n klein plekkie ver van die dorp af, daar het Oubaas sy liksens bekom. En van toe af het Oubaas, Mankoeran en die blou Bokshol se wedervaringe op die pad en deur die strate begin.

Vir ses jaar het Oubaas bestuur en nooit kon hy die kar gelyk wegtrek nie. En vir ses jaar lank het Mankoeran langs hom gesit met raad, instruksies en onderskraging. Maar Mankoeran se taak was veeleisend. Hy moes sorg dat hy nie deur die voorruit trek as Oubaas kleitrap met die pedale nie. Hy moes sorg dat die regte ding op die regte tyd gesê word. Hy moes van alles weet wat binne en buite die blou Bokshol aangaan. En alles wat hy sê, moes herhaal word - omdat Oubaas, sy eerste neerlaag teen die ouderdom in sy ore gely het. Eers sê Mankoeran sy sê. Maar Oubaas hoor nie. Dan skuif hy nader, lig hom op en skree dieselfde bevel in Oubaas se oor.

Dit het in die blou Bokshol min of meer so gegaan.

Met die wegtrek spring die blou Bokshol dat hy doer grondvat, morsdood. Oubaas se kop ruk met die wegvlie agteroor en Mankoeran se voete wip. Met die vassteek moet voorkant toe gekeer word.

“Wat makeer die bleddie blou kar weer ve’more?” “Dissie klits, Oubaas.”

“Wat sêjy?”

Dan’s Mankoeran met sy knieë op die kussing en sy mond by Oubaas se oor: “Dissie klits, Oubaas!” Mankoeran is net in sitposisie. “Nou wat vannie klits?” “Los hom starager, Oubaas.”

“Hè . . .?”

Mankoeran versit eers weer tot hy in Oubaas se oor kan basuin: “Los hom starager, Oubaas!”

“Nou waarvoor sê jy nie vanbegins af so nie?”

“Ek het gasê, Oubaas.”

“Hè. . .wat sêjy?”

Nou ja, vir nog ’n lang ruk word daar met die blou kar gesukkel. By elke fout is daar twee keer gesê, twee keer gehè . . . een keer aangepraat en twee keer om verskoning gevra:

“Dis die briek, Oubaas.”

“Hè . . .?”

“Dis die briek, Oubaas — hy’s vas!”

“Nou waarom sê jy nie so nie?”

“Askies, Oubaas.”

“Hê?”

“Askies, Oubaas!”

“Dissie jeers, Oubaas.”

“Ha . . .?”

“Dissie jeers, Oubaas; hy’s in top!”

“Nou vir wat sit en slaap jy so, hè?”

“Askies, Oubaas.”

“Wat sê jy?”

“Askies, Oubaas!”

“Moenie so in my oor skree nie; ek is nie heel doof nie.” “Askies, Oubaas.”

“Hi-?”

“Askies, Oubaas!”

En as hulle eers op pad was, het dit van Oubaas en Mankoeran ewe veel gevra om op die regte manier aan die gang te bly. Want vir Oubaas het motordryf te veel handelinge tegelyk gevra. Hy het gedoen soos hy van Mankoeran af gehoor het of soos dit hom bygeval het. So het hy partykeer ’n sekere ding gedoen as dit nie eers meer nodig was nie. Hy het al klaar gestop, en as hy weer wegtrek, val dit hom by hy het nog nie die handsein gegee dat hy wou stilhou nie. Dan steek hy daar by ‘seggint’ rond sy hand vir netnou se stilhou uit.

Kom hulle na ’n robot toe aan, het Oubaas dit totaal op sy senuwees.

“Wat sê die verdomde lig?”

“Groen, Oubaas.”

“Hoe . . .?”

“Groen, Oubaas!”

“Nou wat moet ek maak?”

“Ry, Oubaas!”

“Hè. . .?”

Maar dan slaan die lig al oor.

“Kosjen, Oubaas, kosjen!”

“Ha . . .?”

En dan is dit te laat. Rondom bars die ander karre

se toeters los of hulle in ’n orkes blaas.

“Vir wie hoet die bloemieng mense so?”

“Nie vir Oubaas nie, Oubaas.”

“Hè . . .?”

“Passop, Oubaas — die spietskops!”

Oubaas laat die Bokshol soos ’n blou ploeg daar tot stilstand kom.

“Al agter Oubaas. Ry maar.”

“Kyk hulle?”

“Nee, Oubaas — nee, Oubaas!”

En kom daar ’n hond, ’n donkie of ’n ding in die pad, het Oubaas nie nog vir die toeter ’n hand nie. Mankoeran peul halflyf by die venster uit en slaan met sy hand teen die deur.

“Weg vloeksel!”

En een ding wat Oubaas glad nie kon doen nie, was om in die truspieeltjie te kyk wanneer hy vorentoe op pad was. Daarom het hy self nooit enige ryding wat hom ingehaal het, gewaar voor dit hom aan die verbysteek was nie. En dan het hy gruwelooslik geskrik— met die blou Bokshol-en-al uit die pad uit. Daarom moes Mankoeran vorentoe en agtertoe kyk.

“Oubaas, hier kom ’n kar van agter af; moenie skrik nie.”

Na so ’n twintig waarskuwings vir ’n stuk of vyf karre wat verbygekom het, is Oubaas vies.

“Ja Mankoeran, hou nou maar jou bek.”

“Ja Oubaas, askies Oubaas!”

En dan kom daar een met ’n straal klippe agter hom aan langs Oubaas verby. Oubaas los die stuurwiel en keer met altwee sy hande voor sy gesig, want vergeet skoon dat die blou Bokshol ’n ruit het om die klippe buite te hou.

“Hiert vuilgoed!

“En kan jy nie praat nie? As jy wil sit en slaap, kan jy net sowel by die huis bly.”

“Ja, Oubaas. Askies, Oubaas.”

“Ha . . .?”

Maar eendag was die einde vir een van hulle drie daar. Oubaas was haastig op pad na ’n vêr plek toe. En toe trek hy die blou Bokshol te vinnig in ’n draai in, en daar byt die blou kar die stang vas en hol sy eie koers in. Mankoeran was nog met raad onderweg na Oubaas se oor toe, toe kantel die wêreld onder hulle. En dit voel of die blou kar nooit weer gaan ophou rol nie.

Toe hy uiteindelik tot stille kom, roer daar niks in hom nie.

Na ’n ruk is Oubaas die eerste om by te kom. Die kar lê onderstebo en dit smaak vir Oubaas of alles wat binne in die blou Bokshol was, op hom wat Oubaas is, te lande gekom het - ook Mankoeran.

“Mankoeran? Mankoeran?”

Maar Mankoeran is so stil soos die blou Bokshol. En Oubaas word koud tot in die papte van sy knieë. En die stilheid en eensaamheid sak oor hom. En Mankoeran word al swaarder op hom.

Toe kom daar ’n roering in Mankoeran.

“Mankoeran? Mankoeran! Lewe Oubaas se outatjie nog?”

“Ja, Oubaas. En Oubaas?”

“Mankoeran, het jy al ’n oorlede oubaas hoor praat?” “Nee, Oubaas.”

“Nou ja, klim af van my rug af; ek is nie jou perd nie. En loop soek hulp.”

“Askies, Oubaas.”

“Wat sê jy?”

Mankoeran lê weer op Oubaas om naby sy oor te kom: “Askies, Oubaas!”

“Maar maifoelie, dit lyk my jy’s dower as ek. Ek sê ek is nie jou perd nie, en jy’s al weer bo my. Loop soek hulp.”

Toe Mankoeran weg is en sy voete dra om so gou hy kon, by hulp te kom, toe dank Oubaas die OUBAAS vir al die genade en al die beskerming, en dat Mankoeran nog daar is.