VERSE VAN VERSET EN OOTMOED (3)

'n Bundel verse geskryf deur E van Nantes.
Daar is Verse van Verset, en Verse van Verootmoediging, wat ook die titel van die bundel is.

Lees die hele reeks by Verse van Verset en Verootmoediging

KONINGS EN NARRE
Met groot oë loer die wêreld vir die reënboognasie
Niks vind hier sonder hul medewete plaas nie
Net een probleem word deur hulle voorsien
Hier’s ‘n groepie wat weier om die nuwe koning te dien

Deur argitekte, word die koning met “toe maar” gepaai
“Jy weet mos hulle getalle is min, hulle is yl gesaai
Hier is ‘n plan sodat hulle nie verder sal kan maai
Kyk jy weer o koning, is hulle maer soos ‘n kraai”

Die koning luister na die plan deur die argitekte bedink
En na lang oorweging begin dit stadig by hom in te sink
Hy vryf sy hande en sy glimlag is groot, “die plan is blink”
“……………………hoekom het ék nooit dááraan gedink?”

Die swart bemagtigingsplan tree in werking
En regstellende aksie dien as versterking
Op sy troon sit die koning hardop en lag
Hulle tente en karavane, word méér by die dag

Vir ‘n rukkie gaan alles in die koninkryk voor die wind
Partytjie op partytjie, uit die skatkis word dit gemunt
Die probleemkind is weg en sit in sy karavaan
Die koning en sy vorste is kaatjie van die baan

O koning, o koning, skree die hofnar benoud
Die skatkis is leeg, sonder silwer, sonder goud
“Maar hoe kan dit wees?” vra die koning verstom
“Ons mense het dan elke dag werk-toe gekom”

KONINGS EN NARRE

Die hofnar skud sy kop, oor sy oë is daar ‘n waas
“By die werk was hulle o koning, maar niemand was klaas”
Die koning wip van sy troon, hy is baie verbaas
Hoe kan dit wees dat hofnar se kop só raas?

Uit vrees begin die hofnar met “Ag, my heer”
…. so tussen u partytjies deur het mot en roes verteer
….suksesvolle ondernemings het eenvoudig weggeteer
en kort voor lank was geen inkomste vir die skatkis meer”

Die koning dink op sy voete en roep die raadgewers in
“Dis ‘n ramp", skree hulle, "ons sal ‘n ondersoek moet begin!”
Nie lank nie en die hoofpyn-vorste sit om ‘n tafel
Die koning weet húlle sal die probleem kan ontrafel

Na maande se debat is dit die vorste wat na vore tree
Verslag van ‘n enkel bladsy word aan die koning gegee
Hy besef net weer, hύlle is die sneeu onder sy slee
………maar soos hy loop en lees, verstadig sy tree

“Na die tente en karavane”, bulder die koning
“sleep hulle hier, daar is geen verskoning
Iemand moet betaal vir hierdie verknorsing
die verslag bewys hul poging tot onttroning”

Moeg en uit asem storm hofnar die saal binne
Sy woorde ruk die besope vorste tot hul sinne
“die karavane staan oop en die tente is leeg
ons het hulle gesoek langs die vullishope en in elke steeg”.

KONINGS EN NARRE

Die koning voel sy hande raak klam
Onvas op sy voete, is sy arms en bene lam
Hoe gaan hy hierop reageer……..
Op wie kan hy hierdie een blameer?

By die vorste sypel die gevolge stadig deur
‘n Onrustigheid word deur die koning bespeur.
Iets sal hy moet doen om hulle te kalmeer
En daar trek hy weg met “bring my geweer”

Soos een man sing hulle saam
En marsjeer die deur uit sy raam
Tot die stem van net die koning weergalm
Besef hy dis net hy en sy nar wat nog talm.

Skielik verbreek nar die stilte in die saal
“My koning, u was op die argitekte se skaal
Hulle het u geweeg en bevind u kaal
En nou kom hulle om antwoorde te haal

“Sal ons dit nie kan blameer op die vorige bedeling?”
vra die koning, in sy stem is daar ‘n bewing
“Nee, my kroon, dit gaan nie baat nie”
“hoe straf jy iemand wat nie meer bestaan nie?”

Daar staan die koning nou alleen
Sonder sy vorste, sonder steun
Al wat oorgebly het, is ou nar
En hý is met die eenvoudiges verwar