'n Bundel verse geskryf deur E van Nantes.
Lees die hele reeks by Verse van Verset en Verootmoediging
PLAAS
Met sy koring hou hy ons magies rond
Deur sy produksie eet en drink ons gesond
Die boer, sy gesin en ook hul hond
Húlle is die wesens van die grond
Hoe kan dit dan waar wees wat ek lees
In die plaaslike koerant was dit gewees
Laas nag het daar weer ’n gees
Van haatdraendheid op ’n plaas geheers
Ten spyte van alarm, lig, hond en draad
Was daar bloedvergieting in die ergste graad
Om seer en dood te maak op so ’n maat
Dien as getuienis van intense haat
Die koerantjie waak om sy lesers te ontstel
Daarom word die hele storie nie vertel
Die verhaal van nog ’n plaasgesin se hel
Word nie eens uit statistieke opgetel
Voor die môre-lig ontvou die toneel
’n Gesin se lot is hier verseël
Niemand was hier om iets te steel
Daarvoor is die bloed net te veel
Plaasmoord op plaasmoord
So gaan dit voort
Verlies aan lewe en verlies aan ’n boord
Tog, die mag van die dag, blyk ongestoord.