VERSE VAN VERSET EN OOTMOED (7)

'n Bundel verse geskryf deur E van Nantes

Lees die hele reeks by Verse van Verset en Verootmoediging

BLOED KRUIP

Jammer dat ek jou op dié manier begroet
Maar aangename kennis, bly ons kan ontmoet
Ek het jou naam gemis so deur die roet
Vir my familie is ek Slaggat, jy kan my ook so roep

Terwyl ons nou wag vir jou insleper
Hoekom nie gesels, leer ken my beter My middel-broer is ’n regte breker
Die ouer een, ’n publieke spreker

Middel-kind sukkel om op sy voete te kom
Moes weer ’n lening kry, nou klop sy som
Kragonderbrekings is so eie aan hom
Hy dink hy’t krag, maar ander sê hy’s dom

My ouboet is op sy laaste tree
Hy moet die nuutste inligting gee
Praat in tale, maar vir Afrikaans sê hy nee
Sy naam in Engels, is die SABC

Ons drie broeders is uit dieselfde hout gesny
beteken niks as ons nie belasting-geldjies kry
So lê en wag ons op ‘n gereelde aalmoes
Terwyl Jan-publiek maar moet hoes en koes

O, hier stop jou insleep-ridder nou
Weereens jammer oor jou skade ou
Miskien moet jy maar my posisie onthou
Want volgende keer sal jy uit moet klou.