'n Bundel verse geskryf deur E van Nantes.
Lees die hele reeks by Verse van Verset en Verootmoediging
SENSUS
Die derde demokratiese sensus word opgeneem
Dis belangrik vir die goeie werking van die sisteem.
Hierdie syfers sal noodsaaklike inligting verleen
En so regeringsbeleid en -beplanning ondersteun.
Vyf en sewentig vrae word aan jou gerig
Om so jou algemene welstand te belig
Die aantal vrae alleen, wys hul is begerig
Om te identifiseer wie is ryk, en wie treurig.
Dis net ‘n paar dae na die sensus se begin
Toe die sensus-buro sien, hier kom ‘n ding
Die meerderheid burgers het net drie vrae omkring
En dié gelos wat hul privaatheid binnedring.
Hierdie drie biljoen Rand-projek word belemmer
Deur die publiek wat hul net verniet bekommer
Want die inligting is veilig, jy’s net ‘n nommer
Oor wie dit sien, hoef die mense nie te wonder
Pogings deur die buro om mense gerus te stel
Word wyd en syd deur die media oorvertel
Ten spyte van mooipraat en van skel
Stuur die inwoners hulle steeds na die hel
Die buro aanvaar nie hierdie landswye verset
En dreig, deur te verwys na ‘n 1999 wet
Versuim kan lei tot ses maande op ‘n tjoekie-bed
En/of tien duisend Rand in hul boete-net
SENSUS
Snaaks dat die staat die Inligtingswet wil forseer
En so die inligting oor hul doen en late keer
Dit, ten spyte van die publiek se openlike afkeur
Hou hul staatsveiligheid voor, as amptelike verweer
Kan jy dus nou die publiek kwalik neem
Waar hulle oor die sensusvrae teem
Vrae wat hulle hul veiligheid ontneem
Indien dit val, in die hande van enige een
Is dit ‘n tweestryd waarmee ons te make het
‘n Tweestryd tussen die publiek en die wet
Is dit iets waarna die staat op moet let
Dat die burgers dalk hul bedenkinge het
Die hoeveelheid water gebruik, word uit meters bekom
Die aantal internet gebruikers, is bekend aan Telkom
Eskom maak die elektrisiteitsverbruik-som
En SARS het reeds ons inkomste daar by hom
FICA en RICA fluister oor ons sel- en bankrekening
Hoekom dan al hierdie vrae vir elke huishouding
Waar julle reeds weet van elke kragonderbreking
Waar julle bewus is van betogings oor dienslewering
Ten spyte van die vorige twee sensusopnames
Wat julle moes help om te bepaal wat nodig is
Hoor ons van vierhonderd miljoen se huisverbeterings
Eerder as dat julle voorsien in die publiek se behoeftes.