BRIEWE AAN CHARLES (2)

Gerhard Viviers

Lees reek by Beste Charles... Van Gerhard

My eerste rugby-uitsending

Beste Charles,

Ek het gehoor dat jy 'n baie goeie onderwyser in Grahamstad was. Dok Craven, wat op ’n kol daar saam met jou klasgegee het, het aan my vertel dat jy nogal ’n skaflike krieket- en rugbyskeidsregter was. Dit is juis die dinge wat gemaak het dat die destydse SAUK jou gevra het om vir hulle deeltydse sportkommentaar te doen. Jou mooi duidelike stem en goeie taalgebruik het jou ’n aanbod om die kweperlat vir die mikrofoon te verruil, laat aanvaar. So maklik het dinge vir jou verloop om uiteindelik een van die bekendste en beste krieketkommentators te word. Ek het jou nooit vertel van my gesukkel en gesoebat om voltyds in diens van die SAUK te tree nie.

Maar voor ek daarby kom, wil ek jou eers vertel van my eerste skooldag wat letterlik ’n fiasko was. Dit het nie naastenby so glad verioop as joune daar in jou geboorteplek, Corsham, 7 myl van die stad Bath nie. Jy het my in 1965 die mooi plek in Shakespeare se kontrei gaan wys en lank oor jou kinderjare gesels. Veral jou skooljare daar op Chippenham en jou latere studie aan die London University. Jy het nooit my geboorteplek gesien nie. Dis nie ’n dorp nie. Daar was net ’n polisiestasie op die plaas Dedeben, waar my vader die stasiebevelvoerder was. Die naam word uitgespreek die-de- bien, wat “tweede water” of "tweedrinkplek" beteken. Dit lê anderkant Olifantshoek, nie ver van 'n plekkie met die gepaste naam Watersend nie.

Die “plek van klippe”, Mafikeng, het my “hometown” geword in die vroeë dertigerjare. Dit is hier waar ek my eerste skooldag beleef het. My hare was met ’n knipper tot op die kopvel kaal geskeer. Poenskop het hulle dit genoem. Dit het ’n besparing van ’n hele nege pennies beteken want dit was sommer 'n agterplaasjoppie. My kleredrag was volgens die mode van die tyd. Daar was nie so iets soos vandag se voorgeskrewe kleredrag nie. Die kakiebroek was kraaknuut en het tot byna op die knopknieë gehang. Die kakiehemp het plek-plek bol gestaan. Dit was ’n nommer of twee te groot en die fabrieksvoue en -plooie nog nie uitgestryk nie. Die onderhemp, of frokkie soos ons gesê het, was van rooi flennielap. Daar is gesê ’n man moet waak teen 'n swak bors. Ek moet sê die kledingstukkie het my genees van die dra van die hedendaagse “vest” waarvoor jy so lief was. Ewenwel, onder die hemp het ’n sakkie met ’n knoffelhuisie met ’n toutjie om die nek gehang. Dit was 'n middel teen verkoues en dergelike pestilensies. Nou kan jy seker verstaan hoekom ek nooit saam met jou enige dis met knoffel in wou eet nie. Dan was daar nog die ses-en-sewe-agste hoed wat 'n nommer of twee te groot was. Koerantpapier in die voering het dit nommerpas gemaak indien die ore ook nog onder die hoed ingedruk was. Dit het die gevaar van bakore verhoed. My skoene was breë rondepuntnewwies. Dit was ook te groot. Die kouse is met behulp van ’n rek om die bene bo gehou en was opgetrek met slegs 'n duim of wat speling onderkant die broek. Kyk, alles aan ’n man groei mos en die te groot klere moes so lank moontlik hou.

So het ek daardle eerste dag by die "dual medium skool met my tassie vol lekker kos vir langspeeltyd aangekom. Ek kon gesond eet. Met daardie  dik snye brood met plaasbotter en Lyles Golden Syrup, frikkadelle en 'n groot piesang. Daar was ’n kort- en 'n langspeeltyd, soos pouses destyds genoem is. Ek het gehoor 'n man eet langspeeltyd jou kos. Die klaskamer was eintlik 'n saal, die N.G.-kerksaal waar miss Grant vir sub A, sub B en standerd een klas gegee het. Die saaltjie was tussen die N.G.-pastorie en die woning van 'n Joodse familie by name Gordon geleë. Hulle het later van tyd baie goeie vriende van ons familie geword. Miss Grant was ’n tipiese oujongnooi met kort wit kouse en swart plathakskoene.

Langspeeltyd het ek teen die stam van 'n groot peperboom gaan sit met my soetkysie kos, reg vir die groot eet, tot ’n frisgeboude koshuisseun my kos gryp en opeet. Ek het onder gespot van die kinders op die speelgrond soos ’n maer vark geskree en getjank. Die seun se naam was Frans Roodt. Ons het later goeie vriende geword en menigmaal saam my soetkysie se inhoud verslind.

By die ou saaltjie was daar net een latrine, die soort met die emmer onder die bank en die optelklap agter. Die nagwa het snags vir die omruil van die emmers gesorg. Ná die episode onder die peperboom het my maag van pure senuwees sulke draaie gemaak. Omdat ek toe nog nie kon sê: “Miss, may I please leave the room” en nie geweet het of sy sal verstaan as ek sê: “Ek wil gagga” nie, het ek maar sit en knyp totdat die klok gelui het. Ek het heel agter in die klas gesit - ’n plek wat ek dwarsdeur my skoolloopbaan as my eie beskou het. Toe ek by die deur uitkom, het ek gemaak vir die kleinhuisie. Toe ek die houtdeur oopstamp, sit daar ’n meisietjie met groot verskrikte oë en lang vlegsels. Daar het ek my eerste Engels gepraat: “Sorry, jong,” en met ’n drafstap die stofpad huis toe aangepak. Halfpad daarheen moes ek die treinspoor oor en wag vir die Kaap-na-Bulawayo Express wat stadig die stasie ingestoom het. By die “railway crossing” het ek net gevoel hoe iets warm agter my bene afgly. By die huis het ek sommer klere en al in die sinkbad beland. My eerste skooldag was ’n ware gemors, maar hoe graag sal ek dit nie weer wil beleef nie!

Die SAUK het altyd vir my ’n besondere bekoring ingehou. As ek tog net omroeper kon wees en uitsaai, sportkommentaar doen, nuus lees, musieknommers aankondig, deelneem aan radiodramas, boeke voorlees. Ag, sommer net alles doen waarna ek so gereeld geluister het. Ek het van almal geweet wat uitgesaai het en hulle stemme geken. Hulle was my helde, helde wat ek graag wou ontmoet en met wie ek wou saamwerk. Ek het niks geweet van iets soos professionele jaloesie nie. In my gedagte het ek ook 'n radiopersoonlikheid geword van wie almal praat. Ek het gehoor dat omroepers hoge geleerde ouens is en alles het vir my so onmoontlik gelyk. My kwalifikasie was net matriek. My ondervinding: ’n toneelspeler vir twee jaar saam met die geselskap van Bennie Potgieter, 'n speurder verbonde aan die destydse Spoorwegpolisie in Kimberley. My kanse was dus feitlik nul om in hul geledere opgeneem te word. Maar my ambisie het brandend gebly en daar in Kimberley het nr. 3692 speurder-sersant Viviers hom voorgeneem dat hy, buig of bars, daar sal kom.

Wyle Pieter de Waal van die SAUK in Bloemfontein het tydens een van sy bekende koffiehuiskonserte in Kimberley vir my die bal so effe aan die rol gesit. Die SAUK maak soms gebruik van deeltydse sportkommentators. Hy het aanbeveel dat ek in die rigting moet begin dink. In daardie stadium was die Springbokspan van Basil Kenyon juis op toer deur die Britse Eilande. Ek het aanhoudend denkbeeldige kommentaar soos ’n wafferse Paul Bothma, Afrikaanse kommentator by die span, gelewer. In my verbeelding het ek gehoor hoe daar na my in verre lande oorgeskakel word.

In ’n brief aan die SAUK het ek beduie dat ek graag sou wou doen wat Paul Bothma doen. Die antwoord was kort en saaklik: Daar word nie sportkommentators as sodanig aangestel nie. Indien ek ’n omroeperstoets suksesvol aflê, kan ek as omroeper aangestel word. In dié hoedanigheid mag daar geleenthede wees vir sportkommentaar. Nadat ek vasgestel het wat die toets alles behels, het ek koue voete gekry maar terselfdertyd meer vasberade geraak om op die een of ander manier ’n deeltydse kommentator te word.

My kans het, soos baie ander dinge in my lewe, op 'n heel besonderse wyse gekom. Wes-Transvaal sou die komende Saterdag teen Griekwas in Kimberley speel. Dit was in 1954 en twee jaar ná my brief aan die SAUK. Ek het toevallig die Maandag verby 'n ou huis wat die SAUK in Kimberley gehuisves het, gestap. Op die ingewing van die oomblik het ek aangeklop en gevra of ek nie die kommentaar oor die wedstryd kon doen nie. My toehoorder het met ’n beleefde, versteekte laggie verduidelik dat daar 'n kommentator van Johannesburg kom. Maar, het hy gesê, daar word die Woensdag twee aspirantkommentators by ’n wedstryd op die KAC-velde getoets. Ek is welkom om ook te kom.

So bevind ek my toe in die pawiljoen van die Kimberley Athletic Club vir proefkommentaar saam met die ander twee oor tweede spanne se wedstryde.

Daar was van senuwees ’n naar kol op die maag, maar toe ek my medestryders beluister, het ek moed geskep. Die rugby was net skrums, lynstane en mamparraskoppe. Daar was niks om uit te saai nie. Ek het vinnig ’n klompie name gememoriseer en toe my beurt kom, het ek losgetrek met denkbeeldige kommentaar. Daar was 'n slordige skrum net buite die kwartgebied. Die bal is uitgeskop, maar ek het dit langs die agterlyn laat loop tot by die vleuel. Ek het ’n pragtige systap van die man beskryf en hom 'n drie onder die pale laat druk. ’n Beskrywing van die maklike vervyfskop het my poging afgesluit. Die man wat die kommentaar opgeneem het, was ene Emile de Groot. Hy wys my so ewe daarop dat wat ek beskryf het, mos nie gebeur het nie. “Ek weet dit het nie gebeur nie, maar ek vra mooi, wil jy nie asseblief die kommentaar net so deurstuur Johannesburg toe nie?” Hy het dit gedoen en Vrydag 14 Mei het die grootste oomblik in my lewe aangebreek. ’n Teleks is ontvang van die destydse Organiseerder: Sport, Ian Balfour. Jou voorganger, Charles. Die inhoud is aan my oorgedra deur die ingenieur in bevel in Kimberley, ’n meneer Murray. Dit het gelees: "Viviers to do Afrikaans Broadcast, Western Transvaal/Griqualand West on Saturday." Ek kon dit nie glo of verwerk nie. Die gebeure van daardie Saterdag 15 Mei 1954 op die De Beers Stadion in Kimberley is vir my geheue verlore. Ek weet net dit was tagtig minute se hel. Daar was nie tyd vir denkbeeldige kommentaar nie. Ek moes die werklikheid beskryf. Hoe ek dit gedoen het, wat die telling was en wie gewen het, weet ek nie. Wat wel saak gemaak het, was dat die manne in Johannesburg blykbaar tevrede was. My loopbaan as rugbykommentator het op daardie dag begin.

Ek het in die begin ook al wat sportsoort is wat in Kimberley plaasgevind het, uitgesaai. Later ook rugby in Bloemfontein, Aliwal-Noord, Welkom, Burgersdorp en Upington. Ek het selfs kommentaar oor rolbal, waarvan ek minder as niks geweet het nie, gelewer. Ek wou net uitsaai.

Ek was jare lank 'n deeltydse sportkommentator in Kimberley. Ek het op Vrydae 'n tienminuteprogram, Sportjoernaal, uit Bloemfontein waargeneem en daarvoor moes ek 220 myl heen en weer aflê. Onkoste en tyd het nie vir my saak gemaak nie. Dit was net uitsaai. Ek was toe in diens van die BP Oliemaatskappy as hulle verteenwoordiger in ’n deel van die Noord-Kaap en ’n stukkie van die Vrystaat. Die maatskappy het my in alle opsigte bygestaan en aangemoedig.

Een Vrydag was ek weer 'n bietjie laat en moes voet in die hoek sit om betyds te wees vir my sportprogram. Op pad na Bloemfontein lê die dorpie Dealesville, met ’n taamlike skerp elmboogdraai in die pad by die uitgang van die dorp. Toe ek die draai vat, het ek uit die kant van my oog 'n verkeersmotor langs die pad sien staan en terselfdertyd het 'n verkeersman so 'n stuk of 200 tree vorentoe met hand in die lug na die middel van die pad beweeg. Ek het stilgehou en die man sê: “Meneer, vandag kan ek niks vir jou doen nie, want my baas is by. Wat is jou naam?” Voor ek kon antwoord, het die verkeersmotor met skreeuende remme langs ons stilgehou. “Oom Straussie, los die blerrie man. Hy is so vinnig by my verby dat ek nie die horlosie kon druk nie." Oom Straussie, wie se naam en gesig by my 'n klokkie gelui het, se woorde was vir my 'n groot verligting. Hy vat my hand en sê: “Veels geluk, Meneer, maar jy moet dit nie weer doen nie.” Ek was betyds vir my program en het op pad met 'n glimlag onthou waar ek oom Straussie voorheen gesien het.

In my werk by BP het ek eenkeer per maand by ’n winkel van ’n tannie Coetzer in Hertzogville aangedoen. Terwyl ek haar bestelling vir lampolie geneem het, het sy my gevra om nie om te kyk nie, oom Straussie kom die winkel ingestap en hy gaan my beboet omdat my motor aan die verkeerde kant van die pad geparkeer is. Ek het hom nie geken of vantevore gesien nie. Toe hy by my kom, het ek vinnig omgedraai en my hand uitgesteek. “My maggies, oom Straussie, hoe bly is ek dat dit jy is. Was dit nou weer een van die jong mannetjies, het hulle my beboet.” Die omie was duidelik onkant betrap. Hy het nie my naam gevra nie maar my gewaarsku om in die toekoms reg te parkeer. Baie jare later, toe ek omroeper was, het ek 'n program, “Speelkant of onkant”, aangebied. Ek het vertel van my twee “ontmoetings” met die verkeersman. My terugvoer was dat oom Straussie in daardie stadium 'n inwoner van ’n ouetehuis was en die program baie geniet het.

Maar terug by my dae in Kimberley. Vir jare het ek ook ’n sportbydrae van drie minute op ’n Saterdagaand vir 'n landwye program, “Glanspunte uit die sportnuus”, aangebied.

My begeerte om voltyds in diens van die SAUK te tree het 'n absolute obsessie geword. Dit was veral nadat ek kennis gemaak het met Werner Barnard. Dit was gedurende die toer van die Australiese krieketspan van Ian Craig in die 1957/58-seisoen. Charles, hy was saam met julle op toer as Afrikaanse kommentator en ek het vir hom die “opsommings” in die uitsending in Kimberley gedoen.

Ek skryf toe weer aan die SAUK en doen aansoek om ’n omroeperstoets af te lê. Dit het erger as broekskeur gegaan. Ek was redelik tevrede met die stukkie denkbeeldige sportkommentaar wat ek moes lewer. Aan die ander kant weet hulle mos hoe ek sport uitsaai. Ek het dit immers al vir vier jaar gedoen. Ek het die antwoord verwag. Ek het nie geslaag nie en moet maar later weer aansoek doen. ’n Jaar later het ek weer vir ’n toets Bloemfontein toe gegaan. Dit het beter gegaan, maar die antwoord was dieselfde: daar word nie sportkommentators as sodanig aangestel nie. Ek het geluister na omroepers wat ook die geleentheid kry om sport uit te saai en besef dat daar van hulle is vir wie ek nie hoef terug te staan nie. Ek het gevoel ’n kommentator kan nie gemaak word nie en het ewe verwaand begin redeneer dat ek veral ’n gebore rugbykommentator is. Verder het ek gedink: nog jy, Charles, nog Werner Barnard het my leer krieket uitsaai. Ek het wel sekere tegnieke en mikrofoonkunsies van julle geleer. Awie Labuschagne en Johan de Bruin het my ook nie leer rugby uitsaai nie.

Twee jaar later het toeval weer 'n groot rol in my lewe gespeel. Ek het op pad terug van vakansie in Durban by Uitsaaihuis in Commissionerstraat in Johannesburg aangedoen. Dit was my eerste besoek aan die plek van my drome en die doel van my besoek was om net miskien ’n klompie van my helde te ontmoet.

Ek beland in ’n kantoor by Danie Erasmus en wyle Pierre Marais. Die twee bekende omroepers was bly om my te sien en wou weet of ek vir 'n omroeperstoets gekom het. Ek lag en beduie dat ek al drie keer sonder sukses probeer het. Danie is summier daar uit en 'n klompie minute later bevind ek myself in 'n ateljee met 'n omroeperstoets in die hand. Agter die glasgordyn staan nog een van my helde, ’n man met een van die mooiste stemme wat ek nog gehoor het, Pieter de Bruyn. Dit gaan beter. Ek beantwoord meer vrae, maar loop my met ’n laggie vas teen die dinge van die hogere musiek. Oom Pieter lag saam en sê: “Dis genoeg, ou swaer, ’n mens is nie veronderstel om alles te weet of alle obskure name te kan uitspreek nie.”

Op my sestigste verjaardag op 23 Mei 1986 was hy die gasspreker. Jy onthou mos nog die onthaal wat Maryna vir my in die stadsaal van Brits aangebied het. Jy en Daphne was ook daar en die talle sportmanne van oral oor het jou toespraak terdeë geniet en lekker gelag oor jou vertellings van gebeure saam met my op ver paaie.

Pieter het die aand vertel van die omroeperstoets wat ek in Januarie 1962 voor hom afgelê het. Hy het vertel dat hy my gevra het of ek weet wie is Katchaturian, wat mens as “Gattjatoeriaan” uitspreek. Hy het lekker gespot en gesê my antwoord was: “Nee, ek weet nie, maar ek weet hy het nooit vir Griekwas rugby gespeel nie.”

Maar terug by Uitsaaihuis. Ek is na die aflê van die toets na twee of drie grootkoppe vir onderhoude. Een van hulle was mnr. Gert Yssel wat in beheer van personeelsake was. Hy wou weet of ek van plan is om verder te studeer. Ek wou eers vra: Wat? Om ’n suksesvolle sportkommentator te word? Ek het gelieg toe ek gesê het dat ek dit wel sal doen. Ek het sommer belowe dat ek dieper boeke sal lees as dié van Zane Grey en Max Brand (Cowboy-boeke), Edgar Rice Burroughs (Tarzan se skepper) of Leslie Charteris, die man wat oor die eskapades van “The Saint” geskryf het. Hulle sal my laat weet, het mnr. Yssel gesê. Ek het gedink die antwoord sal maar weer dieselfde wees as voorheen. Met my tuiskoms twee dae later was daar vir my ’n heerlike verrassing. ’n Telegram van “Uitsaai” Johannessburg. Ek word ’n betrekking as omroeper/regisseur aangebied. Die salaris is genoem, maar daarna het ek nie eers gekyk nie. Later het ek besef dat dit veel minder is as wat ek by BP verdien het.

Ek het dadelik laat weet dat ek die aanbod aanvaar en 1 Februarie kan begin. Daar was nie genoeg tyd om die oliemaatskappy wat vir my so goed was, behoorlik kennis te gee nie. Hulle het verstaan en ek sal hulle altyd dankbaar bly.

So het ek toe op 1 Februarie 1962 ná die afhandeling van administratiewe sake die Afrikaanse ateljee by Uitsaaihuis skaam-gelukkig binnegestap. Ek was omroeper/regisseur, ’n pragtige ampsbenaming wat my sulke heerlike rillings agter die rug besorg het. Die omroeper aan diens was Cor Nortje. Ek het ’n paar keer saam met sy broer Wynand in Kimberley vir Polisie rugby gespeel. Ek was 35 jaar oud. Cor het my nie ge-“oom" nie, maar hy het baie keer na my opgesien vir raad oor persoonlike sake.

Terwyl ek van hom praat, is dit nou seker die regte tyd om jou te vertel van een van die grootste blapse wat ek oor die lug gemaak het. Cor is na Durban verplaas. Toe ek daar kom vir 'n sportuitsending, het ek hom uit die aard van die saak gaan opsoek. Weer was hy aan diens in die ateljee en besig om die streeknuusbulletin voor te berei. “Gerrie, lees jy die streeknuus. Toe man, jou ‘fans’ sal daarvan hou.” Ewe windgat en mal oor uitsaai vat ek die bulletin en begin sonder voorbereiding lees. Ek lees redelik vlot totdat die pleknaam Hluhluwe voor my opduik. Ek het nog nooit van die plek gehoor nie. Ek huiwer vir ’n oomblik en spreek dit uit “Hoe-le-we hoe-le-we”. Cor het byna van sy stoel geval en hardop gelag. Vandag nog hoor ek hoedat omroepers vertel dat die glips hulle oorgekom het.

Daardie eerste dag in Johannesburg voel vir my soos gister. Ek het Daniël Kirstein, die beste nuusleser ooit, ook die dag ontmoet. Gaandeweg het ek kennis gemaak met al die grotes. Jan Schutte, Monica Breedt en Verna Vels, Andries Cornelius, Morkel van Tonder, Awie Labuschagne, Johan de Bruin, Thys van Lille, Jan Spies, Jan Snyman en Nic Swanepoel, wat ’n maand voor my aangestel is. Daar was die wonderlike mense Esme Euvrard, Pierre Marais en Heine Toerien, John van den Berg, Danie van Eeden, Daan Retief en Danie Smuts wat ek vroeër as reisende toneelspelers raakgeloop het. Natuurlik het ek ook nader kennis gemaak met die manne wat by my omroeperstoets teenwoordig was. Daar is nog baie ander wat ek kan noem, en een of twee wat ek nie wil onthou nie.

Die mense wat ek genoem het, was elkeen ’n kunstenaar in eie reg wat in die dae toe alles by die SAUK nog om uitsaai gegaan het, bekendes in haas elke huishouding was. Hulle gelyke sal nie sommer weer gevind word nie Dink maar aan die puik uitsaaiers van die Engelse Diens. Vandag vrees ek, speel “uitsaai" tweede viool. Jy sal die plek nie ken nie veral die ou Engelse Diens wat jy oor soveel jare met onderskeiding gedien het.

Groete

Gerhard