BRIEWE AAN CHARLES (5)

Gerhard Viviers

Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard

Meer oor Charles

Saterdag die 18de November 1995 is die dag en datum presies vyf jaar gelede toe my stembande verwyder is omdat 'n swaelnes in my keel gegroei het. Dit was sewe-uur die oggend toe ek op 'n trollie gelaai is oppad na die operasieteater. Ek was kalm en onder die invloed van verdowing. Ek kan nie veel van die oggend onthou nie - behalwe my laaste woorde met die stem wat vir soveel jare my brood en botter was: “Goodbye, ou seun,” my troetelnaam vir my vrou Maryna.

Van die volgende vier dae van my lewe onthou ek genadiglik niks nie. Gelukkig so. Daar was seker pyn, maar met die dierbare sorg van dokter Berte le Roux, die vriendelike en bekwame susters en matrone De Bruyn van die Zuid-Afrikaans Hospitaal kon ek met die genade van Bo die stryd teen die helse stilte wat voorgelê het, oorwin.

Ek sit nou en kyk na 'n krieketwedstryd op die kassie en my gedagtes dwaal terug na die aangename jare wat ek saam met die beste krieketkommentator van alle tye, Charles Fortune, beleef het.

Ons was ook saam agter die tennismikrofoon, en ook hier was hy 'n meester met die pragtige gebruik van sy moedertaal. Ons het ook heelwat rugby saam uitgesaai, maar in die spel kon my vriend nie saampraat nie. Hy was te stadig. Dit herinner my aan ’n wedstryd in Frankryk in 1968. Ons het langs mekaar sit en uitsaai. Hy was nog besig met 'n beskrywing van ’n drie toe ek reeds besig was om die vervyfskop te beskryf. Sy grootste bate was dat hy 'n absoluut meester van die uitsaaikuns was. Net een voorbeeld hiervan:

Die Afrikaanse en Engelse uitsaaihokkies op die ou Ellispark was geskei deur 'n vertrek wat deur die klankkontroleurs van die twee dienste gebruik is. Ek het gewag vir die oorskakeling uit die ateljee toe Chick Henderson op die laaste nippertjie inloer. Die losskakel van Transvaal, Jannie Barnard, het hom onttrek en word vervang deur die jong Tinkie Johannsen van Vereeniging, deel hy my mee. Ek wonder tot vandag toe hoekom hy nie ook vir Charles hiervan in kennis gestel het nie. Seker maar professionele jaloesie. Chick het op sy dae agsteman vir Transvaal en ook vir Skotland gespeel. Hy is ook ’n baie goeie rugbykommentator maar was nie die dag agter die mikrofoon nie. Dwarsdeur die eerste helfte praat Charles van Jannie Barnard terwyl ek van Tinkie Johannsen praat. Mense wat binne hoorafstand van die hokkies gesit het, het ons om die beurt snaaks aangekyk en sarkastiese aanmerkings gemaak. Met rustyd kon ek my kollega per briefie in drukskrif, want ek skryf baie lelik en onduidelik, reghelp. Groot was my verbasing toe hy met die begin van die tweede helfte voortgaan met die noem van Jannie Barnard as Iosskakel. Net na die afskop is daar ’n vaste skrum en die meester in die kuns van uitsaai leer my ’n les wat ek nooit sal vergeet nie. Sy beskrywing: “A set scrum just outside the Free State twenty five. The ball to be put in by Bayvel for Transvaal. Out it comes - Bayvel to Jhanee Bhanaad”. Toe volg daar ’n tiensekondepouse in sy kommentaar en hy gaan voort met: “Having a second look at that chappie, of course that's not Jhanee Bhanaad, that’s young Tingkey Joehanson from Fireeneeghin,” en hy gaan onverstoord voort. Was dit ek wat so ’n fout gemaak het, sou ek die een verskoning na die ander oor die lug gemaak het. Pleks dat ek my fout toesmeer, sou ek dit net duideliker onderstreep het. Ek het geleer 'n mens maak nooit verskoning vir iets tensy jy daaroor aangeval word nie. Die aand gesels ek en die ou oor die dag se wedstryd en al die gebeure. Sonder dat hy dit besef, leer hy my die grootste les in my uitsaailoopbaan. Charles wou by my weet met wie ek gesels as ek uitsaai. 0, se ek, daar is darem seker 'n paar duisend luisteraars wat inskakel na ’n rugby-uitsending. Ek praat met hulle. Ou Charles sê wyse woorde lê vandag nog net so vlak in my geheue as die van die vrou naby Groenriviermond. Hy beduie dat dit nie die kommentator is wat belangrik is nie, maar die dertig spelers op die veld. Ek moet nie die massas probeer beïndruk nie. Ek moet ’n vriend in my gedagtes uitsoek en aan hom in my eie praatstyl, asof hy by my in die kommentaarhok is, alles vertel wat op die veld gebeur. Tot in daardie stadium het ek my verbeel dat ek baie belangrik is. Ek het sy raad gevolg en my eerste werklike sukses as rugbykommentator behaal in my honderd-en-elfde uitsending. Dit was die rugbytoetswedstryd tussen die Springbokke en die Franse in Durban op 15 Julie 1967. Daarna het ek nog 470 wedstryde, waarvan vyftig toetswedstryde was, in dieselfde praatstyl uitgesaai. My vriend en raadgewer kon nie Afrikaans verstaan nie, maar ek het in al my uitsendings my verbeel hy kon, en aan hom alles wat op die veld gebeur, vertel.

Nou mag daar gevra word wat die woorde van die vrou met die mooi Namakwalandse aksent en my herinneringe aan 'n vriend wat my soveel groot lewenslesse geleer het, met mekaar gemeen het.

Net dit: Ek kan nie meer ’n dik streep nonsens praat nie en my vriend Charles Fortune is nie meer daar om in my verbeelding daarna te luister nie. Hy is in 1994, drie weke voor sy negentigste verjaardag, in Johannesburg oorlede. Daar is nog soveel dinge wat ek hom graag wou vertel het. Ek verbeel my nou maar dat hy kan lees wat ek in my praatstyl aan hom skryf. Daarom is my eerste woorde aan hom: “Hallo, Charles”.

“Ons eerste kennismaking was in Meimaand 1965. Jy het in Londen gewag op die koms van kaptein Peter van der Merwe en sy span. Ek was saam met hulle op die SAL-vlug na Heathrow. Dit was my eerste sporttoer oorsee. Ek het jou dikwels in die gange by ou Uitsaaihuis en ’n klompie kere by krieketvelde gesien. Ek het gedink dit sou voorbarig van my wees om myself sommer aan jou te gaan voorstel - ek ’n groentjie en jy ’n wêreldbekende uitsaaier. Maar ek dwaal af. Jy het by my hotelkamer in Londen kom aanklop. Jy was baie vriendelik en het my tikmasjien kom leen. Jy het my versoek om maar net op jou knoppie te druk as daar iets in die vreemde land is wat ek nodig het. Met die ontmoeting en paar woorde het ons jarelange vriendskap begin, ’n vriendskap wat jy op ’n dag so treffend beskryf het met 'n vraag aan my. Dit was die grootste kompliment wat ek in my lewe ontvang het toe jy op ’n vlug tussen Spanje en Duitsland aan my gevra het: ‘What makes a fullblooded Englishman like myself love a bloody Afrikaner like you?’”

Groete

Gerhard