BRIEWE AAN CHARLES (6)

Gerhard Viviers

Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard

Mof en sy mense

Beste Charles,

Ek wil nou sommer net met jou gesels oor Mof en sy mense. Dit gaan nie oor hulle rekords en prestasies en dies meer nie. Sommer oor hulle as mense. Sonder om onnodige dinge te vertel wat hulle in die verleentheid kan bring.

Van Piet Uys, die platjie in die unieke vriendekring, het ek al heelwat vertel. Ek sien hom dan en wan by funksies van die Brits-Rugbyklub, waar hy 'n gesogte gas en ek erelid is. Deesdae stel hy my spottend voor as die man wat hom uit talle toetswedstryde “gedrink” het en as die ou wat oor die pieperigste ou vuishoutjie beskik wat hy nog gesien het. As hy my nie die aand in Toulouse bygestaan het nie, sou Richard Breeze my behoorlik opgefoeter het. Hy geniet dit om my siel so te versondig. Ek laat hom maar begaan, al las hy met elke vertelling ’n ietsie by.

My gunstelingkarakter in die groepie was altyd Mof Myburgh, na my mening een van die beste loskopstutte wat ooit vir die Springbokke gespeel het. Hy het hom nooit gesteur aan die bekwaamhede of reputasie van die manne teen wie hy geskrum het nie. Hy het ook nie oor hulle gepraat tensy hy daarna uitgevra is nie. Op die 69/70-toer deur die Britse Eilande was daar ’n vaskopstut wat vir Engeland gespeel het en oor wie die Engelse gaande geraak het. Hulle het hom as een van die beste opkomende sterre in die rugbywêreld beskou. Keith Fairbrother was sy naam. Die aand ná die toets op Twickenham, wat Engeland met die hulp van ’n lerse skeidsregter gewen het, het Mof en ek langtand staan en proe aan ons drankies. Twee baie opgewonde Engelse, die soort met die bolhoedjie en strikdas, het skielik op Mof afgestorm: “I say old chap, and what did you think of Keith Fairbrother?” wou die een weet. Mof was eerlik en glad nie sarkasties nie toe hy sê: “Who’s he?” Die ander ou het bygevoeg: “By golly man, he played against you this afternoon.” Die antwoord was weer sonder sarkasme: “Oh! - no, he is still a youngster.” Nog nooit het ek sulke verbaasde teleurstelling op ’n man se gesig gesien nie. Toe hulle so wegstap van ons af, sê die ou grote, wat ’n man van min woorde was: “Seker familie van die mannetjie.”

Hy was werklik 'n man van min woorde. Heeltemal in teensteliing met jou eerste kennismaking met hom toe hy langs jou in die vliegtuig gesit het op pad Frankryk toe. Jou bottel eksklusiewe rooiwyn het jou nie in dieselfde gemoedelike stemming gebring as Mof se Skotse wyn nie. Hy was besig om op een van die persmanne se tikmasjien ’n Engelse brief aan Frik du Preez te tik. Frik was om die een of ander duistere rede die duiwel in vir hom en hy wou grappenderwys weet hoekom. Hy het baie hoge Engels gebesig en het jou aanhoudend lastig geval met die spelling van woorde wat 'n mens nie normaalweg gebruik nie. Na ’n ruk het jy jou vererg, opgestaan en op ’n leë sitplek agter in die vliegtuig gaan sit met jou blokkiesraaisel. Mof se enigste opmerking was: “Nou is ou uncle Charles ook nog vir my kwaad.” Ek onthou hoe lekker het Frik gelag toe hy uiteindelik ounag die brief te lese gekry het. Ek onthou ook hoe jy dit later op die toer geniet het as Mof jou krieket- kommentaar perfek nagemaak het. Veral wanneer hy “Muff Mybirk” na “Freak do Pray” laat boul het en alles wat daarmee gepaard gegaan het.

Ek het terdeë kennis gemaak met die intelligente mens van min woorde. Hy kon as hy wou, oor enige onderwerp onder die son met gesag praat. Ek noem graag ’n klompie voorbeelde. Hy en ek was een aand in Londen by die Black and White Minstrel Show. Omdat ons ietwat laat opgedaag het vir die vertoning moes ons sonder ’n program klaarkom. Die tussenmusiek was dié van die ou meesters en hy het my telkens vertel wie die komponis is en uit watter werk dit kom. Ek het maar net my kop geknik en gedink hy praat twak. Toe ons die teater verlaat, het ek 'n verlore program op die vloer opgetel. Terug in my kamer het ek die program bestudeer en daar was jou werkIikwaar al die musiek wat Mof genoem het. Bevestiging van sy musiekkennis is baie duidelik verkry van 'n vrou vir wie ek groot bewondering het en van wie ek ’n groot “fan” is. Mimi Coertse.

Ek het gesien hoe hy met haar by ’n onthaal na ’n toetswedstryd in Durban in gesprek is. Ek kon nie wag dat hy klaar gesels nie, want ek wou ook ’n woordjie met haar wissel. Toe ek uiteindelik my kans kry, was haar eerste woorde aan my dat sy lanklaas so ’n intelligente gesprek oor opera gehad het.

Hy en ek het op toer, veral in die Britse Eilande, baie groot potte tee saam uitgedrink. Hy het vir drie maande elke oggend aan my deur geklop en slegs gesê: “Tee, Gertjie.” In die sitkamer het hy dan 'n groot pot tee bestel wat ons minstens ’n uur besig gehou het sonder dat ons ’n woord met mekaar praat. Wanneer die pot leeg was, het hy opgestaan met die woorde: “Dankie vir die geselskap."

Een aand, by die Angel Hotel in Cardiff, het ek 'n ding gesien wat Frik du Preez so ontstel het dat ek gedink het hy sal nooit weer met Mof praat nie. Ek het op die balkon voor my kamer gestaan en kon die gebeure by 'n funksie in die voorportaal duidelik waarneem. Dit was op die 69/70-toer. Mof het met Louis Luyt staan en gesels, elkeen met ’n glasie wyn in die hand. My vermoede dat hulle in 'n argument betrokke was, is bevestig toe Mof meteens ’n mondvol rooiwyn oor Louis blaas. Die volgende oggend het Mof my nie vir tee kom nooi nie maar my met ’n bekommerde gemoed kom inlig oor die ongelukkige voorval die vorige aand. “Gertjie, jy moet asseblief met Frik praat. Hy wil niks van my weet nadat ek gisteraand 'n mondvol rooiwyn oor sy baas geblaas het nie.” Frik was destyds in diens van Louis Luyt en hy wou ook nie met my oor die voorval praat nie. Dit het ’n week of wat geneem voordat hy Mof se verskoning aanvaar het. As jy my sou vra wat aanleiding tot die hele voorval gegee het, sou ek moes sê ek weet nie. Mof het my nooit vertel nie.

Net so goed en toegewyd as rugbyspeler was Mof ook as polisieman. Hy was 'n fyn waarnemer van alles en almal. In Skotland het ons in die pragtige Pebbles Hydro in die Hooglande gebly. Jy het seker ook al daar vakansie gehou. Ek moes die dag Edinburgh toe in verband met reëlings vir die uitsending van die toets. Met my terugkoms by die Hydro laatmiddag wou Mof by my weet wie die mooi meisie is wat vroeër die dag vir ’n lang ruk in my kamer was. “Ag Mof, moenie twak praat nie, ek was die heeldag uit en jy moet my verskoon, maar ek moet gaan verklee vir vanaand se funksie,” is al wat ek kon sê.

In my kamer kon ek nie my das kry wat die Rugbyraad aan my gegee het nie. Dit was ’n pragtige groen das met ’n enkele Springbokkop in goud daarop. Ek het dadelik hond se gedagtes gekry aangesien ek nog die oggend voor my vertrek die das gesien het. Ek is dadelik na Mof se kamer, waar hy my 'n volledige beskrywing, van kop tot tone, gegee het van die meisie wat hy volhou by my in die kamer gekuier het. Hy het tot haar kleredrag beskryf. Met die beskrywing is ek na die hotelbestuurder. Sy werk daar as kamerbediende, maar dit was haar dag af en sy moes glad nie naby die kamers gekom het nie, hoor ek. Ons het haar in die personeelkwartiere gaan ondervra. Na ’n tranedal het sy die das wat sy vir haar kêrel gegaps het, aan my oorhandig. Mof en ek moes net lelik walgooi of sy is summier afgedank. Sy het ons met pragtige betraande ogies bedank. Toe ons later op die toer weer in die Hydro tuisgegaan het, het sy ons glad nie gegroet nie. Gemaak of sy ons nog nooit voorheen gesien het nie.

Professor Daan Swiegers het eenkeer gesê dit is jammer dat Mof nie ná skool kon gaan studeer het nie. Sy kennis van die sielkunde is verstommend.

Ek kan baie rugbygeheime verklap wat ek na wedstryde oor ’n glasie of twee van Johannes Lodewikus Myburgh gehoor het. Die man wat in Senekal in die Vrystaat gebore is en wat in agtien toetse vir die Springbokke gespeel het. Maar dit sal, soos jy sou sê, nie krieket wees nie.

Ek het dertien van die toetse waarin hy gespeel het, uitgesaai. Hy het altyd met harde, eerlike spel meer as sy kant gebring. Ek het hom net een keer sy vuiste sien gebruik, maar dit was nie sonder rede nie. Dit was in die wedstryd leen Llanelly op Stradey Park op 20 Januarie 1970. Die wedstryd het op ’n yskoue dag plaasgevind en is ontsier deur ruwe vuilspel. Die Springbokke het met 10-9 gewen. Derek Quinell, wat ook vir Wallis gespeel het, het vir Mof by 'n losskrum met ’n kaphou agter die nek neergevel. Toe hy val, het hy Quinell aan die trui grond toe getrek en hom voor die hoofpawiljoen vol in die gesig met ’n allemintige vuishou getref. Quinell het eenvoudig net sy kop geskud en opgevloog om weer by die spel aan te sluit.

Die aand ná die wedstryd het Mof my 'n strikvraag gevra: “Gertjie, wat het van my ‘punch’ geword? Ek is bekommerd. Ek ‘punch’ daai ou vol in die gesig en hy staan sonder moeite op en hol." Toe begin hy ernstig praat. Hy vergeet die middag se voorval en beduie aan my dat ’n mens baie dinge in die lewe kan verloor, maar jy mag nie jou “punch” verloor nie. Groot woorde van die man van min woorde.

In 1970 klop die All Blacks die Springbokke met ’n enkele puntjie, 9-8. Ek dink vandag nog dat dit 'n oordeelsfout van die skeidsregter, mnr. Wynand Malan, was toe hy beslis het dat Mannetjies Roux onkant was. Dit het heelagter Fergi McCormick met 'n maklike strafskop die wenpunte laat aanteken. In die wedstryd van uiters ruwe en soms blatante vuilspel was daar baie wat geskimp het dat daar onder die voorspelers verander moes word. Daar is veral gepleit vir meer stewigheid in die voorry. Mof Myburgh sou ’n ideale keuse wees om as loskop te sak in die plek van Tiny Neethling. Hy is egter op vier-en-dertigjarige ouderdom as 'n veteraan beskou wat laas in die moddertoets op Cardiff Arms Park op 24 Januarie daardie jaar gespeel het.

Ek wou graag weet hoe die wind waai en gesels met die afrigter, Johan Claassen. Hy beduie dat ek ook asseblief met my vriend Mof moet praat. Hy moes sorg dat hy fiks is, want hulle soek hom vir die derde toets in Port Elizabeth. Ek was 'n baie teleurgestelde man toe Mof oor die telefoon aan my sê: “Nee Gertjie, ek sien nie kans om weer te speel nie. My nek hang aan ’n draadjie.” Ek skakel Mof se afrigter in Pretoria en ek moet wyle oom Buurman van Zyl se woorde aanhaal: “Moenie bekommer nie. Ek jaag die ou master al die afgelope drie weke hier teen die koppie uit. Hy sal fiks wees en hy sal speel.” Hy het gespeel, ook in die vierde en laaste toets op Ellispark. Die Springbokke het altwee wedstryde gewen.

Ek het hom nou onlangs na vyftien jaar weer gesien. Frik, Piet en ek was saam met hom by 'n funksie wat deur die Brits-Rugbyklub aangebied is. Soos van ouds kon hy en ek, rustig en sonder om te praat, aan ’n Bells, water en ys teug. In die stilligheid het ek dankie gesê vir die aand in Llanelly waar hy my geleer het dat 'n mens nooit jou “punch” moet verloor nie.

Groete

Gerhard.