Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
“Sit aan die d... ding!”
Beste Charles,
Die lang kriekettoer van Peter van der Merwe se span na Engeland was jou vierde toer na die land van jou geboorte. Charles, as ek reg onthou was jou eerste toer saam met Dana Niehaus. Die ou is vandag ook nie meer daar nie, maar hy het baie gedoen om die vreemde spel vir Afrikaanssprekendes interessant te maak. Dit het die taak vir die Afrikaanse radiokommentators na hom makliker gemaak. Die tweede kollega wat jou op 'n toer vergesel het, was Steve de Villiers. Ná hom Morkel van Tonder. Toe moes ek in 1965 by jou aansluit op die toer na Engeland wat vanaf Junie tot vroeg in September geduur het.
Morkel het my vertel dat jy ’n hardekwas ou korrelkop is. Ek was skrikkerig om persoonlik met jou kennis te maak. Verder het ek onthou hoedat jy my eendag lelik onkant betrap het toe ek nog deeltydse sportkommentaar in Kimberley gelewer het.
Jy was toe nog die Organiseerder: Sport in Johannesburg. Ek het die dag kommentaar gelewer oor ’n krieketwedstryd op die De Beers Stadion. Jy het per teleks versoek dat die Afrikaanse kommentaar ook ’n drie minute Engelse verslag vir die Engelse Diens doen. Ek was gek na uitsaai en het my Engelse stuk netjies uitgeskryf en seker gemaak van my “is” en “are” en “was” en “were” en sommer nog al die ander slaggate wat gepaard gaan met die Engelse taal. Die groot oomblik vir my eerste Engelse kommentaar het aangebreek, maar jou aankondiging het die koue sweetdruppels op my voorkop in Kimberley se hitte laat uitslaan. “It's raining in Pretoria, and for the next twenty minutes we cross to our commentator in Kimberley.” Jou ou bogger, jy kon mos maar oor die wind en die weer en die bietjie krieket wat daar in Pretoria gespeel is, gesels het. Dit was my moeilikste uitsending ooit. Ek moes in Afrikaans dink en Engels praat. Dit sonder ’n tellinghouer en ’n telbord wat feitlik geen inligting bevat het nie. Toe ons saam met Bobby Simpson se Australiese span in Kimberley was, het jy die telbord beskryf as die grootste stuk sink met die minste inligting denkbaar daarop. Jy was lelik beduiweld en toe die wind nog jou notas en telkaart skep, het jy die wens uitgespreek dat die wind die ding tot in die verste uithoeke moes waai. Toe ons middagete vir die koue vleis en slaai aanmeld, wou die kêrel by die deur jou nie laat ingaan nie. Hy het gereken as hulle telbord nie goed genoeg vir jou is nie, sekerlik dan ook nie hulle kos nie. Ons het uiteindelik langtand aan die kos gepeusel. Ek glo hy was baie spyt dat hy dit ooit durf waag het, want toe was jy eers ontstoke.Ek is deur my eerste Engelse krieketuitsending. Dit was nag, maar ek het groot bevrediging gesmaak toe ek die Maandag daarna in The Star die rubriek “Stoep Talk” gelees het. Die skrywer het beduie dat die kommentator in Kimberley nie heeltemal tuis was agter die mikrofoon nie en nie oor die ware Engelse aksent beskik het nie, “but he did give the score after each over and that is more than Charles Fortune can say. This alone recommends him for the bigger games”. Ek het vandag nog die uitknipsel en jy het lekker gelag toe ek dit onder groot applous die aand met jou afskeid as sekretaris van SACA voorgelees het.
Die vyfde wedstryd op die toer van 1965 was op Bristol. In die span van Gloucestershire was daar twee agtienjarige knapies wat ek vir die eerste keer in aksie gesien het. Barry Richards en Mike Procter. Hulle het in latere jare diep spore in Springbokkrieket getrap en groot opwinding en plesier aan ons verskaf in ons radiokommentaar. In net 93 minute saam voor die penne het die twee voormalige Nuffield-skolekrieketspelers 116 lopies om die vyfde paaltjie vir Gloucestershire aangeteken. Tussen hulle het hulle 21 grasieuse viere gemoker. Daar was ongelukkig net een dag se krieket moontlik, want die groot reën het weer uitgesak. Daar by die modderveld het ek ’n oproep ontvang van die SAUK se verteenwoordiger in Londen, Daan Eksteen.
Tot ons albei se vreugde het Johannesburg versoek dat ons twee die eerste vlug na Barcelona haal om die Davisbeker-kragmeting tussen Suid- Afrika en Spanje te gaan uitsaai. Dieselfde dag nog was ons oppad en het in die vliegtuig langs ’n baie ongeskikte en beterweterige Kanadees beland.
Toe jy ’n kans waag en sommer 'n “Oude Meester” bestel, het die man wat homself as “one of the most successful businessmen in Europe” beskryf het, besef dat ons van Suid-Afrika is. Hy het met slimpraatjies oor ons land begin. Toe hy erg beledigend raak, het jy aan my gestamp en gesê: “Climb into the bastard.” Ek het my bes probeer.
Met ons aankoms by die hotel was daar ’n versoek van dr. Anton Rupert dat ons die aand saam met hom en die Springboktennisspelers eet. Terwyl ons in die voorportaal van sy hotel op Cliff Drysdale, Frew McMillan, Bob Hewitt en Robert Maude gewag het, het ons in die spieël gesien hoe die Kanadees van vroeër die middag reguit op dr. Rupert afpeil: “Oh, I see you got here all right." Hy het dr. Rupert vir my aangesien. Ek het die geamuseerde doktor vinnig in Afrikaans ingelig.
Toe kom die vent sy fout agter. Ons was besig met drankies. Hy het ongenooid by ons aangesluit en 'n brandewyn bestel. ’n Herhaling van sy slimpraatjies het hom duur te staan gekom. Hy kry so 'n kort lessie van dr. Rupert oor ekonomiese aangeleenthede. Hy sê so ewe: “You seem to know a lot about these things. What do you do for a living?” Die doktor antwoord met die tong in die kies: “I sell a bit of tobacco and the stuff you’re drinking." Toe die Kanadees uitroep: “What, a common salesman?” kon jy dit nie meer hou nie en het hom driftig ingelig met wie hy praat. Onthou jy hoe vinnig het hy spore gemaak sonder om vir sy drankie te betaal of dit te drink?
Die uitsending het 'n groot gesukkel afgegee. Die Spaanse kommentator het langs ons op so ’n platform-affêre gesit en die drie manne wat die klank vir die onderskeie uitsendings gereël het, by die tafels so ’n stuk of tien tree agter ons. Jy met jou gebrekkige kennis van Frans kon jou op jou manier aan jou man verstaanbaar maak. Ek moes met Spaans-Afrikaanse Fanagalo en met sketse en handgebare met myne oor die weg probeer kom. Ek wou hê dat hy 'n opname maak van die laaste gedeelte van die wedstryd tussen Cliff Drysdale en Manuel Santana. My handgebare en sketse op die agterkant van my sigaretdosie het gehelp en die opname is gemaak. Toe was dit nogeens lyftaal, sketse en Fanagalo om aan hom te verduidelik dat ek die opname tydens my uitsending ingespeel wil hê. Van sy lyftaal en breë glimlag het ek afgelei dat hy my versoek verstaan.
Die ateljee in Johannesburg het oorgeskakel en ek het vertel van die opname wat ek gemaak het wat nou ingespeel gaan word. Ek het opgestaan, na hom toe gedraai en met ’n diep buiging en uitgestrekte arm bedoel dat hy die bandmasjien moet aanskakel. Hy het dieselfde buiging en armbeweging in my rigting gemaak. Seker gemeen my aksie was om dankie te sê dat hy kontak met Johannesburg bewerkstellig het. Ek het op hom afgestorm, met my vuis langs die bandmasjien geslaan en in goeie Afrikaans geskree: “Sit aan die donnerse ding!" Hy het en die uitsending het vlot verloop. Jy wou by my weet waaroor alles gegaan het en het lekker gelag toe ek jou vertel.
Ons was gelukkig om in November 1967 weer in Barcelona by die Club de Tenis te wees vir 'n uitsending van die kragmeting tussen Africa del Sur en Indië. Die dae van sportboikotte het verhoed dat die wedstryd in of Suid- Afrika of Indië gespeel word. Ons twee was tevrede, want ons het baie van Spanje gehou.
Dieselfde klankman het my omhels en op dubbelwangstyl gegroet. Hy het my aan die hand gevat en met trots al die apparaat aan my uitgewys en in Spaans op die naam genoem. By die bandopnamemasjien het hy vasgesteek, breed geglimlag, die hand na vore uitgestrek en met 'n sierlike buiging gesê: “Donnies dieng ies ghoet."
Van Barcelona af is ons na Frankfurt in Duitsland, en kon ons 'n belofte nakom wat ons vroeër daardie jaar in Kimberley gemaak het. Dit was by geleentheid van een van die vuilste en rofste rugbywedstryde wat ons moes uitsaai. Tot skeidsregter, kaptein Toy Myburgh, het deurgeloop. Hy moes voel hoe ’n Franse nommeragtskoen hom op sy sitvlak tref. Ná die wedstryd het die ondersteuners so saamgedrom by die hotel waar ons saam met die Franse tuisgegaan het, dat daar geen sit- of staanplek vir ons was om rustig 'n drankie te geniet nie. Die bestuurder van die hotel het ons na sy private sitkamer geneem. Ons is daar bedien. Terwyl ons met ons drankies besig was, het jy vinnig opgestaan en jou sjarmante buiging in die rigting van die deur het my ook vinnig laat opstaan. Dit was 'n baie vriendelike Amerikaanse toeris wat jou uitnodiging om by ons aan te sluit met dank aanvaar het.
Sy het nog nooit van rugby gehoor nie en kon die samedromming van mense nie verstaan nie. Me. Gwendoline Ross van die American Field School in Frankfurt het haar teiefoonnommer en adres in Duitsland aan ons gegee. Ons het belowe om haar op te soek indien ons daar sou kom.
Ons besoek aan Duitsland het toe gouer plaasgevind as wat ons gedink het. Dit was ’n verheugde Gwendoline wat haar telefoon beantwoord het. Sy het verlof geneem om ons die Rynrivier met sy kastele en padkroegies te gaan wys. Charles, jy kon ongelukkig nie saamgaan nie. Die weer was goor en ’n hewige verkoue het jou in die bed laat beland. Op pad na Rudesheim het ons oral by eetplekke aangedoen op soek na ’n ordentlike ontbyt. Oral was net kontinentale ontbyt beskikbaar. Sy as Amerikaner en ek as Boertjie was lus vir spek en eiers, biefstuk en sulke soort kosse. Meteens het sy by so 'n groot gebou ingedraai. Dit was ’n enorme restaurant in die American Field Hospitaal en ons het by ’n tou ingeval waar sy vir ons ontbyt en koffie bestel het. Niemand het ons vir geld gevra nie en ons het by ’n tafel gaan aansit waar een ou dame gesit en eet het. Haar arm was in gips. Sy het dadelik met ons begin gesels en wou weet wanneer ek dan huis toe gaan, want ek het vir haar so gesond gelyk. Ek praat met so ’n nasale stem en beduie dat ek die volgende dag uit die hospitaal ontslaan word. Sy wou weet waar my tuiste is. Gelukkig het ek in my kinderjare baie Cowboyboeke deur Max Brand en die snare gelees. Ek noem sommer ’n romanties klinkende pleknaam. Sy was tevrede met my antwoord.
’n Gratis ete in ’n eetplek vir hospitaalpasiente loop ’n mens nie aldag raak nie.
Die juffrou was ’n toergids soos min en ek was so jammer dat jy ons nie kon vergesel nie. Jy sou die “house wine” wat sy orals langs die roete bestel het, baie geniet het. Sy het versoek dat ek ’n klompie dinge in Afrikaans sê sodat sy kon hoor hoe klink my huistaal. Ek het afgehaak met “0 diep rivier, 0 donker stroom" en so 'n stukkie verder voorgedra. Seker maar die rivier voor ons wat my aan die woorde in die bekende gedig laat dink het. Haar kommentaar was: “I can’t understand a word but it sounds mighty nice.”
Charles, onthou jy, die volgende dag het ons twee by die restaurant en kroeg in Heidelberg aangedoen waar The Student Prince verfilm is. Dit was seker die eerste keer in jou lewe dat jy 'n bier gedrink het, want die kroegman het sommer sonder dat ons dit bestel het, twee bekers bier van die een punt van die lang toonbank tot voor ons laat gly. Dit kos gedoen te word. Jy het net so ’n bietjie bier gedrink, want jy is mos eintlik ’n man vir goeie wyn.
Ek verlang nou na die goeie ou dae.
Groete
Gerhard.