BRIEWE AAN CHARLES (14)

Gerhard Viviers

Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard

Trevor en ek en die “crocodile clips”

Beste Charles,

Jou grootste aanhanger by die destydse Engelse Diens van Radio Suid-Afrika was Trevor Quirk. Jy was die ideale leermeester vir die jong man. Hy het jou in uitsendings oor die radio goed nagemaak en wat hy van jou geleer het, het hy goed toegepas. Veral op die gebied van krieketuitsendings. Hy het nie heeltemal die mas opgekom in sy kommentaar oor rugby nie. Die fondament wat jy vir hom gelê het, het tot gevolg gehad dat hy hom bekwaam het vir krieketkommentaar op die kassie. Sy kennis van die spel het verseker dat hy hiervan ’n sukses gemaak het. Hy was die paaltjiewagter vir Noord-Transvaal in heelwat wedstryde. Toe hy as Organiseerder: Sport op die Engelse Diens my eweknie geword het, het ons by baie krieketwedstryde en rugbykragmetings saamgewerk. Maar ek wil jou eintlik vertel van die twee keer wat ons saam oorsee gereis het.

’n Barbarian-rugbyspan onder die bestuur van ons vriend Chick Henderson het 'n toer na Skotland, Engeland en Wallis onderneem. Trevor en ek is aangesê om die wedstryde te gaan uitsaai. Die sewe wedstryde wat tussen 3 en 27 Oktober 1979 gespeel is, was nie teen die sterkste spanne nie, maar daar is geredeneer dat die gemengde span die diepte in Suid-Afrikaanse rugby kan gaan bewys. Hulle moes ook as proefkonyne dien om te probeer vasstel wat die ontvangs vir toekomstige Springbokspanne deur die Britse Eilande sou wees. Die bekende Peter Hain, betogervoorbok van die Springboktoer deur die Britse Eilande in 1969/70, was nog op die toneel en daar moes bewys word dat Suid-Afrika gemengde rugbyspanne sonder rassediskriminasie in die veld kan stoot. Hy wou die toer ook ontwrig, maar kon nie daarin slaag nie.

Die span het hulle saak in ’n mate bewys en Hain op sy neus laat kyk, maar hy het sy betoog teen uitsendings van die SAUK oor die wedstryde met sukses deurgevoer. Die voorafbesprekings van die SAUK met die BBC vir tegniese hulp om kommentaar oor die wedstryde moontlik te maak, het misluk. Trevor en ek is aangesê om persoonlik te gaan onderhandel. Ek het die beroemde losskakel van Wallis en die Britse Leeus van 1955, Cliff Morgan, persoonlik geken. Hy was verbonde aan die sportafdeling van die BBC. Ons het op toere van die Britse Leeus hier te lande saam getoer. Soos Peter Pollock my die bynaam “Spiekeries” gegee het, het hy my "Bakgat” gedoop. Wanneer ons mekaar raakgeloop het, het ek op sy vraag hoe dit gaan altyd geantwoord: “Bakgat.” Hy het my toe ook so aangespreek.

Met ons aankoms daar oorkant was dit 'n gesukkel om met hom kontak te maak. Toe ons dit wel bewerkstellig het, het ek agtergekom dat ek nie meer so “bakgat” is nie. Cliff kon niks vir ons doen nie. Sy grootkoppe by die magtige BBC wou niks van enige uitsendings oor die wedstryde na Suid- Afrika weet nie. Ons het dit so teruggerapporteer, maar mnr. Steve de Villiers, Direkteur van die Afrikaanse en Engelse Radiodiens, wou niks daarvan weet dat ons terugkeer huis toe nie. Ons moes telefonies verslag doen.

Dit het vir my ’n uiters frustrerende toer geword. Ek meen, wat soek jy daar as jy nie kan uitsaai nie? Daar was nog nie die hedendaagse fasiliteite om 'n telefoniese bandopname te maak vir uitsending in Johannesburg nie. By die velde waar gespeel is, was daar gewoonlik net telefoongeriewe vir die plaaslike pers. Ons moes in die meeste gevalle na private wonings naby die veld haas en toestemming kry om “crocodile clips” aan die telefoon te konnekteer. Die knippies is voor ons vertrek uit Johannesburg aan ons uitgereik. Ek kon die goed nooit gekonnekteer kry nie. Trevor het darem ’n mate van tegniese aanleg gehad en ons kon op dié manier ná wedstryde soms primitiewe opsommings in Johannesburg vir uitsending opgeneem kry. Mnr. De Villiers het steeds beveel dat ons enduit daar bly. Trevor was jonk en het elke oomblik geniet. Ek was net eenvoudig gatvol. Gerrie Coetzee sou op 20 Oktober op Loftus Versfeld in Pretoria in ’n titelgeveg om die swaargewigkroon teen die WBA-erkende kampioen, John Tate van Knoxville, Tennessee te staan kom. Die WBA het geweier om die WBC-kampioen Larry Holmes te erken as Mohammed Ali se opvolger, en het die titel vakant verklaar. Ek wou eerder in Pretoria gewees het, maar helaas, vir die eerste keer as Organiseerder: Sport van die Afrikaanse Diens was ek nie toegelaat om my sportsake te reël nie.

Die frustrerende toer het darem een of meer grappige insidente opgelewer. Die eerste wedstryd was teen Devon op Exeter. Stut Martiens le Roux van die Vrystaat is as kaptein van die Barbarians aangewys. Daar sou ’n perskonferensie wees waar hy op versoek van die Britse pers vrae moes beantwoord. Dit was 'n sensitiewe saak en Chick Henderson het besluit dat aangesien ek reeds ’n betogertoer deur die land meegemaak het, ek die vrae namens Martiens moes beantwoord. Ek het ingestem om as tolk op te tree en Martiens sou voorgee dat hy nie Engels kan verstaan of praat nie. By die perskonferensie het Chick dit dan ook so aan die pers bekendgemaak. Ons persmanne het daarvan geweet en sou dit geheim hou. Dadelik kon ek sien dat ’n ou “vyand” van ons, Terry O’Connor, die aankondiging met 'n knippie sout neem. Hy was skepties oor die feit dat ek die tolk moes wees. Ons twee het vir die eerste keer in 1968 tydens die besoek van die Britse Leeus van Tom Kiernan saam deur ons land getoer. Hy het een aand in Port Elizabeth beweer dat die kelner wat ons in die ou Marine Hotel in die stad bedien het, die ongelukkigste slagoffer van apartheid is wat hy nog gesien het. Die man glimlag dan nooit nie. Ek het aan die kelner gevra om eerlik met O’Connor te wees oor sy gemoedstoestand. Terry het aan hom gevra of hy gelukkig is in sy werk en met sy omstandighede. Ongelukkig het ek Afrikaans met hom gepraat toe ek hom versoek het om baie eerlik te antwoord. Sy antwoord aan Terry was ’n loflied aan sy werkgewer en die land waarin hy woon. Terry het dadelik beweer dat ek hom voorgesê het.

Terug by die perskonferensie in Exeter. Ek het die eerste twee vrae en antwoorde getolk. Toe kom Terry met 'n skoorsoekvraag en Martiens antwoord hom uit pure frustrasie sommer direk. Ons plan het platgeval en Terry het lekker gelag oor die “scoop” wat hy gekry het.

In Skotland het ek op ’n middag hoogs verveeld in my hotelkamer gesit toe daar 'n klop aan die deur was. Ek was aangenaam verras toe ek die deur oopmaak en twee frisgeboude manne uit Suid-Afrika sien. Hulle stel hulleself voor as Floors en James Eigelaar van die Weskus. Hulle het visvangbelange in die Skotse waters maar het eintlik gekom om ’n bietjie rugby te sien en vir my 'n geskenkie te bring. Dit was vier bottels egte selfgestookte witblits. Suiwer perske. Ek moes dit saamneem huis toe en mag ook 'n bottel of twee aan my vriende gee. Hulle reël toe ook sommer dat die Suid-Afrikaanse persmanne plus Trevor ’n partytjie in my kamer op hulle onkoste hou. Sewe- uur vir sewe-dertig namiddag, spreek ons af. Ek het die nodige reëlings getref terwyl hulle daar weg is om ’n kitaar te gaan koop. Ons moes darem musiek hê. 0 ja, die bestuurder van die span moes ook by wees. Charles, jy ken vir Chick. Hy laat hom nie twee keer nooi nie. Sy vrou, wat haar by hom op die toer aangesluit het, moes haarself maar die aand vermaak want hy moes die rampartytjie bywoon.

Die verrigtinge het stiptelik begin. James het die kitaar ingestel en hy en ouboet Floors het ons sommer gou ’n liedjie of twee geleer. Die manne kon lekker sing met hulle luide Weskus-aksent en ons het baie gou ingeval, vals of te nie. Die kelner moes sy bediening ken en die manne was nie skaam om te betaal nie. In die koers van tienuur die aand het my kamerdeur oopgebars. ’n Klein, pieperige Skotse persman wat saam op die toer was en geen goeie woord vir ’n Suid-Afrikaner gehad het nie, storm die kamer binne. Sy woorde “I thought it was you South Africans, kicking up such a noise” het Trevor dadelik met gebalde vuiste vorentoe laat storm. Ek het hom gekeer en die mannetjie met sy dik brilglase genooi vir ’n egte Suid-Afrikaanse drankie. Ek kon sien dat hy seker al ’n hele klompie Skotse voggies agter die blad het. Ek het vir hom ’n whiskyglas vol witblits geskink en hom beduie dat ’n mens die glas sonder om asem te haal moes ledig. Vir Trevor en myself het ek twee glase water geskink. Daar is “cheers” gesê terwyl die manne “drink it down, down, down, down ..." gesing het. Ons het die glase geledig. Die Skot het op die bed gaan sit met ’n onnosele grynslag op die gesig. Hy het ’n tweede dop wat Trevor hom aangebied het, met ’n kopskud van die hand gewys. Toe het hy vooroor van die bed afgeval. John du Toit van Die Transvaler, Trevor en ek het hom na sy kamer gedra en met klere en al in die bed gesit.

Teen twee-uur die oggend het Floors besluit dat dit tyd was om sy vrou Aletta in “Vellerif” (Velddrif) aan die Weskus te skakel. Hy het die telefoon in my kamer gebruik en die internasionale sentrale gevra om nie te sê van waar die oproep kom nie. Hulle moes hom sonder ’n woord met haar in verbinding stel. Sy woorde sal ek nooit vergeet nie. “Hallo Mammie, jammer ek bel nou eers. Ek en James is nou so gatvol vir Pretoria, ons sal maar oormôre huis toe kom.” Ongeveer twee maande na my terugkeer in Suid-Afrika het ek op uitnodiging by Floors en Aletta in Velddrif gaan kuier. Ek het nie geweet wat om te sê toe hy praat van die heerlike tyd wat ons die aand in my kamer in die Great North Hotel in Edinburgh gehad het nie. Toe sy vrou later die vertrek verlaat, het ek hom getakel oor die oproep uit my kamer. Floors se antwoord was: “Ag, nee wat, ons het hulle lankal reggehelp, wou hulle maar net nie saamgaan Skotland toe nie.”

Die dierbare mense van die Weskus is vandag nog my vriende.

Maar terug in Skotland en die nadraai van die byeenkoms in my kamer. Terwyl ek die volgende dag in die voorportaal op my vriende staan en wag het vir middagete, het die klein Skotse persman, sonder bril en met oë op skrefies getrek, tot teenaan my geloop voordat hy my herken het. Hy kon nie verstaan wat van sy bril geword het nie. Ek het aan hom beduie dat ons dit in die laai voor sy bed gesit het. “What was that stuff you gave me to drink last night?” wou hy by my weet. Ek het al gehoor van mampoer maar dit nog nooit self gedrink nie. Die kenners het my vertel dat as jy baie water na ’n mampoersessie drink, jy van voor af smoordronk word en, soos julle sê, “uitpass”. Trevor het in daardie stadium bygekom en ons het die Skot aangeraai om soveel water as moontlik in sy kamer te gaan drink. Dit was die einde van die mannetjie se aanhoudende beledigings en snedige aanmerkings. Ons het hom nooit weer vir die res van die toer gesien nie en maar net gehoor dat sy koerant hom onttrek en op kantoor ingehok het.

Die Suid-Afrikaanse persgroep het oral saam in 'n bus gery. NáTrevor se les, naamlik dat dit nie nodig is om appels te swaai nie, het hy dit geniet om enige ou wat net ’n skewe woord in die bus se te konfronteer met die vraag: “Soek jy miskien ’n dop ‘witsblits’? Pasop, ou pel!”

In 1980 is Trevor en ek saam Denemarke toe om 'n wêreldtitelgeveg tussen Bushy Bester en Ayob Kalule uit te saai. Dit was 'n opwindende ondervinding om die land te kon besoek - dis nie aldag sommer enige sportkommentator beskore nie. Dit was seker maar as kompensasie vir die manier waarop ons verhinder is om die Gerrie Coetzee-geveg die vorige jaar in Pretoria uit te saai. Dié hotklou-Pretorianer was die Suid-Afrikaanse kampioen en Kalule die WBA se junior middelgewig-kampioen.

Charles, ek glo nie jy was ooit daar nie. Die nasie speel nie krieket nie. Hulle wil net liefde maak. Ek het nog nooit soveel mense vroegoggend reeds onder die invloed van drank gesien nie. Dit is nou in Aarhus waar ons tuis was en die geveg plaasgevind het. Langs die hotel was 'n groot kroeg waar 'n mens gerieflik op 'n perdesaal by die toonbank kon sit en bier drink. Die plek se naam was ook die Western Bar. Agter die toonbank was ’n pragtige blondekop, maar sy het haar min gesteur aan die vriendelikheid van die manne in die saals. Ons het die kroeg twee maal besoek. Die eerste keer vroegaand. Links van ons was 'n groot plakkaat teen die muur waarop die woorde “Come to Denmark - the kingdom of love” gestaan het. Die blonde aster agter die toonbank het staan en boek lees. Onder die plakkaat op die vloer het 'n paartjie openlik lê en vry en liefde maak. Die kroegmeisie het nie eers in hulle rigting gekyk nie, maar Trevor en ek het ons verstom.

In Aarhus het ek vir die eerste keer werklik kennis gemaak met die manewales van 'n vakunie en hoe dit tot gevolg het dat die stert die hond swaai. Die aand langs die bokskryt het ’n mannetjie twee mikrofone, kopstukke en ander tegniese apparaat vir die uitsending voor ons neergesit. Hy het ’n sitplek so drie rye na agter ingeneem. Sowat tien minute voor die uitsending moes begin, het ons hom gevra om asseblief die apparaat te konnekteer. Sy Engels was beroerd, maar ons het goed van hom verstaan dat die vakunie hom verbied om dit te doen. Sy plig was alleen om die toerusting, soos hy reeds gedoen het, by die kryt te besorg. ’n Ander tegnikus sou die lyne kom koppel en sorg dat ons kan uitsaai. Toe die ander man nie opdaag nie het Trevor weer self, soos in die geval van die “crocodile clips”, die nodige gedoen. Wonder bo wonder het hy kontak gemaak met die SAUK se hoofkontrole in Johannesburg. Met hulle instruksies is die koppeling reg gedoen en het ons slegs ’n minuut of twee laat begin met die uitsending.

 

Groetnis,

Gerhard.