Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Sportpotpourri
Beste Charles,
Ek wil 'n potpourri van gebeure in herinnering roep. Dinge wat ek en jy saam gesien en beleef het, Charles, en ander waarvan ek jou sommer wil vertel.
Onthou jy toe ons in 1965 in Engeland aangekom het? Ek glo nie jy het jou gesteur aan ’n plakkaat van 'n poniekoerant wat gelees het “First strike-free day in England in 366 days” nie.
Waaraan jy jou wel gesteur het, was die talle koerantparagrawe waarin geskryf is oor die vermoë van Colin Bland in die veld. Hy het beslis nie teleurgestel nie. Ses en twintig duisend mense het op die beroemde Lords soos een man ontplof van verbasing en applous toe hulle 'n fantastiese stukkie veldwerk van Colin Bland sien. Dit was in die eerste beurt van Engeland in die eerste toets. Onthou jy, die beroemde Ken Barrington was op pad na sy honderdtal. Sy kaptein, Mike Smith, was tevrede om die kolfwerk soveel moontlik aan hom oor te laat. Barrington het ná die teepouse 79 lopies by sy telling gevoeg en toe bring die briljante Bland ’n einde aan sy beurt met sy telling op 91. Smith het die bal na ekstra dekpunt gedryf vir ’n veilige lopie en om Barrington slag te laat bied. Colin, wat die hele dekveld manalleen gepatrolleer het, het in een beweging die bal opgetel en gegooi. 'n Baie verbaasde Barrington het gesien hoe die bal vinnig tussen sy bene deurskiet en die paaltjie ’n halwe tree voor hom tref. So 'n stukkie veldwerk is seker nog nie voorheen of sedertdien in Engeland gesien nie.
Ons twee het baie gepraat oor hoe die soort vertoning van Bland baie bygedra het tot die ongekende belangstelling in die reeks van drie toetse. ’n Kwartmiljoen toeskouers het dit bygewoon en gesien hoe die Springbokke vir die eerste keer sedert H.F. Wade se span in 1935 die “rubber” wen.
Weet jy, ek sit nou hier en kyk na ’n foto van Atholl McKinnon, waar hy op sy maag op die kolfblad lê met die bal in sy hand. Op die foto het hy geskryf: “Aan my pal Gerhard, met beste wense. Happy memories, Atholl McKinnon.” Die ou is ook nie meer daar nie, maar ek glo jy sal saamstem dat dit een van die eienaardigste vangkanse is waarvoor die grapmaker gesorg het.
Dit was die derde toets op die Oval in Londen. Ek het voor die aanvang van die wedstryd onwetend ’n tradisie verbreek. Ek wou die kolfblad gaan bekyk. Ek het halfpad gevorder toe ’n byna histeriese, waardige baanopsigter my voorkeer en summier wou arresteer. Hoe durf ek waag om oor die veld te stap.
Maar ek wou emtlik praat oor Atholl McKinnon se snaakse vangkans. In die rekordboeke staan daar “P.H. Parfitt v en b McKinnon 24” in Engeland se eerste beurt. Die foto vertel die hele verhaal. Colin Cowdrey en Peter Parfitt was besig met ’n skaflike vennootskap. Parfitt het slag gebied. Kaptein Peter van der Merwe het op vlakweg veldwerk gedoen. Die bouler was ons groot vriend Atholl. Die bal gly uit sy hand uit en spring twee keer op die kolfblad. Op die tweede spring tree Parfitt vorentoe en slaan 'n allemintige hou. Die bal tref Van der Merwe teen die boarm en maak ’n hoe boog in die rigting van Atholl wat laggend langs die kolfblad staan. Ek hoor nog Van der Merwe skree: "Catch it! It’s in the air!” Byna het Atholl dit te laat besef. Hy val vorentoe met bak hande en vang die bal letterlik 'n enkele duim van die grond af.
Op die toer het ons ook die vinnigste amper-honderdtal wat daardie jaar daar aangeteken is, gesien. Dit was die dertiende wedstryd wat middel Augustus teen Hampshire op Southampton gespeel is. Tot in daardie stadium was die vinnigste honderdtal dié van die einste Parfitt, in 120 minute. Jy sal onthou hoedat Peter Pollock met die eerste bal wat geboul is, ’n paaltjie geneem het. Graeme Pollock het in Suid-Afrika se eerste beurt ’n nulletjie gekry toe hy uitgevang is vanaf die boulwerk van Shackleton. Toe kom hy in sy tweede beurt kolf en verneder die boulers. Na slegs 67 balle bereik hy 94 lopies in 66 minute. Ek onthou hoedat die Engelse kommentator wat saam met jou uitgesaai het, gemeld het dat hy graag die jong meester wil ontmoet.
Daar was 100 Britse ponde beskikbaar vir die man wat die vinnigste honderdtal aanteken. Met sy telling op 94 (drie sesse en elf viere) was dit duidelik dat Graeme beplan het om honderd met die slaan van sy vierde ses aan te teken. Die kaptein het dit gesien en die 41-jarige Shackleton na die skerpbygrens uitgestuur. Hy het die bouler beveel om ’n kortbal aan die bykantte boul met die veronderstelling dat Pollock ’n haakhou sou uitvoer. Hy het dit gedoen en Shackleton het hom op die grens uitgevang. Graeme het by my in die kommentaarhok kom sit. Ek het hom gevra hoekom hy nie probeer het om eenhonderd goeie Britse ponde te verdien nie. Sy antwoord: “I play the game for enjoyment, not for money.” Dit was sy eerlike benadering 31 jaar gelede. Jou medekommentator het met grootoog-bewondering kom kennis maak met die beskeie mens.
Twee wedstryde later teen Warwickshire, die span van die Engelse kaptein Mike Smith, het Atholl, Graeme en jy, Charles, darem lelike etikette om my nek gehang. Ek het vroegoggend op die eerste dag van die wedstryd ’n smaaklike “pork pie” by die veld gekoop. Wat met die “pie” verkeerd was, weet ek nie, maar nog nooit het ek so 'n omgekrapte maag gehad nie. Toe ek spierwitbleek by julle in die kommentaarhok instap, het jou kollega voorgestel dat ek die dokter wat in Smith se span gespeel het, spreek vir ’n ondersoek en medisyne. Jy het dadelik van jou laat hoor met ‘n: "You can’t expect my good Afrikaner friend to make use of a black doctor.” Jou moedswillige ou bogger, het jy maar geweet dat een van ons huisdokters in my tuisdorp Mafikeng ’n swart man was - die bekende dokter S.M. Molema.
Met middagete wou Mike Smith ook weet wat met my skort. Hy het voorgestel dat ek sy spanmaat spreek, waarop Atholl byna ’n soortgelyke stokkie voorgesteek het. Sy woorde: “Who, Boertjie? No, never. Rather let him suffer.”
Die aand by 'n funksie vir die spanne het ek die derde geleentheid misgeloop om die dokter te kon spreek. Hy was in gesprek met Graeme en Mike Macaulay. Die twee het gehoor van die “pork pie” en my maagprobleem, maar was uiters moedswillig. Toe ek hulle in Afrikaans vra om my aan die man voor te stel was Graeme se woorde, tong in die kies: “Nee, jy hom donne’ sal.” Was dit nie vir die kroegman by die funksie wat my 'n stywe dop van ’n Franse drankie soortgelyk aan ons boegoe en port gegee het nie, was ek seker baie na aan lepel in die dak steek.
Jy was nie saam met ons in Australië nie, maar daar het ek voor ’n rugbyuitsending longontsteking opgedoen. Daar was nie ’n dokter in die plaaslike span nie, maar Kim Shippey het gereël dat die hotel se geneesheer my behandel. Hier was nou vir jou ’n gawe kêrel. Hy het my in die bed gesit met pille en die nodige inspuitings toegedien. Die dag van die wedstryd het hy my persoonlik veld toe geneem en by my in die kommentaarhok gestaan terwyl ek uitgesaai het. Rustyd het hy my weer ’n inspuiting in die boud gegee en my dadelik ná die wedstryd hotel toe geneem en in die bed gesit.
In 1977 was ek in Nieu-Seeland om wedstryde van die Britse Leeus uit te saai. Die koue van Dunedin, waar ek hoog bo-op 'n stellasie in die ope gesit het, het my weer met longontsteking in die bed laat beland. My vriend Jan Snyman het haastig ’n dokter laat kom. Hy het my gratis behandel en by die apteek het hulle gesê die duur medisyne word sonder koste voorsien. Ek wonder vandag of ons grootkoppe in die Departement van Gesondheid nie dalk ’n bladsy uit die Nieu-Seelandse boeke moet gaan skeur nie.
Terwyl ons nou gesels oor skete en dokters wil ek jou vertel van die karnallies in die rugbyspan van 1969/70 na die Britse Eilande. Hulle het agtergekom dat my grootste vrees dié vir ’n slang is. Hulle het in jou geboorteland, waar daar nie slange is nie, rubberslange gaan koop. Hulle het my so geterroriseer deur slange in my bed, tussen my klere en in my gesig te gooi dat my senuwees breekpunt bereik het. Toe Jan Ellis ’n dokter laat kom het vir ’n veluitslag het ek die man ook gespreek. Dit was so ’n jong doktertjie wat blykbaar nog nie veel ondervinding in sy beroep opgedoen het nie. Jan het tydens die ondersoek sonder meer uit die kamer gestap. Die dokter het vir my oor 'n honderd pilletjies voorgeskryf. Hy het gewaarsku dat dit gewoontevormend is, maar het gemeen die honderd sou my nie werklik verslaaf maak nie. Nodeloos om te sê, die pille lê seker vandag nog êrens in ’n kas. Mot Myburgh het van my senuweetoestand en die pille verneem. Hy het die manne bymekaar geroep, beslag gelê op al die rubberslangetjies en gewaarsku dat enigeen wat weer met sulke onnodige streke vorendag kom, met hom te make sou kry. Ek was my ou vriend ewig dankbaar en het rustig verder getoer.
Charles, onthou jy die aand in Frankryk waar ek jou vir die eerste keer met 'n bek vol tande gesien het. Jy was baie verleë en het nie geweet wat om te sê nie. Ons moes êrens heen reis met die trein. Jy het die kaartjies in jou besit gehad. Die wa en kompartementnommer was daarop aangeteken. Ek het alles aan jou oorgelaat. Ons het die trein bestyg en toe ons die kompartement bereik, was dit reeds deur ses passasiers beset. Een van hulle het met 'n tikmasjien op die skoot gesit en tik. Ek moet sê jy het hulle met tipiese Engelse waardigheid in Frans aangespreek. Die ou met die tikmasjien het nie eers opgekyk nie. Die ander vyf het net geglimlag. Jy was driftig toe jy die bevel “removay” herhaal het. Die vyf het hardop gelag. Die sesde het ophou tik en jou streng aangespreek. “Listen my friend, you seem to be confused. What is you compartment number?” Nou kon jy jou landgenoot behoorlik aanspreek. “This is our compartment, 3467 E.”
“Well sir, for your information, this is compartment 3467 D. So I suggest you ‘removay’.” Jy kon toe niks sê nie maar het later darem baie lekker gesels toe ’n advokaat van Londen ons in die regte kompartement besoek het. Julle het kopstukke oor krieket gesels. Hy het gevra of jy die Morris Minor wat voor Lords “gesteel” is, toe ooit gevind het. Dit wys jou hoe ’n wye gehoor jy gehad het. Ek het tot groot vermaak van beide van julle nog 'n skitterende voorbeeld van jou merkwaardige hantering van sake agter die mikrofoon aangehaal. Jy was ’n uitsaaikunstenaar.
Daardie selfde dag op Lords, terwyl ek agter jou in die kommentaarhok gestaan het, het jy ’n koerantuitknipsel uit die jare toet te voorskyn gehaal. Die krieket was toffietaai en jy het begin deur te sê: “I remember way back in 1924 ...” en toe begin lees, maar gemaak of jy die dag tydens ’n baie eienaardige voorval op Lords self teenwoordig was. Ek dink die skrywer van die artikel het die storie opgemaak. Jy was besig om te lees toe daar uiteindelik 'n paaltjie val. Jy het met jou lesery nie gekyk nie en kon dus nie sê wie en hoe die kolwer uit is nie. Jy het sommer so terloops gese. “Hello, hello, he’s out and as I was saying, way back in 1924 ...” Ongelukkig kon ek nie verder luister nie, want ek moes maak vir my eie kommentaarhok. Toe ek die storie klaar vertel het, is daar lekker gelag en al opmerking van die advokaat was: “So you could not tell how he was removayed.” Jy het geantwoord: “It did not matter at all. The 1924 story was much more exciting.”
Jy kon altyd ’n storie met smaak vertel.
Daar Is 'n on Afrikaanse spreekwoord wat lui: as die skoen jou pas, trek hom aan. Dit geld egter nie vir die storie wat ek jou nou wil vertel nie, want die skoen het nie gepas nie.
Ek het jou vertel van die Rugby Football Union se “Centenary”-wedstryde in 1971 wat ons bygewoon het. Op een van die plekke waar die wêreldspan gespeel het, het ’n snaakse ding my oorgekom. By die hotel waar ons tuisgegaan het, het ’n vriend uit Suid-Afrika en sy verloofde opgedaag. Die hotel was volbespreek en hulle het nie slaapplek vir die nag gehad nie. Ek het my enkelkamer aan hulle afgestaan en in Phil Zaayman, sportskrywer van Rapport, se kamer gaan slaap. Sy kamer het ook net een enkelbedjie gehad, met die gevolg dat ek slegs met ’n kombers op die vloer moes slaap. Ons moes die volgende oggend na Londen vertrek. Ek het aan my vriende beduie dat hulle om sewe voormiddag my kamer moes ontruim aangesien ek nog moes inpak vir ons busrit om agtuur.
Ek het Phil wakker gemaak en is terug na my eie kamer. Die verloofdes het 'n briefie van bedanking gelaat. Hulle het vroegoggend vertrek. Ek het geskeer en getoiletteer, my bagasie gepak en in die bus voor die hotel gaan sit en wag.
Die span en beamptes het een vir een hulle sitplekke ingeneem. Om vyf voor agt was daar nog geen teken van Zaayman nie. Ek het geweet dat die bus stiptelik om agtuur sou vertrek en het ingehardloop om hom te gaan roep. Dit is die vinnigste wat hy seker ooit beweeg het. Die bus se enjin het reeds geluier toe hy, nog deur die slaap, met sy tas ingeklim het. Toe hy verby my sitplek stap, het hy gesê: "Hoor hier, ek het jou skoene in my tas gepak.” Ek het my nie daaraan gesteur nie, want ek het nie geweet waarvan hy praat nie.
In Londen was ons kamers langs mekaar. Na middagete het ek 'n rukkie gaan lê na die vorige nag se ongemaklike slaap op die vloer in Phil se kamer. Toe ek wakker word, was daar die lelikste paar skoene voor my kamerdeur. Bruin skoene met sulke opkrulspitspunte. Ek het dadelik gedink aan Phil se woorde die oggend toe hy die bus so deur die mis bestyg het. Ek het op my beurt die skoene voor sy kamerdeur geplaas. Toe ons ’n rukkie later ’n skemerkelkie in die sitkamer geniet het, het hy my van ondankbaarheid beskuldig. Hy het beduie dat hy my ’n groot guns bewys het deur my skoene, wat voor sy kamerdeur by die vorige hotel gestaan het, in te pak. “Luister Phil, ek dra nie sulke lelike bleddie skoene nie. Dis nie myne nie.” Die skoene het die volgende oggend in Londen weer voor my kamerdeur gestaan. Ek het die hotelbestuur gevra om te sorg dat die skoene aan Phil besorg word. Hulle moes ook daarvoor sorg dat dit nie weer voor my deur beland nie.
Charles, jy weet, ek wonder vandag nog of Zaayman steeds die skoene het. Ek het gehoor hy het hulle ewe gedwee ingepak toe ons terug Suid-Afrika toe gekom het. Ek wil hom nie vra nie, want ek is bang ek skrik een oggend wakker en vind die skoene saam met die oggendkoerant by my voordeur. Ek weet beslis dat hy ook nie sulke skoene dra nie. Ek hoop nog altyd dat wie ook al daar in jou geboorteland nie te veel geswets en gesukkel het toe hy nie sy skoene kon vind nie.
My vlug terug na Suid-Afrika was heel gerieflik. Ek het eersteklas gereis op 'n vlug van BOAC. Langs my het ’n Engelsman gesit. Hy kon nie genoeg gesels oor die gerieflike sitplekke en die bediening nie. Eintlik moes jy langs hom gesit het. Dan kon jy aan hom verduidelik het dat ons baie beter rooiwyn gewoond is.
Ons was ongeveer een uur ver uit Heathrow toe die kaptein ’n dramatiese aankondiging maak. Hy het ons versoek om nie paniekbevange te raak nie. “We have a bomb scare, we will be dumping fuel and then return to Heathrow. Please be calm." lemand het glo geskakel en gesê dat daar ’n bom aan boord is. Ek moet sê, dis ’n aardige gevoel om sulke nuus te kry. Die brandstof wat uitgelaat is, het sulke vaal strepe teen die ruite gemaak en die man langs my het sommer vir hom nog ’n bottel van die onsmaaklike wyn bestel. Die vliegtuig het in een van die verste hoeke van Heathrow geland. Die noodglybaan in die eerste klas is dadelik uitgelaat en ’n ou tannie is gehelp om op haar rug af te gly. Sy is onder deur lughawepersoneel mooi saggies weer op die been gehelp. Ek het gespring en op my sitvlak afgegly. Daar was niemand om my onder te help nie. Ek het tree ver op die harde laaiblad op my sitvlak gewip met my medepassasier kort op my hakke. My sitvlak was seer en gekneus en ek was sommer die joos in toe ek sien dat die Springbokke rustig uit die ekonomiese klas die trappe afstap. Hulle het my vinnige vaart uit die vliegtuig aanskou en het lekker gelag en gespot. Toe ons in die bus sit, op pad na ’n gebou daar naby, het die ou tannie wat voor my gegly het reg voor my gesit. Sonder om doekies om te draai het ek aan my vriende verduidelik watter dele van my anatomie pynlik seer is. Die ou tante het my berispe deur so ewe met ’n swaar aksent te sê: “Mannetjie, shut up. Ek Afrikaans ’n bietjie verstaan.” Ek het haar om verskoning gevra maar beduie dat die genoemde plekke seer bly.
Ons bagasie is in ’n ry gepak en ons moes dit identifiseer. Alles was toe reeds deursoek. Een tas, geadresseer aan iemand in Amsterdam, is nie deur een van die passasiers opgeëis nie. Na ’n lang vertraging was ons weer op pad en toe ons in Rome land, was daar weer ’n vals alarm van ’n bom aan boord. Weer is ons baie lank vertraag, maar ons kon darem ’n ete en wyn van ons keuse bestel.
Die geheim van die tas bestem vir Amsterdam op 'n vlug na Suid-Afrika is nooit aan ons verduidelik nie. Hoe sal ons weet, miskien was daar ’n bom aan boord.
Groete,
Gerhard.