Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Verkeerde diagnose
Beste Charles,
Australië is vir my 'n baie mooi land. Net soos dit seker vir jou ook was. In baie opsigte nogal baie soos Suid-Afrika. Sydney is vir my ’n besondere stad. Daar het ek in 1971 twee keer op die Sydney Cricket Ground rugby uitgesaai. Charles, ek het ongelukkig nooit daar soos jy krieketkommentaar gelewer nie.
Maar soos ek belowe het, wil ek jou eers vertel van my ondervinding in die beroemde stad in 1977. Jan Snyman en ek was op pad terug van Nieu- Seeland af en moes 'n SAL-vlug daar haal. Ek was baie opgewonde toe ek hoor dat daar ’n staking van lugvaartpersoneel is en dat geen vliegtuig bedien mag word of enige vlug mag vertrek nie. Dit was nie opgewondenheid oor die staking as sodanig nie, want jy weet ek verpes dit. Dit was blydskap dat ek ’n paar dae in Sydney kon vertoef sonder enige verpligtinge of bekommernis. Daar is vir ons twee enkelkamers in ’n hotel in Kings Cross bespreek. Miskien het ons te laat uitgevind dat dit eintlik ’n berugte woonbuurt is. lets soos Hillbrow deesdae.
Dit was Augustusmaand. Die koning van rockmusiek, Elvis Presley, is die dag van ons aankoms in Sydney oorlede. Huldeblyke en sy musiek is 'n dag lank aanmekaar uitgesaai. Dit was oor die radio en op televisie. Dit was die eerste keer dat ek nou werklik na die man geluister het. Ek moet erken dat ek daar besef het dat hy ’n kunstenaar van formaat was. Enig in sy soort. Ek moet egter bysê, die Presley-musiek het later net te veel geword om na te luister.
Ek het jou al vertel van Lukas Visagie wat ek tydens die toer van Hannes Marais se seëvierende rugbyspan in 1971 ontmoet het. In die Sydney- telefoongids kry ek sy naam opgeteken en hy antwoord self sy telefoon met ’n “Hello, Luke speaking”. Hy was baie bly om van my te hoor. Ten spyte van al die jare wat hy Suid-Afrika tot siens gesê het, was sy Afrikaans nog suiwer. As loods vir Qantas was hy al keelvol vir die staking. Hy het ons telefoongesprek afgesluit met die woorde: “Sien julle binne ’n uur.”
Dit was ons tweede dag daar. Ek was ’n bokommerde man, want ek het die oggend ’n rooi skynsel aan my wit onderklere bemerk. Ek het besluit om Lukas te vra om vir my ’n afspraak by ’n goeie dokter te maak. Ek het ook ’n effense rugpyn gehad en het aanvanklik gedink dat dit maar die gevolg was van die harde, ongemaklike matras in my kamer. Die rooi skynsel het my egter spookgedagtes van nierprobleme laat kry.
Dit was 'n blye weersiens. Lukas en sy vriende was glad nie gelukkig met ons blyplek nie en het reëlings getref dat ons verskuif na ’n vakansieplekkie langs die see. Hulle was ook bekommerd oor my moontlike probleem en ek is onmiddellik na ’n uroloog geneem. My vrese is bewaarheid. Hy het nierontsteking gediagnoseer en pille en antibiotika voorgeskryf. Ek het dit dadelik begin gebruik.
Dit was ’n heerlike tydjie wat ons by die vakansieoord, naby waar Lukas gebly het, kon deurbring. Ons het by hulle aan huis gaan eet en was aangenaam verras met die bord “boerekos” wat op die sop en voorgereg gevolg het. Die wyse waarop hulle sonder bediendes klaargekom het, was 'n “eye opener”. Daar was ’n vriend van Engeland en sy vrou saam met ons aan tafel. Hy was ook ’n loods by Qantas. Ná elke gang het die vroue die eetgerei gaan opwas en daar het geen skottelgoed in die wasbak opgehoop nie.
Jan en ek het 'n potjie tennis by hulle gaan speel. Ons het ’n draai gaan maak by die Squire Inn, die hotel waar ek in 1971 saam met die rugbyspan tuisgegaan het. Die ou plekkie in Bondi Beach het aangename herinneringe opgeroep.
Dit kon nie hoër of laer nie, ons moes saam met Lukas-hulle in 'n kompetisie gaan gholf speel. Ek het wel vroeër jare stokke geswaai, maar vir Jan was dit ’n nuwigheid. Dit was ’n sosiale kompetisie en daar was gaste uit verskillende lande wat onder applous moes opstaan wanneer hulle deur die klubbestuurder voorgestel is. My en Jan se beurt het aangebreek. Charles, jy sou lag gekry het as jy die verwelkoming gehoor het: “And now, ladies and gentlemen, it gives me great pleasure to introduce to you, two members of the famous Wanderers Gholf Club in Johannesburg, South Africa. Jerry Vivier and Jhan Snaymin.” Ek moet sê, die onverdiende staande applous wat ons gekry het, was iets om vir altyd te onthou. Lukas en Jack het 'n prys met hulle gholf gewen. Dit was 'n eksklusiewe bottel Skotse whisky elk. Hulle het dit aan ons oorhandig en dit het ’n ereplek in my kabinet gekry. Jan het die dag net een putjie gespeel. Ek het darem drie voltooi maar ook tou opgegooi toe ek besef het die spelers agter ons word onnodig vertraag. Ons het die toernooi geëindig as sakdraers vir ons vriende.
Ons tydjie daar het vinnig ten einde geloop. Die staking was verby en ons op pad huis toe met SAL. Die uroloog van Sydney se doepa het nie gehelp nie. Ek het met dit wat oor was van die medisyne en 'n gevlekte onderbroek dadelik my uroloog in Johannesburg gaan opsoek. Na ’n ondersoek het hy ook besluit dat dit nierprobleme is en aan my ander medisyne voorgeskryf.
Die volgende dag was ek op pad na my stukkie bosveld buite Brits. Oor die radio luister ek na die program Vrouerubriek. Daar was onder andere 'n praatjie oor hoe ’n kleurstof vir parfuum van Australiese plantluise verkry word. As die byna mikroskopiese klein luise in aanraking met water kom, kry die water 'n rooi skynsel. Daar was by al my bekommernis ook ’n effense gejeuk teenwoordig. Die praatjie het my op die spoor gesit. Selfondersoek met ’n vergrootglas het die lastige gaste uit die enkelkamer in die hotel in Kings Cross in Sydney geïdentifiseer. Die nattigheid teen die platluise was my probleem en ek was verheug dat daar nie fout met my niere was nie.
’n Aptekervriend se salf het die rooi skynsel laat verdwyn. Toe ek my vriend Jan die blye tyding meedeel was hy ’n verligte man. “Gerrie, ek was skaam om jou te sê. Ek het gaan raad vra by my apteker na ’n gejeuk. Hy het die lastige diertjies ontdek. Ek is kaal geskeer en jeuk nie meer nie.”
Charles, jy sal verstaan as ek vir jou sê indien ek ooit nierontsteking moet kry, sal ek van uroloog verander.
Soos jy weet, ou vriend, het Qantas ons jare geboikot vanweë regeringsbeleid. Toe loop die dinge ten einde en daar is weer vlugte uit Australië na Johannesburg. Toe die eerste een land, het ek die aand op TV gekyk. Dit was 'n aangename verrassing toe ek sien die loods is kaptein Lukas Visagie. Daar was ’n klompie jare by op die ou gesig en lyf, maar dit was goed om hom weer te sien. Ongelukkig was hy reeds op pad terug na Australië, toe ek die volgende dag skakel. Qantas se kantoor in Johannesburg wou my ook nie sy adres gee nie. Dit is jammer, want ek sou graag weer kontak wou maak.
Groetnis,
Gerhard.