BRIEWE AAN CHARLES (21)

Gerhard Viviers

Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard

Vreemde vriende

Beste Charles,

Jy en ek was nie baie keer saam in Oos-Londen nie. Ons het so een of twee keer daar saam krieket uitgesaai. Jy kon lekker gesels oor jou jare as onderwyser op “Grahamstown” daar naby. Dis mos waar jy kom nesskop het in Suid-Afrika ná jou aankoms hier uit jou geboorteland. Charles, ek weet ons het eenkeer daarvandaan af ook uitgesaai. 'n Mooi ou dorpie met vriendelike mense en ek kon dink dat jy baie gelukkig daar was.

Daar is twee dinge wat met my in Oos-Londen gebeur het wat ek nooit sal vergeet nie. In my polisiedae in Kimberley moes ek ’n baie groot area dek. Dit was van my aangenaamste jare. Die “seksie”, soos dit genoem is, wat ek moes bedien, het ook tot diep in die Kalahari gestrek, tot ver buite my geboortewêreld. Daardie jaar het ek maar 'n baie klein daaglikse toelae, wat “S and T” genoem is, gekry. As ek reg onthou, was dit twaalf sjielings en ’n sikspens in daardie dae se geld. Ongeveer R1.25. Dit was genoeg vir kos, maar om te kon betaal vir 'n slaapplek was buite die kwessie. Die halfton-bakkie waarmee ek gery het, het 'n seiltent gehad en daaronder was darem plek vir ’n enkelbed. My konstabel was ene John Rooibaadjie. Soos ek, was hy baie lief vir die veld en hy het altyd sy bed buite gemaak. Die ou was ’n bobaaskok. Hy het nie sy gelyke gehad in die gaarmaak van ’n soutribbetjie of ’n tarentaal nie. Dis een van die lekkerste voëls, maar jy moet weet hoe om dit voor te berei. Wildslewer oor die kole gebraai saam met krummelpap was nog een van sy spesiale disse. Jammer jy het nooit die dinge geken nie, maar ek weet dat jy altyd op toer allerhande vreemde kossoorte beproef het en John se “specials" sou geniet het.

Een van die kere wat ons saam in Oos-Londen uitgesaai het, was in die sewentigerjare. Dit kon op die toer van Bobby Simpson se Australiese span gewees het. Die wedstryd het geduur van die Vrydag tot die Maandag. Die Saterdagaand het ek ’n baie onverwagse oproep ontvang. Ek is meegedeel dat afgetrede konstabel John Rooibaadjie oorlede is en die Sondag in Transkei begrawe sou word. Die familie versoek dat ek asseblief die begrafnis moet bywoon. ’n Polisiebeampte van Oos-Londen sal my vroegoggend oplaai. John en ek het laas in die vyftigerjare saam gewerk voordat hy na die Oos-Kaap verplaas is.

Die is die eerste keer dat ek ’n begrafnis van die aard bygewoon het. Dit was 'n daglange seremonie. ’n Hele jong bees is deur die begrafnisgangers opgeeet. Ek moes meedoen. Ek moet sê, dit was nie so smaaklik gaargemaak as dit wat ek saam met my kollega van soveel jare gelede genuttig het nie. Die slukkie of twee bier wat ek uit ’n groot kleihouer moes drink, het ook nie naastenby so lekker afgegaan as die doppie wat hy menige aand uit die fles in my kostrommel vir ons in die blikbekers geskink het nie. Die familielede het my teenwoordigheid waardeer en vir my was dit ’n voorreg om die laaste eer aan 'n ontslape vriend te betoon.

Die tweede gebeurtenis wat ek wil noem, het byna-byna ’n lelike insident veroorsaak. Dit sou die toer van Andy Leslie se All Blacks van 1976 'n kwaai knou toegedien het. Ek en John Holmes, wat verantwoordelik was vir die toerbesprekings, het toe al ’n hele klompie toere saam meegemaak. Die eerste wedstryd was op 30 Junie in Oos-Londen teen ’n uitnodigingspan van Grens. John en ek is met ons aankoms die aand by die hotel deur ’n ontstoke en bekommerde inspekteur van skole, mnr. Marais, voorgekeer. Hy was ’n bruinman wat met sy vrou en twee vriende saam met ’n groepie spelers in ’n klein sitkamer gesit het. Hy het hulle vir ’n drankie genooi. Kan jy glo, die kelner wou hulle nie bedien nie, want die eienaar van die hotel wou nie die wet oortree nie. Gelukkig het die spelers nog nie besef wat aangaan nie. Ons het mnr. Marais versoek om te kalmeer en belowe dat ons binne enkele  minute by hulle sou aansluit. Die eienaar het toegestem dat hulle bedien kan word mits ons die verantwoordelikheid op ons sal neem. Ons is met kelner en al na die groep waar 'n rondte bestel is. Ons het ook so gemaak en na ’n tweede drankie is die vriendelike mense daar weg. Onder die stuk of ses spelers teenwoordig was Bill Bush, bekende Maori-staatmaker van die All Blacks. Hy was ’n ruwe en harde speler, 'n natuurlike balspeler wat ten spyte van sy massa van 228 pond baie beweeglik en vinnig was. Die baardman het daarvan gehou as die toeskouers hom uitjou en hy het hulle baie keer met opset rede daarvoor gegee. Mnr. Marais was baie dankbaar dat alles sonder verdere onaangenaamheid verloop het.

Die volgende jaar is ’n droom van my bewaarheid. Ek wou altyd Nieu- eeland as rugbykommentator besoek. Ek het 'n sterk pleidooi gelewer dat dit vir my nodig was om ’n klompie wedstryde van die Britse Leeus daar te gaan uitsaai. Hulle sou die volgende toerspan na Suid-Afrika wees en ek wou hulle gaan deurkyk. TV het pas begin en Jan Snyman, wat vir hom daar nes geskop het, het beduie dat dit noodsaaklik is dat hy saamgaan om ondervinding as kommentator op die kassie op te doen. Die SAUK het die groen lig gegee vir Jan om twee toetse op TV uit te saai. Ek kon die twee toetse vir die Afrikaanse Diens van Radio Suid-Afrika en nog drie ander wedstryde gaan uitsaai. Daar is tot deur ’n LV in die parlement kapsie gemaak teen die besluit van die SAUK. Gelukkig was die parlementslid iemand wat in daardie stadium deur bale min mense koptoe gevat. Hy is steeds met die politiek doenig en nog steeds steur weinig hullo aan hom. Net terloops, Jan en ek het in dieselfde jaar, 1962, as omroepers by die SAUK begin. Ek het vertrek met 'n telegram van die Marais’s van Oos-Londen in my sak. "Bon voyage. Sê groete aan Billy Bush en al die ander vriende.”

Ons het die oggend om sewe-uur in Auckland aangekom. Dit was Saterdag 23 Julie. Die Britse Leeus van 1977 sou die middag om halfdrie teen Auckand op Eden Park speel. Ons was behoorlik vlugvoos vanweë die agt uur tydverskil met Suid-Afrika. Met ons aankoms die middag by die beroerde veld kon twee Britse koerantvriende, David Frost en Terry O’Connor, eenvoudig nie glo dat ons die middag gaan uitsaai nie. Hulle is deur hulle vakunie verbied om binne veertien dae na aankoms uit Engeland ’n enkele woord te tik. Ek het hulle uitgelag, maar het die middag halfpad deur die uitsending besef dat hulle dalk ’n punt beet het. Ek kon nie behoorlik konsentreer nie en het die spelers moeilik geïdentifiseer. Dit was 'n lewendige wedstryd wat deur die Leeus onder aanvoering van die bekende losskakel Phil Bennett gewen is.

Net voor die begin van die wedstryd het ek in die tou geval om die “Mans” te besoek. Die een tou het in beweeg en ’n ander een uit. Dit het maar stadig gegaan en ek het kop onderstebo geloop en konsentreer om te knyp. Meteens hoor ek 'n bekende stem: “Hi Gherhard, what are you doing here?” Brian Lochore, kaptein van die skitterende All Blacks van 1970, skud in die verbygaan blad en beduie dat hy buite wag. Charles, dit was vir my ’n aangename verrassing dat die man my na verloop van sewe jaar in ’n manstoilet in die vreemde herken het.

Buite het hy saam met nog ’n vriend van 1970 en 1976 se toerspanne op my gewag. Dit was die haker Tane Norton, ’n Maori wat ook die aand in Oos- Londen tydens mnr. Marais se verleentheid teenwoordig was. Jan en ek is summier genooi om die aand die geslote funksie vir die twee spanne en oudspelers by te woon. By die onthaalsaal is ons deur 'n frisgeboude beampte weggewys. Ag wat, ons het dit verstaan en 'n bier gaan bestel in die sit kamer. Tane Norton was hewig ontsteld toe hy op my afstorm en vra: “What did that fool at the door say to you? You come with me.” Hy was toe kaptein van die All Blacks. By die deur het hy die beampte se das ’n bietjie stywer om sy nek getrek met die woorde: "You must never again dare treat a South African friend of mine in this manner.” Binne het hy ons voorgestel aan sy vriend, die destydse eerste minister, mnr. Muldoon. Ek wou by hom weet hoekom hulle nie meer teen ons wil rugby speel nie. Sy antwoord: "My boy, there is nothing else we’d rather do, but you must remember this is a world of double standards.”

Na die funksie het heelwat dinge op my gewag. Ek is versoek om deel te neem aan ’n radioprogram. Ek sou oor die lug ondervra word deur ’n vraesteller wat in Wellington sit terwyl ek in die ateljee in Auckland op sy vrae antwoord. Daar was geleentheid om voordat ons op die lug gaan met hom oor die lyn te gesels. Hy het belowe dat die vrae suiwer oor rugby sal handel. Niks anders, en beslis nie vrae met ’n politieke strekking nie. Hy het begin deur te vertel met wie hy in sy program gesels. Hy het nogal meer besonderhede oor my verstrek as wat ek gedink het hy oor beskik. Dit was spitsluistertyd en ek kon aflei dat sy program baie gewild is. Na 'n lang inleiding groet hy en heet my welkom in “this great rugby country, New Zealand”. Toe kom sy eerste vraag: “Gerhard, apartheid in your country, tell me more about it.” Charles, hy het die wind uit my seile geneem. Ek is later deur heelwat rugbyvriende bedank vir my antwoord op die vraag: Friend, I think it’s a crying, bloody shame to be asked a question like that. I told you that I am no politician. Let’s talk about the great sport rugby in my great country."

Die wind was vir ’n oomblik uit sy seile. Ons het toe suiwer oor rugby gesels en ek het die onderhoud geniet.

Terug by die Three Lanterns Motel was daar vir my ’n telefoonoproep. Ek is versoek om, wanneer ek in Whangarei die wedstryd uitsaai, asseblief die lede van die Round Table tydens ’n middagete toe te spreek oor my land en sy rugby.

Eers het die uitsending van die derde toets op Carisbrook, Dunedin op my gewag. Dit was Saterdag 30 Julie. Dit was die koudste wat ek ooit gekry het.

Ek het hoog op 'n stellasie onder ’n seildak, in nat snerpende koue weer sit en uitsaai terwyl Jan Snyman in ’n behoorlike kommentaarhok onderkant my gesit het. Die kaptein van Nieu-Seeland was my vriend Tane Norton en Bill Bush was in die span. Hy was baie bly om van die Marais’s te hoor en ons het lekker gesels.

Ek het jou reeds vertel van die longontsteking wat ek opgedoen het wat my in Auckland terug in die bed laat beland het. Gelukkig het ek betyds herstel en was dit ’n baie interessante rit per bus wat ek en Jan gehad het na Whangarei vir my afspraak met die Round Tablers en die wedstryd tussen Noord-Auckland en die Leeus op 6 Augustus.

Dit was 'n baie moeilike toespraak. Dit het vir my gevoel asof ek nie tot die gehoor kon deurdring nie. Net Jan, wat in die voorste ry in die saaltjie gesit het, het die grappies wat ek tussendeur vertel het, geniet. Tog moes hulle my toespraak waardeer het want byna almal, selfs twee gaste uit Japan, het lydens die ete kom bladskud en dankie gesê.

Oral het ons groot rugbyspelers van die verlede raakgeloop en is oorweldig deur die mense se gasvryheid en kennis van Springbokrugby. Daar was byvoorbeeld die beroemde flank Waka Nathan wat nie genoeg kon praat oor ons eie Jan Ellis se wonderlike spel nie. ’n Ander een was die senter Ron Rangi wat vir die All Blacks teen John Gainsford gespeel het. Volgens hom was daar nie nog ’n senter soos John nie. Die beste voorbeeld wat ek kan noem van die gasvryheid waarmee ons oorval is, was toe ons na slegs een dag tydelike lede van ’n rugbyklub in Auckland gemaak is. Ons is die aand deur 'n vriendelike Joodse sakeman na die klub geneem. Hy het ons versoek om by die deur van die klubsaal 'n oomblik te wag totdat hy met die sekretaris gepraat het. 'n Vriendelike kêrel het die verhoog bestyg en die jolige klomp stilgemaak. “Friends, one moment please. There at the door are two South African rugby commentators. Let’s give them a real New Zealand welcome.” Dit was ’n groot ondervinding. Daar was omtrent nie een teenwoordig wat nie navraag gedoen het oor die een of ander Springbokrugbyspeler nie. By hulle is daar naas hulle All Blacks net een ander span en dit is die Springbokke.

Ná die wedstryd op Whangarei is ons na Rotorua waar die Leeus teen die Nieu-Seelandse kampioenspan van 1976, Bay of Plenty, gespeel het.

Die vierde en laaste toets was op 13 Augustus op Eden Park. Teen dié tyd het ek reeds besef dat dit nie werklik saak maak wie wen nie. Die rugby was deurgaans goed en lekker om uit te saai. My toer deur die mooi land het te gou ten einde geloop. Dit was ou vriende en nuwe vreemdes wat saak gemaak het en ek het swaar afskeid geneem die aand by die onthaal ná die toets. Dit was dieselfde man wat ons drie weke gelede nie wou inlaat sonder ’n kaartjie nie. Die keer het hy so aan sy das gevat-vat en ons met ’n bree glimlag welkom geheet. Hy het nie aangedring op toegangskaartjies nie.

Tot later,

Groete,

Gerhard.