Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Mense, dinge en briewe
Beste Charles,
Ek kan nie nalaat om jou te vertel van karakters wat deur die jare my pad gekruis het nie. Daar is ook gebeurtenisse in my veelbewoë lewe wat ek graag met jou wil deel.
Wat my die meeste deur die jare ontstel het, was die baie kere wat mense aan ander voorgegee het dat hulle my goed ken. Die stories wat hulle die wêreld ingestuur het, was gewoonlik tot my nadeel. Gelukkig het die stories met stertjies by vriende uitgekom en kon hulle gewoonlik die leuens ontbloot.
Jy sal onthou dat dit 'n goue reël was dat ons nooit voor ’n uitsending 'n drankie gemaak het nie. Die reël is streng nagekom en die rede was eenvoudig: Gestel iemand sou jou sien. Jy kon seker wees die stories sal die rondte doen dat jy onder die invloed was toe jy uitgesaai het.
Charles, jy het ook nie daarin geglo om jouself te probeer verdedig as een of ander ongure storie oor jouself jou ore bereik het nie. Beslis onder geen omstandighede oor die lug nie. Ek het die goeie raad van jou ter harte geneem en dit selfs vermy om iets goed wat van my gesê is, tydens ’n uitsending te noem.
In 1970, tydens die toets teen die All Blacks, het ek eerstehandse kennis opgedoen van die ontstaan en verspreiding van ’n storie. My gesin het kaartjies vir die wedstryd gehad. Lank voor die aanvang van die wedstryd het ek na die pawiljoen gestap om seker te maak dat hulle gemaklik is. Reg voor hulle het twee omies gesit. Onbekendes. Ek het ’n rukkie vertoef en moes toe na die volgende gesprek tussen die twee luister. Die een ou kyk om in die rigting van die kommentaarhokkies links agter hom en sê: “Ek wonder wie saai vandag uit.” Die ander ou: "Seker maar ou Gerhard Viviers.”
“Ken jy hom? Weet jy, die arme man drink mos nou so kwaai. Sy gesig is rooi en opgehewe.”
“Is dit so? Siestog. Ken jy hom?”
“Ja baie goed. Hy is so verlangs familie van die vrou. Ek wens iemand wil ernstig met hom praat.”
Dit is toe dat ek opgestaan het en aan my mense beduie het om te swyg. Ek tik die een wie se vrou so verlangs “familie” is op die skouer: “Verskoon my, Oom, maar is dit waar wat jy van ou Gerhard gesê het?”
“Ja vriend. Ek kry hom so jammer."
“Hel Oom, ek is net so jammer om dit te hoor. Ek belowe as ek hom raakloop sal ek hom ernstig aanspreek.”
Dit was met ’n breë glimlag dat ek op pad na die kommentaarhok Gerhard Viviers se maer gesig sonder 'n rooi skynsel in die manskleedkamer gaan bekyk het.
Charles, jy lag, maar dis die waarheid. Ek het lekker gelag vir die volgende voorval. Dit was nog voor die gesprek in die pawiljoen op Loftus. Ons was met vakansie in Margate. Daar is een ding wat ek verpes en dit is wat julle Engelse "window shopping” noem. Terwyl my mense daarmee besig was, het ek so 'n ent weg op hulle gewag. Nie ver van my af nie het twee manne staan en gesels. Kortbroek en sandale met lang kouse. Skielik sê die een: “Haai kyk, daar staan ou Gerhard Viviers.”
“Ag dis g’n hy nie. Ek ken hom. Hy’t so ’n skewe kakebeen.”
Ek hoor hoe hulle ’n weddenskap beklink en uit die kant van my oog sien ek die een wat my “ken” nader stap.
“Verskoon tog, maar is jy Gerhard Viviers?”
“Nee, Meneer. Maar ek ken hom. Hy het so 'n skewe kakebeen.”
Dit was vir hom ’n blye tyding en hy loop sy vriend storm. “Sien jy! Ou pappie, wat het ek jou gesê! Gee my bleddie R5.”
Daar was ’n keer of twee dat ek vir iemand anders aangesien is en dit het ek nogal geniet. Tydens 'n boksgeveg kom ek die Randse Stadion binne. Op pad na my kommentaarposisie langs die kryt word ek voorgekeer deur ’n man wat blykbaar sy kwota skemerkelkies oorskry het. Hy gesels sonder ophou en vertel my net hoe graag hy na my kommentaar luister. “Hoor hier, wag net 'n bietjie, daar kom my beste vriend aan; ek wil hom net graag aan jou voorstel.” Die vriend is ook in ’n baie gemoedelike bui. “Yes,” sê hy toe hy by ons aansluit. “Yes, ou Giel, hoes dit? Kom ek stel jou voor aan my vriend - Edwill van Aarde.” Baie beleefd en verbaas het ek net kon sê: “Aangename kennis, verskoon my asseblief ek moet gaan werk.”
Ek het stelling ingeneem en het kriewelrig gevoel oor die teenwoordigheid van iemand wat agter my stoel gehurk sit. Gelukkig het die geveg net twee rondtes geduur. Ek het teruggeskakel na die ateljee en toe word ek op die rug geslaan met die plathand. Dit was die vent wat tydens my kommentaar agter my gehurk het. “Hoe gaan dit ou Fanus, ek is so bly jy saai weer uit.” Nouja, ek het nie omgegee om met die bekende Fanus Rautenbach verwar te word nie.
Tydens die toer van die Franse rugbyspan in 1967 was Chick Henderson saam met my vir ’n uitsending in Kaapstad. Daantjie Saayman, bekende uitgewer, kom stel homself aan ons voor. Ek het al gehoor van hom maar hom nie geken nie.
Chick praat ’n baie goeie Frans en Daantjie glo vas hy is ’n Fransman. Ek haak ook sommer af en beduie aan ons gas dat hy die Franse kommentator by die span is. Daantjie trap in die strik. Hy vertel aan Chick met handgebare en ’n Engelse Fanagalo hoe 'n eenogige en partydige kommentator ek is. Ek swyg en Chick moedig hom aan om verder te vertel. Daantjie geniet elke oomblik. Ek sien nou nog die uitdrukking op sy gesig toe Chick in Afrikaans afhaak. “Ag Daantjie, jy praat nou loutere twak. Kom ek koop vir jou ’n drankie.” Hy wou hom eers vererg, maar moes aanvaar dat hy met slap pap onder 'n wip gevang was.
Toe Gerrie Coetzee in 1979 in Monte Carlo teen Leon Spinks geveg het, het ek die dag voor die geveg op ’n sypaadjie die wêreld sit en bekyk. Daar peil skielik ’n man met baadjie oor die arm en ’n groot papiersak onder die blad op my af. Hy plaas die papiersak en inhoud voor my op die tafel en sê in ’n baie vriendelike stem: “Hiert jou donner, ek soek al drie dae na jou. Ek is van Grootfontein in Suidwes-Afrika. Ek het vir jou biltong gebring.” Dit was gemsbokbiltong en die lekkerste wat ek ooit geproe het. Terug in Suid-Afrika kry ek ’n brief uit Grootfontein en ek wil graag daaruit aanhaal:
“Beste Gerhard, man ek het net begin skryf toe hulle my kom vertel ’n mamba het een van die koeie by die drinkplek gebyt. Ek gaan net gou kyk. Ja ek kom nou net terug. Dit is toe so. ’n Mamba het die koei gepik en sy het gevrek.” Dit was 'n lang, interessante brief wat hy afsluit met “baie groete, jou vriend soos altyd” en hy teken sy naam, Roelf. Tot vandag toe wonder ek nog wat sy van is.
In 1965, op Nuweland in Kaapstad het Graeme Pollock daardie sprankelende 209 lopies aangeteken. In die proses het hy ’n hakskeensening beseer. Toe hy kruppel ingestap kom, het ek oor die lug gesê ek kan nie sien dat hy in die tweede beurt weer lopies sal aanteken nie. Hy is uitgehaal vir vier lopies. Die brief wat ek hierna gekry het was met ’n bewerige hand geskryf:
“My liefste Gerhard,
Ek is 'n ou tante van 81. Ag my kind, ken jy dan nie die mag van die gesproke woord nie. Jy het Grahampie in die tweede beurt uitgepraat. Ek sal nooit weer na jou luister nie.” Sy teken Miemie Badenhorst en in hakies (tannie).
Toe ek in 1971 op Sydney-lughawe afstap vir die laaste rugbytoets van die Springbokke teen Australië, het 'n jong bruinman uit Suid-Afrika, Jonathan Rabie, hom aan my kom voorstel. Hy het aan my verduidelik dat sy moeder die Saterdag van die wedstryd verjaar. Die Poswese in Australië het geweier om enige pos van of na Suid-Afrika te hanteer. Hy het versoek dat ek asseblief sy gelukwensinge aan haar in my uitsending moet oordra. Terug in Suid- Afrika kry ek ’n brief wat die hartsnare geroer het:
“Liewe Gerhard,
Dankie vir die mooi wense van my seun Jonathan. Ek weet tog nie waarom neuk hy so rond nie want ek verlang na hom. Ek stuur vir jou ’n stukkie van die verjaardagkoek. Dit sal nou seker nie so lekker smaak soos winkelkoek nie maar ek het dit self gebak.” Sy het in haar brief voortgegaan en my al die nuus van haar tuisdorp, Worcester, vertel. Ja, ek het die pakkie ontvang, maar die inhoud was reeds muf. Dit het ek nie in my bedankingsbrief genoem nie.
My vriend, dit is dinge soos die wat ’n mens vir ewig, soos julle so mooi sê, kan “treasure".
Groetnis,
Gerhard.