CE Latsky
Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky
In die Goud Geval
ONS het 'n spreekwoord wat lui as iemand dit gelukkig tref: "Hy het in die botter geval." Nou wil ek vir julle 'n ware verhaal vertel van iemand wat nie in die botter nie, maar in die goud geval het.
In die begin van die vorige eeu is in dele van Kanada en Alaska goud ontdek en baie mense uit alle dele van die wêreld het na daardie streke gestroom om 'n fortuin te probeer maak.
Party het dit gelukkig getref, dog die meeste het slegter daarvan afgekom. Party van die wat wel daarin geslaag het om goud te kry, het hulle lewe verloor; miskien deur ontberings soos honger, dors en koors; andere weer is vermoor.
In die jaar 1911 was daar op een van die treine wat deur die goudgebied geloop het, 'n arm prospekteerder wat tot nog toe geen sukses gehad het in sy soektog na goud nie. Hierdie man was so brandarm dat hy stilletjies, sonder 'n kaartjie, op die trein geklim het, in die hoop dat hy nie uitgevind sou word alvorens hy die plek bereik het waar hy wou wees nie.
Maar helaas! Hy was slegs halfpad op reis toe die kondukteur onverwags op hom afkom, en hoe hy ook al smeek, kon die kondukteur niks anders as sy plig doen nie, en het by hom by die volgende stasie, Lakeshore, in Noordelike Ontario, van die trein laat afklim.Teen hierdie tyd was hy al dertien jaar besig om na goud te soek, en dit het gelyk asof alles teen hom was. Maar, inteendeel, die Here het oor hom gewaak, en dit juis so beskik dat hy daar moes afklim, want in Lakeshore was een van die rykste goudmyne in die hele land. En daar het hierdie arm man, wat daar sonder 'n bloue duit aangekom het, 'n goeie kleim vir hom uitgesoek en baie ryk geword.
Maar die mooiste deel van die verhaal is dat, nadat hy ryk geword het, hy daardie kondukteur wat hom op Lakeshore afgesit het, gaan opsoek het en hom hartlik bedank het dat hy met sulke goeie resultate sy plig gedoen het! En as tasbare bewys van sy dankbaarheid het by daardie man 'n lewenslange en genoegsame pensioen uitbetaal!
Wat 'n pragtige voorbeeld van dankbaarheid teenoor 'n medemens!
Ook lees ons dat hy £90,000 gegee het om 'n sekere hospitaal in Londen te hernieu.
Maar ook die pligsgetrouheid van daardie kondukteur bewonder ons. Dit sou so maklik gewees het om daardie arm man sonder 'n kaartjie te laat reis het ten koste van die Spoorweë, maar die kondukteur het gevoel dat hy 'n plig het om te vervul.
'n Mens moet vrygewig wees met wat jou eie is, maar jy mag nie met die eiendom van iemand anders vrygewig wees nie.
Deur sy skynbare hardheid het die kondukteur daardie prospekteerder die grootste guns van sy lewe bewys, en sy eie pligsgetrouheid is later wonderlik beloon.
Die Here verwag dat ons pligsgetrou sal wees. Dit wil nie sê dat ons in hierdie lewe reeds beloon sal word nie, maar eendag sal ons die Meester se stem hoor klink: "Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer!"