KINDERVERHALE (2)

CE Latsky

Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky

'n Ander Soort Wapen

AS 'n mens 'n versameling kon maak van al die treffende voorvalle uit die lewe van sendelinge deur die hele wêreld, sou dit sekerlik boekdele en boekdele beslaan. Elkeen van daardie sendelinge sou ook kon getuig van tye wanneer die Here op 'n baie besondere wyse vir hulle van gevaar bewaar het, of met 'n ingewing net die regte woorde in hulle mond gesit het, wat die situasie gered het. So lees ons van 'n Arminiaanse sendeling wat onder die wrede Koerde gewerk het.

Ongewapend loop hy eendag deur 'n verlate vallei. Skielik hoor hy: "Halt!" en van agter 'n rots kom daar 'n rower te voorskyn.

"Staan stil of jy is 'n dooie man! Wat soek jy hier?"

Onverwags klink dit: "Ek is hier om vir jou te soek!"

"Vir my? Wat op aarde wil jy dan met my maak?"

"Ek het vir jou 'n boodskap."

"'n Boodskap! Van wie?"

"Van God."

Die rower is verbaas. Onwillekeurig luister hy. Die Woord van God dring deur tot sy siel, en pleks dat hy die sendeling doodmaak, neem hy hom huis toe na sy dorpie om twee hele dae daar deur te bring. Op hierdie wyse kry die hele dorp toe die geleentheid om die evangelieboodskap te hoer.

Op pad daarvandaan dien daardie selfde rower as die sendeling se gids. Hulle ontmoet vyf ander rowers, almal gewapen. Die gids skrik hom asvaal en sit op loop. Maar met sy Bybel in sy hand, pyl die man van God reguit op hulle of met die woorde: "As iemand nou vir julle moet afneem, sal julle vir ewig daar staan met 'n mes, 'n swaard en 'n geweer in die hand — op die punt om ander mense om die lewe te bring. Maar hier in my hand het ek 'n ander soort swaard wat ook mag het om dood te maak, nie die liggame van mense nie, maar die sonde in hulle siel."

Weer het die Here die regte woorde gegee. Dit tref die  rowerbende geweldig en hulle luister aandagtig na die reddende boodskap van verlossing en vrede deur die bloed van Jesus Christus.

Daar is maar betreklik min van ons wat geroep word om in die vreemde uit te gaan as sendelinge. Maar elkeen wat homself 'n kind van God noem, is tog maar 'n sendeling op die lewenspad om die waarheid aan sy medemens te bring. Dit behoort ons doel te wees om die heerlikheid wat ons self smaak, aan andere bekend te maak. Maar dan moet ons ook bid vir genade en takt om dit op die regte wyse aan hulle mee te deel, sodat ons hulle nie afstoot in plaas van win nie.

Dit was 'n treffende gedagte wat die sendeling te binne geskiet het toe hy onverwags op die rower af gekom het — dat hy juis na hom soek!

Op die lewenspad word ons nie gewoonlik bedreig met letterlike swaarde en spiese nie, maar Satan is teen ons gewapen met allerhande versoekings. Hoe heerlik dan die wete dat die Woord van die Here soms 'n tweesnydende swaard is, wat enige wapen van die Bose kan weerstaan en vernietig!

"Staan stil of jy is 'n dooie man!"

Wat 'n ernstige gedagte dat daar 'n hemelse Afnemer is wat elke aksie sien en as't ware dit afneem! Hoe treurig tog om afgeneem te word in 'n oomblik wanneer ons besig is om aan iemand anders se lewe afbreuk te doen! Hoe heerlik as daar baie hemelse kiekies van ons is, waar ons vreugde en vrede, vriendskap en heil aan andere bring!