CE Latsky
Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky
Reddende Geloof
SOMS sê mense: "Ek wil graag aan Jesus behoort, maar ek weet nie hoe nie." As daar van julle is wat miskien begerig is om julle hartjie aan Jesus te gee, maar nie presies weet hoe om dit te doen nie, sal die volgende verhaaltjie dit vir julle verduidelik:
'n Sekere Sondagskoolonderwyser het eendag in sy klas met 'n horlosie in sy hande gestap. Hy gaan voor die eerste seun staan en sê: "Ek gee vir jou hierdie horlosie." Die seun was verstom en kyk die onderwyser vraend aan, maar hy maak geen beweging om dit te neem nie.
Toe gaan die onderwyser voor die tweede seun staan met dieselfde woorde: "Ek gee vir jou hierdie horlosie." Die seun word bloedrooi in die gesig, maar doen niks nie.
En so het die onderwyser voortgegaan tot hy byna aan die einde van die kinders gekom het, toe 'n klein knapie sy hand uitsteek en die horlosie neem.
Toe die onderwyser wegdraai en weer voor die klas gaan staan, vra die outjie: "Is hierdie horlosie werklik myne, meneer?"
"Ja, my kind," kom die versekering. "Die horlosie is joue."
Toe bars die storm los.
"Wat?" vra die ander seuns. "Bedoel meneer werklik dat hy die horlosie kan hou as sy eie?"
"Maar alte seker," was die antwoord."Ek het dit mos aangebied aan enigeen van julle wat dit net wou neem."
"As ek dit geweet het," roep een groot seun uit, "dan sou ek dit geneem het!"
"Maar ek het mos ges sê ek gee dit vir jou!"
"Ja, meneer, maar ek het nie geglo dat u dit opreg bedoel nie. Ek dag u maak maar 'n grap."
"Dis jou verlies," s sê die meester. "Daardie outjie het eenvoudig my woorde geglo en geneem wat ek aangebied het."
Reddende geloof is net so eenvoudig. As die Here sê dat Hy die wêreld so liefgehad het dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (Joh. 3 : 16), dan moet ons, as ons oortuig is dat Jesus die sonde van die wêreld weggeneem het, glo dat ons gered is. Ook sê die Bybel dat as ons ons sondes bely, Hy getrou en regverdig is om ons sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig (1 Joh. 1: 9) . As ons dus na Jesus kom met 'n ware besef van ons sondigheid en sê: "Here Jesus, ek is 'n sondaar, maar ek het berou oor my sondes; vergewe my, reinig my en neem my aan as U kind," dan moet ons glo dat Hy dit sal doen, want Hy is getrou en regverdig.
Jesus het alreeds vir ons sondes aan die kruis betaal en nou kom Hy na ons met die vrye gawe van vergifnis en verlossing. Al wat ons moet doen, is om ons hand uit te steek en dit aan te neem, soos die klein seuntjie in die Sondagskoolklas die horlosie geneem het. Die Here sê mos dat Hy iemand wat na Hom toe kom, sal verstoot nie maar ten volle sal aanneem. Steek dus net jou Hand uit en aanvaar sy vergifnis.