KINDERVERHALE (4)

CE Latsky

Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky

"EN DAN?"

TWEE vriende het eendag by 'n ryk man se pragtige landgoed verbygegaan. Die jongste van die twee kon homself nie bedwing nie en het uitgeroep: "Ag, as hierdie landgoed my eie was, sou ek myself die gelukkigste man op aarde ag!”

"En dan?" vra sy vriend.

"0, dan sou ek daardie ongerieflike ou huis afbreek en 'n pragtige paleis oprig. Ek sou gedurig kuiergaste hê, ek sou die beste soorte wyne aan hulle voorsit en sulke opregte perde en honde aanhou, soos 'n mens nie maklik elders sou aantref nie."

"En dan?" vra sy vriend weer.

"0, dan sal ek jag en perdry en rook en drink en dans en altyd gasvry wees en die lewe tenvolle geniet."

"En dan?" was nog steeds die vraag.

"Wel, ek veronderstel ek sal so stadigaan ouer begin word en later nie meer soveel omgee vir die dinge nie."

"En dan?"

"Ag," antwoord hy effens ongeduldig,  "ek sal seker maar later oud en sieklik word en op die ou end sterwe soos die lot van ale skepsels maar is."

"Ja, en dan?"

"Ag, hou tog nou op met jou 'En dan?'  Dit werk op my senuwees!"

Die twee vriende gaan toe uitmekaar en vir lange jare het hulle mekaar nie gesien nie.

Maar eendag ontmoet hulle tog weer mekaar en die jong man wat so begeer het om ryk te wees, roep opgewonde uit: "Baie dankie, my vriend. Die Here seën jou. Ek is aan jou dank verskuldig vir al my geluk."

"Waarom?" vra die ander een verras.

"Omdat jy eendag my aandag spesiaal op twee woordjies gevestig het."

"Watter twee woordjies?"

"Die twee woordjies 'En dan?' "            kom die antwoord.

Sy vriend herinner hom die voorval.

Daardie tydige vraag het in die jong man se gedagte gebly. Hy kon nie wegkom van die vraag, wat van hom sou word as hy eendag sy rykdom moes laat vaar en alleen die doodsvallei moes binnetree nie. Daardie twee woordjies het hom op 'n heeltemal ander denkwyse gebring. Hy het ingesien dat dit 'n mens niks baat om die hele wêreld te win en aan sy siel skade te ly nie.

Algaande het by besef dat ware geluk nie bestaan uit die vermeerdering van aardse besittings nie, want dit is verganklik. Slegs die Woord van God en wat Hy ons daarin leer, het ewige waarde.

As julle lewetjie nog nie aan Jesus toegewy is nie, vra vir julleself: "Wat wil ek nou eintlik uit die lewe haal?"  En as julle dan die antwoord daarop het, vra dan weer vir julself: "En dan .... ?"

Mag die Gees van God ook in julle harte werk deur hierdie eenvoudige vraag!  Mag Hy vir julle leer watter dinge in die lewe werklik die grootste en die belangrikste is en watter van minder belang is!