KINDERVERHALE (5)

CE Latsky

Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky

Die Vernielde Brug

DAAR word vertel dat daar een winter in Italië soveel sneeu geval het, gevolg deur skielike warm weer, dat daar groot oorstromings plaas, gevind het. Op hierdie wyse is die grootste gedeelte van die brug oor die rivier Adige weggespoel, behalwe die middelste deel. Op hierdie deel van die brug het die huis gestaan van die man wat die tolgeld vir die gebruik van die brug moes insamel. Hy en sy familie was dus vasgekeer op 'n soort eilandjie in die middel van die bruisende water, en dit het gelyk asof hulle sekerlik sou verdrink. Die skare mense wat op die oewers van die rivier saamgedrom het.

Daar is vertel hoe die wanhopige gesin hulle hande tevergeefs uitstrek en smeek om hulp. Elke nou en dan val daar nog 'n stukkie van die brug weg en dit sou nog net 'n rukkie duur voordat die hele brug inmekaarstort.

Een van die toeskouers was 'n ryk edelman. Hy was so bewoë oor die gewisse dood van hierdie ongelukkige gesin dat hy 'n beurs met honderd geldstukke daarin uithaal en aan die een belowe wat die moed sou hê om in 'n skuit oor die rivier te vaar en die verdoemde mense af te haal. Eers was daar geen antwoord nie, want die gevare daaraan verbonde, was van drieërlei aard: of die skuit kon deur die waters weggevoer word, of dit kon stukkend geslaan word teen die pilare, of die insittendes sou verpletter word deur die stukke van die brug wat gedurig nog afbreek en na benede stort.

Maar na tydjie kom daar 'n sterk boereseun verby. Spoedig het 'n aantal opgewonde toeskouers die posisie aan hom verduidelik en hom van die beloofde beloning vertel.

"Ek sal gaan," bied hy aan, en dadelik spring hy in 'n skuit en span al sy kragte in om die vaartuig tot onder die oorgeblewe stuk brug te bring. 'n Tou is aan die brug vasgeknoop en een vir een het die gesin veilig in die skuit geland.

"Hou maar goeie moed," roep hierdie dapper jongeling sy passasiers toe, "julle is nou-nou veilig!"

Dit het nou eers inspanning gekos om die skuit reg te hou en na die oewer te bring. Almal hou asem op, maar so gou soos die skuit binne bereik was, het sterk arms na die skuit gegryp, en hy en die hele gesin het veilig geland onder die dawerende gejuig van die skare.

"Jy is 'n dapper kêrel," roep die hertog uit. "Hier is jou beloning!"

Maar die jong man hou sy hande agter sy rug en sê: "Vir geld sou ek nie my lewe in die gevaar gestel het nie! Met my hande-arbeid verdien ek genoeg om myself en my huisgesin aan die gang te hou. Gee hierdie geld liewer aan hierdie arm gesin wat nou al hulle besittings verloor het."

Hoe edelmoedig was hierdie man nie! Barmhartigheid, wat tog maar sy oorsprong in liefde het, was die dryfveer tot sy daad. Hy het sy plig teenoor sy medemens gedoen, nie om geld daaruit te maak the, maar om kosbare lewes te red.

Dadelik spring hy in 'n skuit en span al sy kragte in .

Ook die edelman — hoewel die moed en liggaamlike kragte hom ontbreek - het sy geld aangebied om ander aan te spoor.

Alles wat ons het, behoort aan Hom — Hy wat sy lewe vir 'n verloregaande wêreld gegee het.