CE Latsky
Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky
Wie Ore het om te hoor
IN Mark. 4 : 9 lees ons die woorde wat hierbo aangehaal word. Daardeur, meen ons, wou Jesus te kenne gee dat as mense nie voordeel uit die Bybel trek of uit die preke wat hulle hoor nie, die fout eerder by hulle lê as by hulle verstand. Ons leer nie die lesse wat die Here aan ons wil leer nie —nie omdat ons nie kan nie, maar omdat ons nie wil nie.Daar was eenmaal 'n hoteleienaar wat aan drank verslaaf was. Hy wou nooit van die Bybel of van die Kerk hoor nie, maar hy was lief vir musiek, en toe hy eendag hoor dat die sang by 'n sekere kerk so besonder mooi is, besluit hy om een Sondag uit nuuskierigheid daarheen te gaan om die musiek te geniet. Maar hy was vasbeslote om nie een woord van die preek aan te hoor nie.
Hy neem toe plaas in die kerk en het die gesange en die koorstukke ten volle gehoor en geniet. Maar toe die predikant die Bybel oopslaan en die tekswoord lees, druk hy sy vingers diep in sy ore sodat hy geen enkele woord kon hoor nie.
Maar die Here laat nie met Horn speel nie. Hy is Heer oor alles, selfs oor die nietigste diertjies van die diereryk. Daar kom toe 'n vlieg en begin die godloënaar terg. Hy skud sy kop vinnig 'n paar maal om die lastige insek te verwyder, maar net verniet. Hy hou aan met sy tergery totdat die man ongeduldig een van sy vingers van sy oor verwyder en na die vlieg se kant toe kap met sy hand. Maar daardie een oomblik was genoeg vir die Here se doel met hom. Die leraar het net ernstig gepleit om tog belang te stel in die dinge van die Gees, en net in daardie oomblik gebruik hy hierdie uitdrukking: "Wie ore het om te hoor, laat hom hoor."
Hierdie sinnetjie bars soos 'n kanonskoot in die oor van die hoteleienaar. Dit dring deur tot sy hart en tot sy gewete. Hy kon nie weer die vinger in sy oor druk nie. Inteendeel trek hy toe die ander vinger ook uit die ander oor uit, en tot die einde van die preek het by aandagtig na elke woord geluister. Daardie preek was die keerpunt in sy lewe. Daarna is sy hele lewenswyse verander en het hy ernstig gesoek om die Here te dien en vir Hom te leef. Al die openbare sondes waarop by voorheen geroem het, het by laat staan en in alle ootmoed probeer om sy Redder en Saligmaker, Jesus Christus, te volg. Dit was dan ook nie net 'n tydelike verandering nie. Vir byna agtien jaar lank, tot die dag van sy dood, het by elke Sondag, d eur nwind en weer, daardie ses myl afgestap om by die kerkie te kom waar die Here vir hom met hierdie treffende woorde uit sy lang geestelike slaap wakker gemaak het.
Hierdie ware verhaal hou vir elkeen van ons 'n ernstige waarskuwing in. As ons Sondag vir Sondag in die kerk sit en niks daaruit kry nie, dan lê die skuld by ons en nie by die prediker nie. Die leraar is maar die mondstuk van die Woord van God, en as daardie Woord op dowe ore val, dan lê die fout by die ore en nie by die Woord nie.
As ons die Bybel lees en dit laat ons koud, as ons bid en ons ondervind, soos een van Shakespeare se karakters dit uitgedruk het, dat ons woorde nie hoër as die plafon styg nie, dan behoort ons diep bekommerd te wees oor ons sieletoestand. En as ons eers daardie bekommernis ondervind, laat ons God dank daarvoor, want dit is die eerste stap. 'n Mens gaan nie na 'n dokter tensy hy vermoed dat hy siek is nie. Die Here sal ons tegemoetkom en ons sal vind dat sy genade werklik genoeg is vir ons tot in lengte van dae.