KINDERVERHALE (8)

CE Latsky

Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky

'n Spotter kry sy Antwoord

TOE 'n sekere predikant eendag op reis was, moes hy een nag by 'n herberg oorbly. In die sitkamer ontmoet hy 'n jongkêrel wat hom onmiddellik uitnooi om 'n glasie brandewyn saam met hom te geniet.

"Nee, dankie," sê die predikant beleef, "ek is nie dors nie."

Toe vra die vreemdeling. "Drink u dan nooit anders as net wanneer u dors het nie?"

"Baie selde," antwoord die dominee.

"Dan," sêdie jong man ewe parmantig, "is u mos nes 'n dier. Want 'n dier drink net om sy dors te les."

"So?" was die antwoord. "Drink u dan ook op tye wanneer u nie dors is nie?"

"Ja, sekerlik! Dikwels."

"In daardie geval," sê die leraar kalm, "is u dan erger as 'n dier, juis omdat 'n dier net drink om sy dors te les."

Die jongkêrel besef dat hy aan die kortste ent is, maar hy probeer weer om die godsman te vertoorn.

”Ons sal nie langer daaroor gesels nie," sê hy, "maar ek kan sommer sien u is 'n predikant. Beskryf vir my die pad na die hemel, maar u moenie meer as drie sinne gebruik nie. Na meer as drie sinne sal ek nie luister nie!"

"Ek wens," sê die leraar met diepe erns, "dat u ernstig is met hierdie versoek. Maar ek sal dit doen, want dit is my plig. U het my bepaal tot drie sinnetjies. Daarom sal ek maar net noem wat die Bybel sê wat vir ons nodig is om in die hemel te kom.

”In die eerste: plek berou oor ons sonde, afkerigheid van sonde en 'n vaste voorneme om dit te laat staan, want in Lukas 13 : 3 staan daar duidelik dat tensy ons, ons bekeer, ons almal sal sterwe.

"In die tweede plek is nodig geloof, d.w.s. geloof in God's Woord en sy beloftes, en die gewilligheid om ons te onderwerp aan sy gesag, want volgens Mark. 16:16, sal hy wat nie glo nie, veroordeel word.

"Die derde en laaste vereiste is liefde wat vloei uit kennis van God en omgang met Hom, want 1 Kor. 16 : 22 lui: 'As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom 'n vervloeking wees'."

Hierop het die jongeling geen antwoord gehad nie en die kamer verlaat.

'n Hele tydjie daarna, toe die leraar eendag in sy tuin stap, het 'n perderuiter verby gekom. Toe hy die godsman sien, hou hy stil en vra: "Het ek nie vir u by so en so 'n herberg gesien nie?"

"Moontlik,” was die antwoord, onderwyl die dominee hom goed deurkyk en hom herken as die jong spotter en godloënaar van daardie aand.

Die jong man gryp sy hande en druk dit vas, onderwyl hy met nadruk sê:

"Ek sal daardie onderhoud met u nooit vergeet nie! Nee, nooit nie!" en sonder meer ry hy verder.

Hierdie antwoord van die dominee gee vir ons almal kort en bondig wat nodig is vir ons saligheid, nl.: Berou oor ons sondes, geloof in Jesus dat Hy werklik al ons sondes aan die kruis vir ons gedra het en liefde teenoor God vir wat Hy vir ons gedoen het en teenoor ons medemens uit dankbaarheid vir die groot weldaad aan ons bewys.