KINDERVERHALE (10)

CE Latsky

Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky

Die Rusie-duiwel

DIE dramas van daardie groot digter, Shakespeare, bevat baie kostelike lesse vir ons mense, as ons dit maar net wil raaksien.

Luister bietjie na die verhaal van sy baie mooi Romeo and Juliet.

In Verona, 'n stad in Italië, was daar twee families wat mekaar gehaat het. Net waar hulle mekaar raakloop, baklei hulle. Tot hulle bediendes het onder mekaar baklei om die eer van hulle base hoog te hou. Dinge het later so erg geword dat die prins tussenin moes kom en bevel gegee het dat die eerste een van die twee families Montague en Capulette, wat weer die vrede versteur, verban sou word.

Een aand gaan Romeo, 'n Montague, vir 'n grap vermom na 'n party van die Capulette-familie, waar hy smoorverlief raak op hul dogter, Juliet, en sy raak net so verlief op hom.

Daardie nag gaan hy stilletjies na die tuin onder haar venster en praat met haar. Hulle besluit toe dat hy reëlings sal tref vir 'n geheime huwelik en dat sy die volgende oggend om nege-uur 'n boodskapper sal stuur om alles te verneem.

Haar ou oppasster kom toe terug met die nuus dat sy om drie uur by die priester se sel moet wees om kastig te bieg maar dat die huwelik dan daar sou plaasvind.

Net na die geheime huwelik ontmoet Mercutio, die neef van Romeo, vir Tybalt, Juliet se neef, in die straat. Hulle val mekaar dadelik aan. Mercutio word gedood en Romeo word so woedend dat hy weer vir Tybalt doodsteek.

Die prins was woedend dat die getwis al weer uitgebreek het en verban vir Romeo. Daardie nag gaan hy eers stilletjies om vaarwel te sê aan sy bruid en toe moes hy wegvlug na Mantua.

Juliet was baie verdrietig hieroor, maar haar ouers het gemeen sy treur oor haar neef Tybalt se dood, en om haar op te beur, besluit hulle dat sy sommer die volgende Donderdag met ene Paris moet trou.

Dit was toe al Dinsdag. Toe Juliet weier, word haar vader baie kwaad. Sy vra toe vir die ou priester raad en hy gee vir haar 'n soort medisyne om die Woensdagnag te drink. Dit sou 'n skyndood oor haar bring wat twee en-veertig uur sou duur, en haar troudag sou dan die dag van haar begrafnis wees. Intussen sal vader Laurence 'n boodskap na Romeo stuur om stilletjies te kom, en as Juliet weer uit haar skyndood wakker word, sal hy en vader Laurence by wees en dan sal Romeo vir haar stilletjies saam met hom wegvoer na Mantua.

Ongelukkig het die priester se boodskapper 'n huis in Mantua binnegegaan waar 'n geval van pes was. Die stadsowerheid het hom toe daarin opgesluit om te verhoed dat hy die siekte verder versprei, en kon die priester se brief aan Romeo dus nie aflewer nie.

Intussen stuur Romeo sy lyfbediende terug na Verona vir nuus omtrent Juliet. Hy kom toe net op die "begrafnis" af en keer met die droewige tyding na sy heer terug.

Romeo koop toe sterk gif en gaan dadelik terug na Verona, wat hy dieselfde aand bereik waarin Juliet weer moet ontwaak. By die grafkelder vind hy die bedroefde Paris wat meen hy het gekom om die familiekelder van die Capulette, sy aartsvyande, te ontheilig. Hulle veg met swaarde en Paris word gedood. Romeo soen sy geliefde bruid vir oulaas vaarwel, drink die dodelike gif wat hy saamgebring het en val sterwende aan haar voete neer.

Juliet ontwaak net toe vader Laurence kom om haar weg te roep. Maar toe sy Romeo daar dood sien lê, weier sy om te gaan. Die priester gaan toe weg en Juliet steek haarself dood met 'n dolk wat sy in die geheim by haar gehad het.

Daardie selfde nag sterf ook die moeder van Romeo, wat siek geword het van kommer  en droefnis.

Deur hierdie verspotte twis, waarvan niemand eens meer die ontstaan kan onthou nie, is 'n hele aantal mense in die dood gedompel, en veelbelowende klomp  lewes lank voor hulle tyd kort gesny.

Daar by die grafkelder, op bevel van die prins, en ook omdat hulle eie harte die onsin en verkwisting  en die verwoesting van hulle gedrag ingesien het, het die twee vaders mekaar die hand gegee en vrede gemaak.

Dit was alles wel en mooi, maar dit kon nie vir Romeo en Juliet, of Mercutio en Tybalt, of Paris, of die gravin Montague weer die lewe teruggee nie. Die kwaad en ellende wat daardie rusie teweeg gebring het, was onherroeplik.

Kleinspan, pas op vir die rusieduiwel! Daar is tye in die lewe wanneer 'n mens jou man moet staan en moet veg vir reg en geregtigheid. Daar is tye wanneer 'n mens aangeval word en jouself moet verdedig. Maar wraak hoef ons nooit te neem nie. Die Here God sal self na ons belange kyk as ons sy kinders is. As iemand met ons rusie gemaak het, moet ons van ons kant af toesien dat dit nie verder gaan nie. Dit bly tog altyd waar dat dit twee mense neem om 'n rusie aan die gang te hou. As die een party nie deel wil neem nie, sal die rusie nie smaak kry nie.

Bid om genade om nie die laaste woord te wil hê nie, want in rusie is daar geen laaste woord nie.