KINDERVERHALE (11)

CE Latsky

Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky

Net Stukkies Papier

DAAR was eenmaal in Allehabad in Indië, 'n sekere dr. Corrie wat veldprediker vir die Britse troepe daar was. Die Indiërs daar was meestal Hindoes en dr. Corrie het dit as 'n groot jammerte beskou dat daar toe geen vertaling van die Bybel in Hindoestani was nie. Hy het dus die gewoonte aangekweek om treffende versies en gesegdes en geskiedenisse uit die Bybel op stukkies los papier in daardie taal te skrywe en dit dan by sy deur aan almal uit te deel wat daar verbykom.

Mettertyd is dr. Corrie van Allehabad verplaas. Twintig jaar daarna ontvang hy 'n brief van 'n sendeling uit Allahabad met hierdie verrassende tyding. Die sendeling sê dat hy onlangs 'n Hindoe gaan besoek het wat siek daar aangekom het om die laaste dae van sy lewe tussen vriende en familie deur te bring. Dit het geblyk dat hy vroeër daar gewoon het, maar hom vir die afgelope twintig jaar elders gevestig het.

Die sendeling was verbaas toe hy ontdek dat die Hindoe heelwat van die Heilige Skrif uit sy kop ken en vertroud is met 'n hele aantal Bybelverhale. Hy het ook blykbaar 'n goeie begrip gehad van die dinge van die gees en tog, toe die sendeling hom uitvra, ontken hy dat hy ooit in sy lewe 'n gesprek met 'n sendeling of iemand anders gevoer het wat hom die weg van die saligheid kon uitlê.

"Maar hoe is dit dan moontlik dat hy soveel weet van die Christelike geloof?" vra die sendeling.

As antwoord steek die siek man sy hand onder sy kopkussing en haal 'n aantal stukkies verflenterde papiertjies te voorskyn. 'n Mens kon sien dat hulle oor en oor gehanteer is, alhoewel hul sorgvuldig aan mekaar vasgemaak en goed bewaar is.

"Uit hierdie stukkies papier het ek my Saligmaker leer ken," verduidelik hy. "Twintig jaar gelede het Sahib Corrie hierdie papiertjies oggend vir oggend aan my gegee. Ek het hul dag vir dag gelees — daarom lyk hulle so — en uit hulle het daar vir my siel 'n lig opgegaan in die duisternis, en het ek Jesus, my Verlosser, gevind!"

Hierdie verhaal herinner ons aan wat die Bybel noem "die krag van die evangelie". Die Skrif sê dat die Woord van God skerper is as 'n tweesnydende swaard.

Dit is seker dat duisende mense al tot die lig gekom het, alleenlik deur die lees van die Woord van God.

As dr. Corrie se stukkies papier geen ander vrugte afgewerp het as net die bekering van hierdie een siel nie, dan was dit oor en oor die moeite werd wat hy hom getroos het om die vertalings in Hindoestani te maak.