CE Latsky
Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky
'n Hen-heldin
BAIEMAAL boor 'n mens van heldedade deur diere, maar dit is seker maar selde dat 'n hoenderhen die rol van heldin speel.
'n Sekere predikant het eenmaal met vakansie na 'n plaas gegaan. Hy was werksaam in 'n besige stad, en het die stilligheid en die vry, ope plaaslewe baie geniet ná al die gewoel van sy alledaagse omgewing. Hy was 'n ware sielesoeker en al was hy met vakansie, was hy nogtans gedurig op die uitkyk of daar nie iemand is wat hy vir sy Meester kon win nie. Baie gou het hy agtergekom dat die eienaar van die plaas nie 'n bekeerde man is nie. Hy het toe met hom ernstig gepraat oor sy sieleheil, maar tevergeefs. Die boer bly maar ongeêrg en word selfs kwaad, en vermy daarna die dominee se geselskap. Sy vrou was egter 'n kind van die Here, en het met die predikant oor haar man se onverskilligheid gepraat. Hy raai haar aan om maar aan te hou om vir hom te bid - dinge sal wel regkom.
Een oggend, kort voor die predikant weer sou vertrek, kom die boer haastig van die hoenderhokke of binne — hy is opgewonde oor iets wat hy daar gesien het. Hy vergeet skoon van sy skuheid vir die dominee en nooi hom om ook te kom kyk. By die hok gekom, wys hy die doniinee 'n hen wat op haar kuikens sit. Die predikant kon niks buitengewoons opmerk nie en vra toe:
"Wat is dit? Wat moet ek kyk?"
"Roer net aan die hen dominee."
Die dominee neem sy wandelstok en steek die hen so effens daarmee, maar sy bly doodstil sit. Sy beweeg glad nie.
"Sy is dood," sê die boer. "Kyk, dominee, 'n ongedierte het haar aan die kop gebyt en al haar bloed uitgesuig. Sy het maar stil bly sit en nie probeer wegkom nie, want sy was bang dat as sy roer, die dier haar kuikens sou raaksien en die ook doodmaak."
"A," sê die predikant dadelik, "wat 'n voorbeeld van wat Jesus vir ons gedoen het. Hy kon weggevlug het vir die dood, maar dan sou ons blootgestel gewees het aan die gevaar van die ewige verdoemenis en daarom wou Hy nie vlug nie. Toe Hy aan die kruis gehang het, het hulle Hom nog gespot en gesê dat Hy ander kon red, maar nie Homself nie. Dit is nie waar nie. Hy kon op 'n wonderbaarlike wyse selfs van die kruis afgekom het as Hy maar net wou. Maar Hy het verkies om daardie aaklige dood te sterwe sodat ons veilig onder sy vleuels kon bly, net soos hierdie hen."
Die dominee se woorde het die boer diep getref. Hierdie werklike beeld van die Here se lyding en dood met die doel om ons te red van die sonde en die dood, was vir hom eenmaal te veel. Sy harde hart het sag geword, en voor die predikant aan die einde van sy vakansie vertrek het, het hy die groot vreugde en voorreg geniet om aan die man die pad na die hemel duidelik te maak.