KINDERVERHALE (14)

CE Latsky

Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky

Die Oneerlike Bediende

EK wonder of julle weet hoe streng die wet 'n paar honderd jaar gelede was - anders as vandag waar polisie en  regeringslui met moord wegkom! Baie mense is opgehang weens diefstal, al was dit net een skaap wat hulle gesteel het. Baie ander is lewenslank na 'n vreemde land verban om daar as bandiete te werk omdat hulle 'n geringe dingetjie van die een of ander ryk, invloedryke man geneem het. Al het hulle gesteel om net aan die lewe te bly, is dit nie in ag geneem by die toepassing van die vonnis nie. In daardie tye was die wet die arm man se vyand en, nie sy vriend en beskermer nie.

In elk geval, ons word vertel van 'n sekere ryk man wat 'n bediende gehad het wat hom onder andere ook aan tafel moes bedien. Die ryk man was 'n godloënaar.

As hy gaste by hom aan tafel gehad het, moes die bediende menigmaal uit hul gesprekke aanhoor dat hulle hoegenaamd geen geloof gehad het in die Here of in sy Woord nie.

So het dit 'n bele ruk aangehou totdat die baas eendag sy bediende betrap het dat hy diefstal pleeg. Omdat die bediende sy baas jare lank getrou gedien het, was die man nogal so lankmoedig om hom nie dadelik aan die gereg oor te lewer nie, maar hy het hom eers uitgevra waarom by hierdie misstap begaan het.

"U het self die skuld daaraan, meneer,” antwoord die oneerlike bediende. "Ek was so gewoond daaraan om gedurig van u lippe en die lippe van u vriende te hoor dat daar geen God is wat ons verbied om sonde te doen nie, dat ek dit later begin glo het. En toe was dit net een stap verder om sulke dinge aan te vang."

"M aar," maak sy baas beswaar,  "jy weet tog goed dat jy vir hierdie misdaad opgehang kan word. Was jy dan nie bang dat as jy uitgevind word, jy die doodstraf sou moet ondergaan nie? Het die gedagte aan die doodvonnis jou nie afgeskrik nie?"

"Nee, meneer," antwoord die man. "Uit u mond het ek dag vir dag verneem dat daar geen God is nie, geen duiwel, geen hel en geen straf vir ons sondes in die ewigheid nie. As ek dan nie langer n vrees vir die ewigheid het nie, hoe sal ek dan vrees wat die mens aan my liggaam kan doen? As ek die meerdere vryspring, hoe sal ek dan ag gee aan die mindere teregstelling?"

Hierdie verhaal bevat 'n baie ernstige gedagte vir ons almal.

Maar, Goddank, ons regverdige God is ook 'n God van liefde. As ons 'n oomblikkie nadink, dan besef ons beter hoe oneindig daardie liefde is wat gewillig was om selfs vir ons sondes te sterwe. Laat ons Jesus Christus aanneem as ons persoonlike Verlosser.

Nog net een ernstige gedagte: Laat ons nooit so ligsinnig voor ander mense praat dat hulle onder die indruk kom dat die Here nie die sonde raaksien nie. As hulle daardie vrese van die Here verloor wat die Bybel die begin van die wysheid noem, dan het ons die skuld daaraan, en sal ons eendag daarvoor verantwoording moet doen. Laat ons tog nooit ander mense se geloof afbreek nie: bou dit liewer op.