KINDERVERHALE (15)

CE Latsky

Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky

Die Heilige Beker

IN die Middeleeue, d.w.s. tussen die jare 500 en 1500, was daar in die verskillende Europese lande mense wat Ridders genoem was. Hulle was van adellike afkoms en het rondgegaan om met hul swaard en hul sterk regterarm veronregtes gelyk te gee. Hulle het veral graag skone dames gered wat in die mag van bose persone geval het; en as hulle daarna weer aan die een of ander toernooi deelneem, dan het hulle 'n stuk lint van daardie dame gekry om as liefdesknoop te dra om vir hulle geluk te bring in die wedstryd.

Die hele stelsel was uiters interessant. Die seuns van die adel het reeds, as knapies van twaalf, dertien jaar aan die hof van die een of ander beroemde ridder as boodskappertjie en sleepdraertjie vir die vrou van die kasteel diens gedoen.

Intussen het die jong seun geleer perdry en om met die verskillende wapens van die dag te veg. Later het hy dan as wapendraer rondgegaan met sy heer en uiteindelik self ridder geword.

Eers moes hy 'n hele nag deur die wag hou by die altaar van 'n eensame kerk. Vroeg die volgende dag het sy heer dan gekom, en as hy die toets van die eensame nag goed deurstaan het, gebied sy heer om voor hom te kniel. Hy word dan op die met die plat kant van die swaard geslaan woorde: "Ek heet u Ridder. Staan op sir Lancelot! " (of wat sy naam ook al mag wees)

Maar behalwe die reddingsavonture wat hierdie ridders gesoek het, was daar nog iets waarna die eerste gestreef het, en dit was om die heilige beker te vind waaruit die Here Jesus by sy laaste avondmaal die wyn vir die dissipels geskink het.

So lees ons van 'n sekere ridder wat ook vol hoop en moed in sy jong dae uitgegaan het om die heilige Nagmaalsbeker te soek. Vir jare en jare het by sy soektog voortgesit. Oor berge en deur dale, oor riviere en see het by gereis, baie vreemde lande het hy besoek en allerhande wedervaringe het hom te beurt geval, maar nêrens kon hy die heilige beker vind nie.

Uiteindelik—moeg, teleurgesteld en verouderd— het hy sy pad huis toe gekies. Toe hy alreeds sy eie kasteel in die verte kon sien, kom hy meteens op 'n gewone man af wat in 'n sloot lê en rondkruip van pyn. Die barmhartige ridder spring dadelik van sy perd af en gaan na die man toe om te sien wat hy vir hom kan doen. Hierdie slagoffer van die rowers was nie 'n edelman nie, maar 'n gewone boerkêrel, arm en verflenterd.  Maar die ridder dink nie daaraan dat dit benede sy waardigheid is om iets vir hierdie man te doen nie. O nee! Hy haas hom na die naaste huisie en leen 'n ou erdebeker om vir die man daarin water te gee.

Hy dink nie eens aan die heilige beker nie — maar kyk, net toe by die beker na die gewonde man se lippe bring, verander dit vir 'n oomblik in 'n glinsterende drinkbeker, en oombliklik verstaan die ridder dat alhoewel die eintlike heilige Nagmaalsbeker verlore is, die geringste liefdediens deur die Here verheerlik word. Soos. Jesus self gesê het: "En elkeen wat een van hierdie kleintjies net 'n beker koue water laat drink, omdat hy 'n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie."