KINDERVERHALE (16)

CE Latsky

Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky

Eerlikbeid Beloon

AS daar 'n Christelike deug is wat meer verwaarloos word as ander, dan is dit sekerlik eerlikheid. Die meeste mense is eerlik in sover dat hulle nie steel of moedswillig dinge sal vertel wat nooit gebeur het nie. Maar hulle sal dit as 'n goeie grap beskou as hulle byvoorbeeld verniet met die trein kan ry sonder om uitgevind te word, en hulle sal maklik 'n "wit leuen" vertel om uit moelikheid te kom.

Jan was 'n kantoorseun wat by 'n groot handelsfirma in diens was. Dikwels is hy afgestuur dokke toe met briewe vir een of ander skeepskaptein in verband met handelsware wat die firma ingevoer het.

Eendag laat die hoof van die firma hom roep en sê:

"Jan, ek kan dit nie alles vir jou uitlê nie, maar een van die klerke was agtelosig en het gister nooit vir jou 'n brief gegee na 'n sekere kaptein nie. Die gevolg is dat ons firma nou 'n verlies van ongeveer £10,000 sal ly. Maar as jy in die hof sal sê dat jy wel so 'n brief afgelewer het, sal die skeepsmaatskappy daarvoor moet opdok, en ons spring vry. Sal jy dit doen?"

"Meneer," sê Jan aarselend, "ek is baie jammer, maar ek kan dit nie doen nie. Dit sou 'n volslae leuen wees want ek het nooit so 'n brief gehad om te gee nie."

Eers pleit sy baas by hom. Later dreig hy hom dat hy sy werk sal verloor as hy dit nie doen nie.

Maar Jan hou vol: 'n Leuen kan hy nie vertel nie, al kos dit hom ook wat.

Maar die baas het nog altyd gehoop dat hy tog op die ou einde sou voldoen aan sy bevele. Toe die saak voor die hof kom, laat hy vir Jan ook in die getuiebank verskyn en sy advokaat vra vir Jan:

"Jan, op so en so 'n dag het jy mos 'n brief aan kaptein K— afgegee, nie waar nie?"

"Nee, meneer," is die besliste antwoord.

Die firma se advokaat is heeltemal dronkgeslaan. Sonder daardie stukkie bevestigende getuienis het hy geen saak nie. Die regter gee toe 'n gunstige uitspraak ten voordele van die skeepsmaatskappy, en die firma is £10,000 armer.

Arme Jan voel byna nie asof hy hom weer na sy werkplek durf begewe nie. Maar, dink hy, hy is mos nog nie ontslaan nie en moet dus die termyn uitwerk waarvoor hy gehuur is. Hy sit by sy lessenaar en sy kop hang. Hy is te verdrietig om iemand in die oë te kyk. Die firma was vir hom altyd goed, en hy wou hulle so goed gedien het.  Het hulle maar net nie die een ding van hom geëis wat hy onmoontlik nie kon doen nie, nl. om 'n leuen te vertel.

"Die hoof wil jou spreek," klink dit meteens. Met bewende knieë gaan hy na die hoof se private kantoor.

Toe by binnekom, wat sal hy opmerk? Geen afkeurende blik nie, maar 'n aanmoedigende glimlag!

"Jan, my seun, ek staan beskaamd voor jou vandag en wil ekskuus vra dat ek van jou geëis het om 'n leuen te vertel. Die firma het wel £10,000 verloor, maar het vandag ontsettend meer gewen want dit het die bewys gelewer van 'n absoluut eerlike en opregte dienaar. Met 'n werknemer soos jy is hierdie firma baie meer werd as die verlies aan die £10,000. Pleks dat jy jou pos verloor, kry jy verhoging!"

Wat 'n mooi beloning vir sy eerlikheid!

Maar al werk dit ook the altyd so mooi uit nie, Hy wat die Waarheid is, sal eendag vir ons sê: "Mooi so, goeie en getroue dienskneg!"