KINDERVERHALE (18) (SLOT)

CE Latsky

Lees reeks by Kinderverhale van CE Latsky

"Binne ons bereik"

Drie kort verhaaltjies:

EENDAG kom daar 'n besoeker in die huis van 'n baie eenvoudige paartjie. Wat was hy verwonderd om te sien daar hang aan die muur in 'n raam 'n banknoot van taamlike hoë waarde. Hy vra om dit te sien en toe hulle dit afhaal en nader gee, merk hy op dat dit 'n banknoot van 'n vreemde land is, maar wel een wat uitgeruil en gebruik kan word."Waar kom u daaraan?" wil hy weet.

"O meneer," antwoord hulle, "in die oorlog het 'n gewonde man eendag hier aangesukkel gekom. Ons het hom ingeneem, verpleeg en versorg. Hy was baie dankbaar, veral daar hy een van die vyand was, en toe die vrede gesluit word en hy weggaan, het hy vir ons hierdie mooi ou prentjie gegee;  ons bêre dit as 'n aandenkinkie van hom.

Dit was nie eens nodig nie, want ons sal hom nooit vergeet nie. Ons het dit toe maar geraam en hier opgehang."

"Maar weet u die waarde daarvan?" vra die besoeker, en verduidelik toe aan hulle dat hulle die banknoot na 'n bank kan neem en 'n aansienlike klomp geld daarvoor kan trek.

***

'n Ander kort verhaaltjie lui so:

Daar was eenmaal twee vriende; die een was 'n predikant, die ander 'n miljoenêr en 'n ongelowige daarby. Toe hulle eendag op straat loop en gesels, sê die miljoenêr, wat sy geld uit die vervaardiging van seep gemaak het: "Wat help al die godsdiens van mense soos jy? Die wêreld bly tog maar vol sonde en ongeregtigheid!"

Die predikant was te verstandig om met hom te redeneer. Hy bly maar stil, maar 'n kort tydjie daarna kom sy kans weer om iets te sê. Hulle kom op 'n seuntjie af wat in 'n modderige watersloot aan die kant van die straat speel. Hande, gesig en klere, om nie te praat van die ou beentjies nie, was die ene modder! Die ou knapie het dit nou regtig geniet.

"Kyk, my vriend," sê die predikant met 'n ondeunde laggie, "wat help al die seep wat jy maak? Daar bly tog maar nog baie vuil mense en vulis in die wêreld!"

"Maar," roep die miljoenêr verontwaardig uit, ,"dis nie die skuld van die seep nie! Dit word maar net nie gebruik nie!"

***

Dan het ons die verhaaltjie van die ou smid wat siek geword het van naby die warm vuur staan en dan in die koue buitelug gaan. Sy vrou het aangehou hy moet dokter toe, en eindelik willig hy toe in. Die dokter gee hom toe 'n voorskrif vir medisyne, die man betaal die dokter en die apteker maak die medisyne aan en word ook betaal — en toe laat die ou man die bottel ongebruik  op 'n rak staan!

Toe sy vrou vra waarom hy tog nie die medisyne probeer nie, sê hy:  "Ek het die dokter betaal, want hy moet lewe; ek het die apteker die voorskrif laat opmaak en betaal, want hy moet lewe; en nou laat ek die goed net so staan, want ek moet ook lewe!"

***

Laat ons nou die gedagte in hierdie drie staaltjies in 'n geestelike lig sien: die genadegawe van ons Heiland, nl. vergifnis van ons sondes, is binne die bereik van ons almal: net soos daardie ou paartjie die banknoot gehad het; seep so goedkoop is dat almal skoon kan wees, en die oubaas die bottel medisyne by hom gehad het. Maar in elkeen van hierdie gevalle het dit die mense niks gebaat nie omdat hulle dit nie gebruik het nie. Jesus het alreeds die prys van ons verlossing betaal met sy eie dierbaar bloed, maar terwyl dit waar is dat niemand wat na Hom toe kom, uitgewerp sal word nie, is dit ook waar dat net diegene wat na Hom kom, verlos sal en kan word. Die gawe moet gebruik word om iets te kan beteken.

Uit die drie verhaaltjies blyk dat daar om verskillende redes nie van die noot, die seep, en die medisyne gebruik gemaak is nie. Die mense met die geraamde banknoot het nie die waarde geweet van wat hulle het nie. Dit was in hulle geval onkunde. Maar die vuil seuntjie en die smid het verkies om dit nie te gebruik nie. Die seuntjie het dit te veel geniet in die modder —net soos baie mense die vuil sonde geniet — en dan is baie mense ook nes die smid — bang om Christen te word, want hulle meen hulle sal te veel plesier moet prysgee, terwyl hulle vergeet dat algehele vreugde en bevrediging alleenlik by Jesus te vinde is.

EINDE