Nog gedigte by Gedigte
Dit is tog jammer dat daar destyds, heel vroeër en ook na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog, só min aandag aan die skrywers van gedigte bestee is dat talle gedigte, veral dié wat onder skuilname geskryf is, vandag nie by die skrywer tuisgebring kan word nie. Een destydse redakteur onder die skuilnaam 'Oom Jan' het die situasie so verwoord:
Wie het kon dink dat Afrika
ooit soveel digters had?
Gedigte kom nog daagliks aan:
hier's weer 'n volle blad!
En van talle hiervan was die skrywer onbekend, soos ook hierdie pragtige patriotiese gedig:
REPUBLIKEIN
Ons hys nou weer ons vaders vlag!
Verpletter ons deur julle krag,
verniel, vertrap ons arme land,
bring julle dwing'landy tot stand,
verbreek, verskeur ons Vryheidsband,
haal neer nou weer ons vaders vlag,
vermorsel ons deur julle mag;
die Reg sal altyd lewend bly,
ons gaan nou vir die nakroos stry.
Heel Afrika word eens nog vry,
en dan sal ons oorwinnaars bly.