Nog gedigte by Gedigte
H A Fagan se mooi gedig verskyn in Die Huisgenoot van 29 Augustus 1947:
Daar’s ‘n ritme in die skepping, soos die soete melodie
van ‘n statige en Godgewyde psalm,
wat met wiss’lende akkoorde in volmaakte harmonie
deur die sale van die ewigheid weergalm,
daar’s ‘n skadu as die sonlig op ons val,
en die lewe sing ‘n beurtsang met die dood en met die rou
in die grote simfonie van die heelal.
Daar’s ‘n ritme in ons lewe, soos dit kom en soos dit gaan,
soos ons wandel in ons wel en in ons wee,
in ons leed en ons geluk, ons immer wiss’lende bestaan,
soos die deining en die golwing van die see.
In die kore van die eeue is ‘n plek vir iedereen,
en ons weet daar is ‘n Meester wat dit lei,
en ons voeg ons by die ritme, en ons stemme smelt ineen
in die nimmer-nimmer-eindigende rei.